Posted by: mykopop | Donderdag 17 Januarie 2008

Ons sien kans vir Onseepkans

Dit lyk vir my asof my vrou en twee dogters dalk sal kans sien om op ‘n plekkie soos Onseepkans te gaan woon! Om jouself te kan oriënteer t.o.v. Upington en Namibië, hier is ‘n kaart. Die een rede hoekom ek graag Onseepkans wou sien, is omdat ek gehoor het dat nadat George Weideman se pa, wat vir my skool gehou het, daarna op Onseepkans gaan woon het. Ek lees nou dat hy al vroëer ‘n erf daar gehad het, dus was dit seker maar heel tyd in sy besit. George gebruik ook die naam Onseepkans in sy gedigte. Die ander rede is dat my pa, toe ek in die hoërskool was, belang gestel het in ‘n plaas by Onseepkans wat vir my lekker wild geklink het – net wat ‘n seun van 15 of 16 se hart begeer.

Van Pofadder af loop ‘n grondpad van so 60 km reguit Onseepkans toe. Die pad is maar sleg, as jy dit wil vermy, daar is ‘n beter pad, waarmee ons terug is Kakamas toe, dit kan jou so 60 km ekstra kos. Die omgewing is vir my pragtig.

Vir die kinders wat al gehoor het van ‘n motorhek, maar hom nog nooit gesien het nie, dis hy daardie in die pad. Aan die linkerkant is ‘n gewone hek wat oopgemaak kan word om vee deur te jaag. Aan die regterkant tussen twee sementpilare, is ‘n rooster van ysterstawe met ‘n gat daaronder – die vee sal nie daaroor loop nie. Dus hoef mens nie stil te hou om hekke oop te maak nie, en elke boer se vee bly in sy eie kamp. As daar twee motors van weerskante aankom, moet die een wat laaste nader aan die hek kom natuurlik eers stilhou en wag.

Hier is nog ‘n motorhek, amper so ‘n halwe skelm een. Ai, ek wens ek kon net daar bly!

Iewers langs die pad het ons ‘n afdraai na Skuitklip gekry. George Weideman skryf ook in sy bundel ‘n gedig ‘Uit my bladsak’, wat so begin:

Ek draf my draf by Skuitklip verby
en skeer my skaap in die Boesmanland
en voor jy weer vir my kom kry
pluk ek die mooiste blom in Namakwaland

Plek-plek lyk dit of die pad eindeloos voor jou uitstrek.

…maar as jy nou nie te veel stop om jou aan die landskap te verwonder en foto’s te neem nie, kom jy een of ander tyd by Onseepkans aan. Ons het regoor die polisiekantoor (regs buite die foto) gestop. Voor kan die grenspos na Namibië gesien word. Jy sal dalk op die foto moet kliek om dit in detail te kan sien.

Onseepkans se polisiestasie.

Toe het ons die pad gevat wat regs draai by die polisiestasie, om bietjie die besproeiingskema ta bekyk.

‘n Entjie verder het ons by hierdie plek gekom wat lyk of hulle bootritte op die rivier aanbied. Eintlik het ek hierdie foto met die terugkom spesiaal vir Skoorbek geneem. Skoorbek, dit lyk darem nie of die Toyota die Landrover gestoot het tot waar hy lê nie! Net regs van die hek, agter die heining lê nog een.

Op die bord staan: Gravity Adventures – Red Rock Camp, 021 683 3693.

Toe ons die eerste keer by Red Rock Camp verby kom, was die hek oop, die huis se deure oop, maar nie ‘n mens in sig nie. By die deur van ‘n klein buitegeboutjie het ons die versameling diere aangetref: ‘n hoenderhaan, ‘n stuk of drie katte en ‘n werpsel klein hondjies, almal in harmonie met mekaar.

Een van die hondjies kon sy vaak nie meer uithou in die hitte nie.

Landerye, waar ‘n paar stuks bees wei. Die bome anderkant die lande is op die walle van die Oranjerivier, en anderkant die rivier kan die koppies van Namibië gesien word.

‘n Sluis in die kanaal.

Ek lees dat Mnr. Japie Lutz die kanaal gebou het. Die naam lui beslis ‘n klokkie, ek dink hy was dalk ook betrokke by die aanlê van die besproeiingskema waar ek grootgeword het, ‘n goeie 200 km rivier op.

Op hierdie plek, waar die pad om die koppie gaan, is die kanaal aan die een kant, en die rivier aan die ander kant.

Dis vir my pragtig waar die rivier oor rotse loop. Namibiê wink daar anderkant…

Terwyl ons iewers na die landerye staan en kyk het, hiet hierdie voël hom op die paal kom tuismaak. Ek dink dis ‘n slanghalsvoël.

Daar is groot wingerde onder haelnette.

Op pad terug, net ‘n entjie uit Onseepkans, draai ‘n ander pad links om weer by die N14 na Kakamas aan te sluit. Dis ‘n baie beter pad, dis ook so 60 km (waarvan net die helfte grond) en sluit so 60 km van Pofadder by die N14 aan. Die N14 en die twee paaie na Onseepkans vorm dus so ‘n driehoek met sye van ongeveer 60 km.

Die regering kom ‘ienspek’ seker nooit hierdie deel van hulle land nie – hulle het hierdie bord bietjie vergeet – hy sê nog: Suidwes-Afrika!

Langs hierdie pad het ons ‘n groot kokerboomwoud gekry. Kenhardt se kokerboomwoud steek bietjie af teen hierdie een. Die bome in die verte is ongelukkig nie so mooi sigbaar op die foto nie.

Een van die kokerbome van naderby.

>

Ongelukkig, die laaste herinnering aan hierdie ervaring was om te sien hoe die aarde oopgeskeur word – vir graniet.

Lucas Maree: My kiekies is bewyse, van die feit dat ek ook daar was…


Responses

  1. Het ek jou nognie vertel nie: die eerste voertuig ooit in ‘n ‘scrapyard’ was ‘n Landy – hy het die Toyota ingesleep!

    Die dinamika van jou foto is heel sigbaar, maar laat ek dit vir jou duidelik maak:

    Daai is ou Landies, reg? Hulle het hulself vrek gesleep aan die hope dooie Toyotas. Die Toyotas se hele bestaan, bakwerke, onderstelle, bande, het al alles verweer in daardie genadelose omgewing, en die Landies is ‘n stille bewys dat daar eens op ‘n tyd harde werk verrig is…

    Groetnis!

  2. He he he, Skoor! Natuurlik onthou ek daardie stelling vnn jou oor die scrapyard, dit was onmiddelik in my gedagtes toe ek die twee Landies sien lê het. Ek het gister ‘n ou Landy sien staan by ‘n plek wat tweedehandse voertuie verkoop en sommer met my selfoon afgeneem, ek sal vir jou stuur.

  3. Mykopop,
    hoe lyk die sterre daar in die aand??
    Jy kan seker spoorsny met die nuwe maan sonder om ‘n toon te stamp…

  4. Ek is vandag in die interessante posissie om ‘n Series 1 (Vrijheid 1), ‘n Series 2 (klient s’n) en ‘n Series 3 (Vrijheid 3) rondom my te sien staan.

    Vreemd, maar waar.

    mms sommer daai prentjie, sal jou my nommer netnou epos.

  5. Jou kiekies is pragtige bewyse…..ons land van uiterstes is PRAGTIG!!!
    Dankie vir die mooi fotos!:)

  6. Jasper ons het ongelukkig nie die aand daar gepandeer nie, maar ek ken die sterre by Kenhardt. Ek glo dit sal ongelooflik wees as mens bietjie van die rivier wegkom, met druiwepakstore ens. is elektrisiteit besig om elke uithoek in te dring. Miskien help Eskom ons in die verband!

  7. Ek sal daar gaan bly sonder om twee keer te dink.

  8. Pragtige foto’s weereens! Tronelle het so baie van Onseepkans gepraat!Nou weet ek hoe dit lyk!😉

  9. […] A very good friend of mine lives in that part of the country too. The towns are VERY small. Click HERE to visit Onseepkans, Pofadder, Springbok…all places very near the border of […]

  10. hi jong, dit was nou vir my i vooreg om die fotos van onseepkans te sien. my pa is afkomstig van daai plek hy is eintlik daar gebore. ek was daar toe ek nog maar net ses jaar oud was, maar glo my ek kan nou nog myself sien speel langs die oranje rivier. is daar enige iemand wat dalk i paar fotos van die kleurling gebied het/ van die hut huisies ens.? my pa is nou al tien jaar oorlede en ek is alreeds 39 jaar oud. ek is in die kaap woonagtig en wil graag i trippie daai kant van die wereld toe vat. net een probleem,my vrou kan nie eers die hutte in die kaap vat nie. wat nog te se van onseepkans se hutte.

  11. Ai, nou verlang ek so baie na die ou lekker dae. Ek is gebore in Onseepkans in 1961. My oupa en ouma Kolie Lotz en van sy seuns Jannie, Wikkie en ook Nico het almal erwe langs die rivier gehad. Die lekkerste waatlemoene en spanspek wat ek in my hele lewe geproe het, het ons hier as kinders ge-eet.
    My Ma en Pa(Hennie en Minnie Franken) het ook daar gewoon en het ook erwe gehad. Die plek is baie vervalle nou, maar een ding is verseker – ek sien ook kans vir ONSEEPKANS. George Weideman se pa het wel skool gehou op Onseepkans. Die koppie voor my oupa hulle se huis, was ons berg glyplank. Ons het kartonne gevat en sand opgedra, dit dan uitgegooi en dan vinnig op die karton gespring en af gegly. Het menigte male pak gekry want ons klere het baie male maar in die slag gebly. Dankie vir die pragtige foto’s.

    • Dit was goeie ou dae my ouers het daar gebly en ek ken die plek se waatlemoene en warmte. My pa het die beste en lekkerste waatlemoene gehad. Mense het van heinde en ver gekom om alwyn se waatlemoene te koop. Dit was in groot aanvraag. Hy was die waatlemoenkoning v onseepkans. Dit was goue jare gewees wat net een maal in jou lewe verskyn.

  12. hoe@! baie interesant! wil ook gaan kyk hoe dit daar lyk
    mooi

  13. die kanale en sluise is mooi en koel

    laat my dink on die storie Le chateau de ma mere … my mother’s castle

  14. EK SAL NIE OMGEE OM EENDAG DAAR AF TE TREE NIE. OF AS EK EENDAG MET DIE GEREG BOTS EN HULLE SOEK MY,DAN SAL DIT NOGAL DIE IDIALE WEGSTEEK PLEK WEES. NIEMAND SAL DINK OM MY DAAR TE SOEK NIE. LOL!!! HOE LEKKER LAG EK NOU. MOENIE IDEES KRY NIE MENSE LOL!!!!

  15. Billy, kyk weer mooi! Die eerste 6 foto’s is geneem op pad soontoe en net so met die aankom daar. Die volgende foto is die eerste ‘feature’ van Onseepkans wat jy sien: DIE POLISIESTASIE!

  16. O BLIKSEM!! NOU HET EK NIE EERS I PLAN B NIE. LOL!!!!!

  17. Hallo Almal
    My oupa, Pieter Coetzee het plot no 1 besit en ek het in 1959 daar by hom gekuier, toe ek 10 jaar was. Hy het die mees wonderlike bekendstelling aan die lewe vir my gegee daar en die heerlikste Navals (lemoene) nog ooit. Ek faks graag my verhaal, soos opgeteken in my “Memoirs” vir enigiemand wat belangstel. Pieter Meyer 082 776 3348 of e-mail meyerpjj@mweb.co.za

  18. Wchodzę sobie na forum, a tu taki ciekawy wątek. Fajne macie podejście do niektórych spraw. Jak dobrze, że ludzie są tak różnorodni, w przeciwnym razie umarlibyśmy z nudów.

    Deb0308 – Dobyr case:


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: