Posted by: mykopop | Vrydag 18 Januarie 2008

Opwenkrag

opwenflitsKyk, een ding kan jy lyk my van ons ou volkie sê: Ons is optimiste. Ek hou mos graag hierdie soekenjin-terme dop waarmee mense by my uitgekom het. ‘n Paar dae gelede het iemand die volgende twee woorde ingetik: “opwen krag”. Op hierdie stadium weet ons almal duidelik waar die ou vandaan kom!

Ongelukkig is die hoeveelheid elektrisiteit wat jy met die hand met ‘n slinger kan opwek maar min. Ek het eenkeer, dis seker nou so twee jaar terug, by iemand ‘n netjiese opwenflitsie gesien en toe self een begin soek. Op daardie stadium was hulle nog nie so volop nie, maar na ‘n paar maande het ek darem hierdie geletjie by ‘n handelaar in boumateriaal raakgeloop. Dis eintlik ‘n 4-in-een. Dis ‘n flits, ‘n paniek-alarm, ‘n radio en hy het ook ‘n plekkie waar jy ‘n kabel kan inprop om ‘n selfoon te laai. Hoeveel tyd en geld jy sal moet spandeer om daardie kabeltjie vir jou spesifieke selfoon te kry weet ek nie. Die radio begin hik en proes as jy ophou om die slinger te draai, en die alarm is ook maar sag en nie vir my juis ‘n pluspunt nie. Dus is dit maar net vir my ‘n flits, en daarvoor werk hy goed, jy moet maar net elke kort-kort opwen. Deesdae kry jy baie van hulle by handelaars in kampeertoerusting, en jy kry ook ander wat mens skud in plaas van opwen.

Ek het eintlik verwag dat hy ‘n veer sou in hê, wat stadig afloop en met ratte ‘n dinamo aandryf wat vir jou krag opwerk. Dis toe nie so nie. Die slinger wat jy draai dryf ‘n dinamo aan (met ratte neem ek aan), wat ‘n stelletjie herlaaibare battery in die flitsie laai. Dus moet jy maar verwag dat daardie batterye ook en of ander tyd gaan klaar raak. Dis nie die verwyderware batterye soos in ‘n kamera nie, hulle is vasgesoldeer.

Ons almal word deur die konsep van beurtkrag geraak. Of is dit ons almal? Iemand het vir my gesê hulle bediende sê in haar woongebied word die krag nooi afgesit nie. Ek sal nie weet nie – ons glo al jare nie meer in die konsep van bediendes nie.

Mens wil tog darem nog aanhou met jou dinge waarmee jy besig is. Solank die kragonderbrekings ‘n uur en ‘n half of twee ure is kan mens darem nog deurkom met jou yskas en vrieskas. Maar dan is daar darem dinge wat mens graag wil doen, soos TV kyk en op jou rekenaar werk.

Daarvoor het ek onlangs gegaan en ‘n 2.5 kVA kragopwekker gaan koop. Groot was die opgewondenheid, maar ek moes eers SAE 40 olie vir hom soek en ‘n kannetjie kry vir petrol, toe “start” ons hom. Tevrede dat hy werk, het ek hom afgesit. Die volgende dag wil ek darem net weer sien, maar nie, hy wil niks weet nie. Ek het die keuse gehad om my geld terug te kry of hom te laat herstel en ses weke te wag. Ek het my geld gekies en soek nou maar weer.

Intussen het ek darem hierdie outjie:

omsetter

Dis ‘n omsettertjie wat 12 Volt gelykstroom omskakel na 240 Volt wisselstroom. Hy kan so 300 Watt lewer. ‘n Gemiddelde TV-stel het minder as 100 Watt nodig en ek dink ‘n satelliet-dekodeerder ook. Die prop wat by ‘n sigaretaanstekersok inprop, het ek self aangesit, maar ek dink jy kan dalk omsetters kry wat dit reeds aan het.

Ons het vannaand twintig oor ses ‘n kragonderbreking gekry. Gelukkig was ons kos net mooi gaar. Ek het hom gou in die garage in die motor ingeprop en van daar af ‘n verlengkoord afgerol tot by die TV en dekodeerder. Ek het die garagedeur effens opgelig en die motor ‘n rukkie laat luier en by die eerste advertensie afgeskakel Ons het 7 de Laan gekyk en darem so die hoofnuus. Toe het ons die TV afgesit tot net voor die weer. Ek het toe weer ‘n paar minute die motor laat luier en weer afgesit. Mens moet maar pasop dat jy nie die motor se battery so pap maak dat jy nie môre kan ry ne. Ons het Noot-vir-Noot so gekyk tot die krag tien voor ag weer aangekom het. As jy so ‘n omsetter wil soek op die internet, dit word in Engels ‘n “inverter” genoem.

Onthou net, as jy die motor in die garage laat luier, maak die garagedeur oop, want die koolstofmonoksied in die uitlaatgas is giftig. As jy ‘n elektriese garagedeur het, is dit in elk geval tyd dat jy leer hoe om hom oop te maak as daar nie krag is nie.

garagedeur-hefboom

Hierdie foto wys hoe my garagedeur oopgemaak kan word. Die rooi pyltjie wys na ‘n hefboom wat jy na regs (op die foto) moet oordruk. Dan vat jy die pyp, waar die blou pyltjie wys, en lig die deur op. Jy moet natuurlik binne-in die garage wees, dus onthou om sleutels by jou te dra sodat jy kan inkom, nie net die afstandbeheer van die garagedeur nie.


Responses

  1. Hier waar ons bly, het ons ‘n garage, maar meer vir stoorplek en die garage deur werk nie… te oud! en hy het glad nie eens ‘n meganisme soos die “moderne” garages nie…weet nie wat hierdie Engelse hier doen nie…😉 soms dink ek…laat ek maar niks se nie.. lol!

  2. Ek en iemand anders het toevallig vanmore die gesprek gehad oor omskakelaars of dan nou “inverters”. Dit kos heelwat goedkoper as ‘n kragopwekker en is meer rekenaarvriendelik. Daar is groter modelle omskakelaars beskikbaar wat motorbatterye laai gedurende tye wat krag wel beskikbaar is, of sonpanele gebruik indien daar geen krag is nie. Die gelaaide batterye voorsien dan 12V krag aan die omskakelaar van dit dan omskakel in 240V. Hoeveel toerusting en hoe lank jy krag het hang dan af van hoeveel batterye jou stelsel bevat.

    Ons het die mense gebel wat sulke stelsels voorsien en ‘n boodskap gelaat. Hulle is so besig dat die vroegste wat iemand ons kan terugbel is volgende week Dinsdag. Indien die koste nie buitensporig is nie, is dit dalk ‘n alternatief om te oorweeg

  3. […] DDS(DIY), Eskom, Kos, Tegnologie — mykopop @ 18:41 Verwys asseblief terug na die eerste Opwenkrag vir die […]

  4. Ja, so het Eskom ons almal tot nuwe ervarings gelei. Eintlik moet ons vir hulle dankie sê maar omdat ons hulle in elk geval betaal, of daar krag is of nie, is dit hulle werk om ons te dien !. Dit is my eerste besoek aan ‘n Blog en ek vind jou stories genotvol en interessant. Sal weer kom loer. My blog is http://leoncroukamp.wordpress.com Ek is nog nuut in die speletjie en sukkel nog met baie dinge. Sal seker op ‘n tydstip bykom. Groete, Leonc

  5. Welkom Leon Croucamp, ek sal kyk hoe lyk dit daar by jou. Ook toevallig het ek gisteraand iemand se naam op Google ingetik en by ‘n sekere webwerf uitgekom, en raai wat, daar is ‘n verband! Ek sal jou e-pos.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: