Posted by: mykopop | Dinsdag 15 Januarie 2008

Pella lê ‘n kruistog ver (2)

pella-kruistog-voorSoos ek gister al gesê het, ek het al ‘n hele klompie jare hierdie digbundel van George Weideman, en dit is een van my gunstelinge. Ek het ook genoem dat ek ‘n effense verbintenis met hom het. Die verbintenis is dat sy pa vir my skool gehou het, en dat ons vroeër in dieselfde dorp, Springbok, gewoon het en daar ‘n bietjie kontak met mekaar gehad het.

Ek is in Springbok gebore en ons het daar gebly tot ek 5 was. My ouers vertel dat Ou-meneer Weideman toe daar skoolgehou het. Ons het in Bergstraat teen die koppie gebly, tussen ons huis en die ouetehuis was ‘n stukkie veld. Daar het George glo vir my en my broer wat ‘n jaar en ‘n half ouer as ek is stories vertel. Een van my onderwysers het later gesê ek het aan die voete van ‘n Gamaliël gesit. Dit kan seker ook letterlik die geval wees, maar ongelukkig kan ek niks daarvan onthou nie. Ek weet ook nie hoe oud ek was nie, maar George kon nie ouer as 16 gewees het nie, want hy is 11 jaar ouer as ek. Ek lees nou dat hy sy eie skoolkoerant bedryf het toe hy 13 was.

Selfs die vlinders op die voorblad van die boek het vir my groot betekenis, want dis tipies van sy pa, soos ek hom onthou toe hy so 4 of 5 jaar later vir my skoolgehou het in St. 2 of 3. Dit was by ‘n laerskooltjie so 70 km uit Upington, langs die Oranjerivier. Hy het allerhande goeters gehad en gedoen. Hy het bv. sy eie guillotine in die klaskamer gehad en nog ‘n paar goed wat sy eiendom was, wat ek nie kan onthou nie. Hy het ons bv. geleer om boeke te bind en hoe hom ‘n trom te maak deur ‘n vel oor ‘n drommetjie te span. Hy kon klavier speel en het uit daardie skooltjie, waar die leerlingtal gewissel het tussen 86 en 106 ‘n koor afgerig wat by ‘n kooraand in Upington, uit al die skole, staande toegejuig is.

Ek het iewers ‘n lysie van musiek wat ek by Ou-meneer Weideman geleer ken het, o.a. die Elizabeth-serenade en ook La Montanara, waarvan ek vandag nog party van die Italiaanse woorde ken, sonder dat ek iets daarvan verstaan. Hy het beslis ‘n groot rol gespeel in die ontwikkeling van my liefde vir musiek.

Hierdie inskrywing is eintlik veronderstel om te gaan oor die boek! Die boek is ‘n keuse uit sy digbundels:

  • Hondegaloppie (1966)
  • As die son kliplangs spring (1969)
  • Klein manifes van ‘n reisiger (1970)
  • Hoera hoera die ysman (1977)
  • Uit hierdie grys verblyf (1987)

Ek kan nie uitvind of hy na 1987 nog gedig het nie. Ek sou wat wou gee om die 5 bundels almal te hê, so as een van julle enige daarvan kan kry, laat my weet. Ek troos myself daaraan dat hy seker die bestes sou gekies het en dat dit wat weggelaat is dalk nie regtig die moeite werd is nie.

Seker die bekendste gedig van hom, wat hierin opgeneem is, is deur Louis van Rensburg getoonset en as ‘n liedjie bekend gemaak. Die einste lam na wie Roer se Fiets vernoem is!

Soverby se lam (“Bella Boklam”)

Bella is ‘n bielie van ‘n boklam

sy’t Grootrivier se bloed in haar

Soms is sy stil, soms is sy kwaai,

Boeta, speel haar tog sag met jou kitaar.

…en die laaste versie:

Bella is ‘n bielie van ‘n boklam,

sy’s mooi gespeen, sy’s slank van skeen.

sy sal melk hê, broer, glo vir my

– sy’s die mooiste lam op Soverby!

Daar is een gedig wat vir myself besondere betekenis het, omdat dit oor sy pa gaan. Dit bestaan uit 7 dele van 16 reëls elk. Die titel is latyn vir “Man the smith” of “Man the maker”. Ek gaan enkele lyntjies aanhaal:

HOMO FABER

portret van ‘n alchemis in sy werkplek

vir Floris Johannes Weideman

(16.2.1903 – 23.5.1986)

1. (wyding)

aan pa se werkplaas durf ek my verstom:

hier kon hy hom so volledig terugtrek

2. (interieur)

aan vreemde vorme: deurgesaagde stamme:

waaruit pa my leer van groei: van voorjaars-

vreude en kromvingerseer

…maar pa trek ‘n stofjas aan

of dit ‘n py is, heilige en klaas.

3. (transmutasie)

…bestudeer

die grein, knak die lampgewrig en laat lig

soos witgoud deur die werkplaas kaats. fluweel

van lig wat die warboel met midasvingers

raak…

4. (feniks)

tussen duim en duim oor die saagvlym stuur

pa die peerboommik; totdat delikaat

twee helftes vlammend op sy handpalms val

… ‘n vlinder wat vrygelaat

word uit die winterslaap…

5. (konjunktief)

maar oom fanie sê jy wil mos nou

van kak ‘n preekstoel maak, steek pa praaimus

op en lag wysneuserig in sy mou.

6. (sublimasie)

wat vergaan kon word teen die ouderdom

vragte onvoltooide take wat vreug

en frustrasie bring; hier ‘n keteltrom

wat bespan moet word, daar ‘n afoor kat

van porselein..

7. (slot)

uit hierdie grys verblyf durf ‘n feniks kom

met skuurpapier – totdat die goudbruin glans

rondom die vlamme lê, dan word die lyf

ligweg tussen die vlerke ingeskuif

pa, weliswaar gehawender, triomfantlik

uit die hoogoond. hy laat die vlinder vry.

Ek vind dikwels die voorwoorde van sulke versamelbundels net so interessant as die materiaal self. In hierdie geval het Weideman nie ‘n voorwoord nie, maar wel ‘n stuk van 8 bladsye aan die einde wat hy noem

KRUISTOG – ‘n Agternawoord oor my verhouding met die digkuns

Hy begin so:

Skryf het iets van die besetenheid van die Middeleeuse kruistogte. In plaas daarvan om – soos die pous destyds – ‘n soort heilige oorlog te verklaar vir die herwinning van die Christelike geestesgoed en kulturele artefakte, probeer die digter die woordwildernis verower…

Hy skryf verder aan:

Die onherhaalbaarheid van veral die Namakwalandse natuur was in elk geval veel opwindender as die Heidelbergse kategismus of die ouderling se vermanende vinger. Ek onthou nog hoe geskok die goeie oom was toe ons op die vraag der vrae – “Het jy sekerheid?” (dit wil sê in die geloof) – moes antwoord en ek eerlik gesê het dat ek nie weet nie. ‘n Gedig is steeds vir my die vraag op die antwoord wat die goeie oom wou gehad het.

Een van sy gedigte, wat hy omtrent in dieselfde tyd, op die jeugdige ouderdom, geskryf het, “Boesmanland, Jan. 1965” sluit vir my treffend hierby aan:

Melkbos stoot sy vingers stil

na God uit; kokerboom en vingerpol

gryp oorgretig elke wolk

wat oor die rantjies loer; kelkiewyn

huil verdrietig as die wolkie verder rol.

Wat is God? Kokerboom en vingerpol

kantel stilweg in die stof;

melkbos is al hoeka dood –

maar iewers waar die dassies pis

blom ‘n sambreeltjie duiwelsbrood

Daar is nog baie in die agternawoord, veral oor sy pa wat hy beskryf as ‘n alchemis, soos ek hom ook onthou, maar ek kan nie alles aanhaal nie. Die boek eindig met die woorde:

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek: Skryf behoort ‘n plesier te wees, net soos lees.

pella-kruistog-agter


Responses

  1. Hiert! en IS sy nie slank van skeen nie. Pragtige ou ding!

  2. Dis pragtig. Ek hou self daarvan om digbundels aan te skaf en hulle “stukkend” te lees. Ek sal ‘n bietjie uitkyk vir van sy werke.

  3. […] die titel van ‘n gedig) geleen vir twee inskrywings: Pêlla lê ‘n kruistog vêr (1) en Pêlla lê ‘n kruistog vêr (2). In albei inskrywings het ek gedeeltes van gedigte uit die bundel […]

  4. Dag Chris

    Jy wil nie vir my die volledige “Boesmanland,Jan. 1965” aanstuur nie aub?


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: