Posted by: mykopop | Sondag 20 Januarie 2008

Opwenkrag (2)

pro-series-950Verwys asseblief terug na die eerste Opwenkrag vir die naam!

Lyk my Eskom het vir my en almal nou al goed opgewen. ‘n Paar dae voor nuwejaar het ek ‘n 2.5 kVA kragopwekker gekoop. Mens kan seker nou sê ek was versiende, maar kortsigtig oor waar ek dit gekoop het en die fabrikaat. Dit was ‘n Faraday, so ‘n gele, by Makro. Later meer daaroor, maar ek het hom terguggevat en my geld teruggevra

Gister was ek by ‘n handelaar in grassnyers om iets anders te gaan koop. Dis tipies die plek waar ek liewer my kragopwekker wil koop. Maar hulle verkoopsmanne was so besig met mense wat opwekkers wil koop dat ek omtrent nie met hulle kon praat nie. Van die eenhede op die vloer was ook reeds verkoop en dan het hulle nie nog voorraad van daardie modelle gehad nie. Hulle het ‘n baie oulike Briggs & Stratton, wat vir my van kleins af ‘n bekende naam is, vir R4600. (Alhoewel, ons ou buurman wat so ‘n waterpomp gehad het, gesê het B&S staan vir Breek-en-Staan.) Hy het nie ‘n elektriese aansitter nie en kan so 2000 Watt konstant lewer. Dis regtig vir my bietjie duur, dit lyk my die pryse loop so rondom ‘n R1000 vir 1000 Watt. Ek verwag om bietjie meer vir kwaliteit te betaal, maar darem nie meer as dubbel nie.

Gisternamiddag was ons by Builders Warehouse, waar 3 weke gelede baie opwekkers gestaan het. Daar was omtrent niks, net beskadigde eenhede wat teruggekom het. Al wat wel beskikbaar was, was ‘n klein draagbare Ryobi van omtrent 600 of 650 Watt, vir R1200. Ek wou hom nie graag koop nie omdat dit ‘n tweeslagenjin het, andersinds sou ek graag ‘n Ryobi koop omdat ek die kettingsaag, ook met ‘n tweeslagenjin het, wat darem al meer as ‘n jaar werk Daarna was ons weer by Makro, daar was geen enkele kragopwekker nie.

Vanmôre kom ons toe by Hyperama en ek besluit om weer te kyk, want ‘n paar weke gelede het hulle ‘n Pro Series gehad, waarvan die 2.5 kVA meganies omtrent presies dieselfde as die Faraday gelyk het, behalwe dat dit nie ‘n elektriese aansitter gehad het nie. Daar was niks meer van die 2.5 kVA of 5 kVA oor nie, maar van die meneertjie hier bo op die foto was daar baie op die rak. Dis nou die Pro Series LT950. Hy lewer so 800 Watt en is ook ‘n tweeslag. (Vir die wat nie weet nie, in so ‘n enjin gooi jy spesiale tweeslagolie by die petrol, hy het nie ‘n oliebak soos ‘n gewone enjin nie. Dis absoluut kritiek dat die olie in die petrol moet wees. Dit word in ‘n verhouding van 1:50 gemeng.) Ek besluit toe om maar een te koop vir die ergste kragnood, terwyl ek my soektog na ‘n ordentike opwekker voortsit.

By die huis gekom het ek gou die boekie uitgehaal om uit te vind watter petrol dit gebruik – hy gebruik loodvry, waarvan ek gelukkig nog in ‘n kan gehad het vir die Faraday. Tweeslagolie hou ek gelukkig aan vir die kettingsaag. Ek was onmiddelik meer beindruk met die masjientjie en die boekie as met die Faraday so ek voersien toe nie probleme nie, meng die olie en petrol en gooi in. Ek behoort nie probleme te hê om hom te ‘start nie – ek het mos met enjins grootgeword.

Ek doen toe alles soos wat hulle sê. Maak die kraantjie oop. (Veronderstel mos hy was toe vir die verskeping, en kan die nie onmiddelik in die boekie kry nie.) Sit die aan/af skakelaar op ‘1’ en ‘choke’ die ‘choke’. En trek die tou. En al wat opgewen raak is ek. Nou onthou ek in die ou dae het die ooms altyd gevra. Is daar vuur? Is daar petrol? Ek draai toe die vonkprop uit, koppel weer die draad aan hom en sit sy buitekant teen die metaal neer en trek die tou. Daar is vuur!

Intussen moet ek sê het ek darem ‘n mooi skaapribbetjie in die goedkoop kettelbraaitjie ook gehad. Om te verhoed dat hy brand, het ek hom eers op foelie gebraai, net voor hy heel klaar is haal ek die foelie uit dat hy darem nou meer na regte braaivlies lyk. So het hy gelyk terwyl hy nog op die foelie was:

rib-op-foelie

Met die laaste beentjies goed afgekou, is ek terug na die opwekkertjie. Hierdie keer kom ek darem in die boekie agter ek het die kraantjie verkeerd. Ek trek en trek, maar ek raak nog meer opgewen en hy sê nie eens poek-poek nie. Later lees ek weer die boekie en kom op bl. 2 af op die sinnetjie: Please check that there is petrol on (sic) the carburetor by opening the drain skrew. Daar is geen prentjie wat wys waar dit is nie. Ek kry hom toe hier, jammer die foto is baie dof:

drain-screw

Daar is so ‘n klein metaalkoppietjie, soos daardie glasie wat oupa se waterpomp se enjin gehad het. Ek draai hom toe uit, maar geen petrol nie. Onder aan die koppiejie is nog ‘n boutjie en ek haal hom ook uit. Die koppietjie kom uit met rubberring en al. Daar hang die vlotterkleppie toe, maar al werk ek hom op en af kom daar geen petrol uit nie. Toe sien ek die probleem. So lyk hy:

omhulsel

Dis ‘n gevlegte omhulsel om die rubber-petrolpypie. Natuurlik was hulle te suinig vir die, en vir die pypie so hy is te kort en die omhulsel veroorsaak dat die pypie knak. Ek verwyder toe die omhulsel, sit die pypie terug, en maak die kraantjie oop. Ja, petrol stroom by die vlotterklep uit! Sit die koppie inderhaas terug. Trek die tou, en met die tweede trek is die kragopwekkertjie opgewen! Ek vermoed ek sal nie weer gou probleme met hom hê nie, hy vat omtrent elke keer met die eerste trekke. Ek kan net die volgende wenke gee. As hy koud is ‘choke’ hom heeltemaal wanneer jy die tou heel uitgetrek het, hou hom eers daar want as jy hom onmiddelik los skop hy die enjin bietjie terug en hy vrek weer. Maar terselfdertyd moet jy die ‘choke’ onmiddelik reguleer om hom aan die gang te hou, dan stoot jy hom heel regs. Beter as julle twee is. En as hy warm geloop is, moenie choke nie.

Ek het hom getoets met ‘n elektriese boor van 450 Watt. Die brandstoptoevoer word outomaties gereguleer na gelang van die las en die spoed skommel so bietjie wanneer ek die boor aan of af sit.

Eskom! Wanneer sit julle nou weer ‘n slag my krag af man!

N.S. ====> Die handleiding is eintlik relatief goed, die meeste inligting is selfs in Afrikaans ook beskikbaar. Maar op bl. 12 het ek darem die volgende sinnetjie gekry: 1. Bdfor starting, shake the fukl tank. !!! (Seker om te hoor or daar iets in is of nie!)

****************

Oor die Faraday kragopwekker wat ek moes terugneem

Hy was ‘n 2.5 kVA, met elektriese aansitter en “AVR” nogal, dit alles vir R2499. Ongelukkig het hy net die eerste dag gevat en wou die volgende dag niks weet nie. Ek het vasgestel daar kom geen vonk by die vonkprop uit nie. Ongelukkig was die verskaffer op daardie oomblik toe.

Die mense by Makro kon niks vir my doen nie en ek het besluit ek sien nie kans vir hierdie tipe ondersteuning nie. Ek sal liewer bietjie meer betaal by ‘n kleiner handelaar wat probleempies vir my by sy winkel kan oplos.Na die vakansietyd het ek Faraday ook al geskakel en e-pos gestuur, maar kon hulle nog nie kontak nie. (http://www.faraday.co.za ) Ek was bereid om dieselfde eenheid weer by hulle te koop as hulle my kon sê wat fout was, en my verseker dat ek binne ‘n dag iewers hulp kan kry.


Responses

  1. Dit is nou baie interessant. Met al die drama die afgelope week het ek baie gewonder oor generators en hoe die goed werk. Wat kan jy alles operate met jou nuwe generator? Soos in hoeveel ligte, appliances en so aan. Ek wonder al heel week hoe groot die Volksblad se generator moet wees om hierdie kasarm van `n gebou(e) van elektrisiteit te voorsien. Klink my hy is darem nou gefix.

  2. O ja, oor jou kommentaar oor die Steve storie en sensasie. Ek sal bietjie `n post skryf oor sensasie en koerante wat my mening reflekteer. Maar ek waardeer jou comment en stem saam met jou. Die ding is net, as Steve die Huisgenoot nader vir só `n storie gaan hulle dit nie weier nie. Ek hoor hy beweer hulle angle op die storie is bog maar ek wonder steeds wat het hy verwag as hy sulke goed aanvang. Ai toggie…

  3. Corli, interessant genoeg het die boekie van die opwekkertjie ook nog ‘n lysie in van tipies hoeveel krag elke toestel gebruik. Gewoonlik is die verbruik van elke toestel agter op hom geskryf, of in die handleiding of die karton. Mens kan selfs winkels toe gaan en gaan kyk wat gebruik ‘n soortgelyke toestel.

    Ek sou sê met hierdie masjientjie behoort mens ‘n TV en indien nodig ‘n satelietdekodeerder ook aan die gang te kan hou, dan gebruik jy nog nie eens die helfte nie. Voeg daarby ‘n paar lae-energie gloeilampies en ek wonder of jy dan al by die helfte is. As jy ‘n gewone (ouerige) rekenaar het, behoort jy hom ook nog te kan bysit. Mens moet maar net altyd die reël gehoorsaam om nooit die opwekker aan of af te sit terwyl die toestelle gekoppel is nie. Vir die rekenaar sal ek ook aanbeveel jy gebruik ‘n UPS tussen die opwekker en die rekenaar. Die groot probleem is maar met hierdie klein opwekkertjies dat jy alles elke keer met verlengkoorde moet opkoppel.

  4. Geniet jou kragopwekker… ons het altyd op die plaas een gehad… sal nou glad nie onthou watter soort nie… dis mos “manne” goete…🙂

  5. “Regte braaivlies”

    Lol. Dit was beslis ribbetjie.

  6. Dankie, ek het dit nou baie insiggewend gevind. Ek sal baie ernstig hierdie opsie moet oorweeg, dis elke keer my beurt vir beurtkrag op die tye wat die besigste is! Ek kan nie so aan poer-poer nie!😦

  7. Het jy gesê poer-poer Dellie?! He he he, sonder ‘n enjin gaan jy juis nie poer-poer nie! Grappies op ‘n stokkie, vir jou opleidingssentrum sal jy seker ‘n heelwat groter een moet kry, verkieslik met AVR, ek hoop jou rekenaars is almal reeds op UPS.

  8. Problems with Faraday Generator.Phoned Bruce from Faraday at 12-20pm on 2/04/08 problem solved at 13-00hrs on same day.Hows that for service!!!!
    WELL DONE FARADAY

  9. Hallo Koos Burger, ek hoop jy verstaan my antwoord in Afrikaans. Die feit dat ek die nommer op hulle webwerf knaend gebel en geen antwoord gekry het nie, was seker maar omdat ek in die eerste week van Januarie onmiddelike diens verlang het.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: