Posted by: mykopop | Maandag 14 Januarie 2008

Pella lê ‘n kruistog ver (1)

Ek sukkel maar nog steeds om die sandjies van die vakansie uit my skoene uit te skud. Ek het vroeër ‘n vinnige oorsig van ons vakansie in die Noordkaap gegee en belowe om al die foto’s later te wys – dis nou sulke tyd. Hier is (jammer!) omtrent 54 foto’s van Pella, wat vir my ‘n hoogtepunt was.

Die dorpie



So lyk dit as mens Pella binnery. Ek hou van die leuse: Forwards Ever, Backwards, Never!

Vee word binne-in die dorpie aangehou.

Die katedraal, met twee hoë dadelpalms weerskante van die toring.

Met ‘n bietjie wyer hoek geneem, staan die kerkie mooi omring van die palmbome.

Toe ons stilhou, het Jan Pieterse (of Djan, soos hy sy naam uitspreek), onmiddelik aangehardloop gekom om ons te vertel waar om die Suster te kry om ons die kerk en die museum te wys.

Hy het my ook gevra vir ‘n bydrae vir hulle sokkerspan se truie wat glo R65 elk kos. Ek het eers gekorswel dat ek vir een streep van ‘n trui sal betaal, maar hom later R30 gegee, so darem amper ‘n halwe trui.

Die kerk

Die kerk, van een van die agterste hoeke gesien.

Nog ‘n paar van die palmbome om die kerk.

Naby die voordeur van die kerk woon twee honde…

…genaamd Bonnie en Bliksem. Ons het hulle nie te siene gekry nie.

In die teëls by die ingang van die kerk is Latynse inskripsies, dit was egter moeilik om te fotografeer – as jy die foto opblaas sal jy iets daarvan sien.

Die Rooms-Katolieke kerk val onder Keimoes. Op Keimoes is daar ‘n koringmeul wat aan die RK-kerk behoort, ek het op Pofadder in Proe-i-Biekie van die R.C. Mission Mill se meel op die rakke gesien.

Die inskripsie op die geelkoperplaat is bietjie moeilik leesbaar. Ek het dit oorgetik:

VIVE JESU
HIERDIE KERK IS DEUR DIE EERSTE
O.S.F.S SENDELINGE MET HUL EIE
HANDE GEBOU EN IS OP 15 AUGUSTUS 1895
DEUR BISKOP JOHN ROONEY
VAN KAAPSTAD GESEëN.
DIE NUWE ALTAAR EN KATEDRAAL
IS OP 29 SEPTEMBER 1982 DEUR
BISKOP JOHN B. MINDER O.S.F.S INGEWY.
HERE, BELOON EN SEëN DIE GEMEENTE
VAN PELLA EN DIE KATOLIEKE ORALS
IN DIE BISDOM WAT TOT DIE HERSTEL
VAN DIE KATEDRAAL SO EDELMOEDIG
BYGEDRA HET.
DEUS SIT BENEDICTUS.

Die rooster van dienste toon dinge wat vir ons Protestante bietjie vreemd is: Heilige Mis en Bieg. Dienste word aangetoon vir Aggeneys, Onseepkans, Pofadder en Pella.

Die kerk, van die kant af gesien.

Suster Leonie was so vriendelik om vir ons die binnekant van die kerk en die museum te wys. Die foto wys die altaar ens voor in die kerk. Suster Leonie het ons van agter gewys dat dit alles eintlik van kasplankies (seepkissies) gemaak is.

Hierdie troon is deur een van die priesters met ‘n knipmes uitgekerf. Later meer oor die knipmes.

In die regtervleuel, naby die altaar.

Van voor in die kerk geneem. Die pilare doen vir my iets spesiaal vir die atmosfeer.

Die blomme is vir die Kerstyd.

In die linkervleuel lê van die priesters begrawe.

Die begrafnisondernemer het sy advertensie ingekry.

‘n Beeld naby die hoofdeur, ek dink dit is Jesus met ‘n doringkroon.

Die museum

Van die kerk het ons na die museum beweeg. Hierdie uitstalling is vir my tipies Katoliek.

Op hierdie foto het ek die voorwerp wat op die rooi doek lê probeer afneem. Dit was gebruik om die altaarkoekies te maak en het die pragtigste grafeerwerk op die plat stuk metaal. Ongelukkig het dit nie mooi uitgekom op die foto nie. (Beter kamera volgende keer!)

‘n Ou traporreltjie, en nog een wat aan die linkerkant uitsteek. Die een aan die linkerkant het ‘n hefboom langs die kant waarmee die blaasbalk gepomp word.

Hier is die groter orrel. Jammer, die foto moes van die ander kant af gewees het om die hefboom te wys.

Van die priesterlike gewade wat gebruik is hang agter glas. Jammer vir my weerkaatsing in die glas. Afgesien van die wat hier hang, is daar nog gewade wat in laaie lê, wat oopgetrek word om dit te wys. Mense besoek glo die museum spesiaal om na die fyn borduurwerk te kom kyk

Die voorwerp wat links van die portretraam hang is ‘n ou waterpas wat van hout gemaak is.

Suster Leonie het ons vertel dat hulle groot probleme het met die fonteinwater wat onder die gebuie deur vloei. ‘n Paar jaar terug was die pilare vrot en moes met betonpilare vervang word. Hier is ‘n klompie van die steentjies waarmee die oorspronklike pilare gebou is. Sy het vertel dat toe die pilare afgebreek is, hulle ‘n blikkie met die knipmes waarmee die een die troon uitgekerf het, en ‘n briefie om te sê dat dit die mes is, in een van die pilare gekry het. Hulle het dit toe maar weer in een van die pilare ingebou. Ek wonder of hulle dit nie liewer in die museum moes gesit het nie?

Die voorwerp wat op die stene lê is ‘n tipe skafie, ek dink dit word ‘n ‘spokeshave’ genoem in Engels.

Die geboue

Die gebou lyk vir my soos ‘n slaapsaal. Die gebou wat links uitsteek met die pienk dak is waar Suster Leonie woon. Ten spyte van die bordjie was die hond wat daar gelê het elke keer as ek gaan klop het nie kwaai nie. Die bord sê: PASOP!! BOERBOELE. As die hond kom, gaan lê plat op die grond en wag vir hulp. As geen hulp kom nie, sterkte…

Agter die hekkie by die bougainvilla het ek vele kere gaan klop om toegang te kry tot die kerk en museum, maar dit was siesta. Ek moet darem sê dit was tussen 2 en 3 op Sondag 16 Desember. Net regs anderkant die plaashek kan ‘n ou meulsteen gesien word. Daar is ‘n nader foto daarvan.

As ek die geboue reg onthou is dit die museum, en ek dink dit was dalk die eerste kerkgebou.

Pella RC Primary School. Ek dink daar is 600 of 700 leerders.

Hierdie gebou het die datum 1923 op die geuwel.

Nog een van die skoolgeboue.

Die terrein

Die meulsteen, wat volgens Suster Leonie deur ‘n perd in die rondte getrek is.

Een van die waterputte op die terrein.

In hierdie put woon ‘n agie met ‘n kamera.

Ek dink hierdie is die speelgrond van die skool, met die berge wat een kant van die dorpie lê, in die agtergrond. Suster Leonie het ons vertel dat die priesters oorspronklik houtkruise op die pieke van die berge ingeplant het, wat onlangs met alluminiumkruise vervang is. Dit was te ver vir ons om te sien.

Wat sou ek gee om nou weer daar te kan rondloop?

Die rivier

Terwyl ons gewag het vir die suster se siësta, het Jan voorgestel ons moet na die rivier gaan kyk. Ons het toe ‘n pad af in ‘n droë rivierloop gekry.


Hierdie is ‘n granietblok, ek weet nie wat die doel daarvan is nie.


Ek het geweet die droë rivierloop moet iewers by die Oranje aansluit ‘n Bordjie by die kerk het egter gesê die besoektyd by die kerk is tot 16:00, dus kon ons nie te laat omdraai nie. Volgens ‘n GPS-punt wat ek geneem het, het ons sowat 3 km van die Oranjerivier af omgedraai.

Plekke soos hierdie hou vir my een of ander bekoring in.


Hierdie koppie lyk amper of dit van klippe gebou is.

Hierdie foto wat sê CANYON PASS PRIVATE ROAD het ek met die terugkom geneem, ek moes dit eintik aan die begin gesit het. Daar staan niks van geen toegang nie, so ek sal volgende keer probeer om meer tyd te hê en tot by die Oranje te gaan.

Tot siens!

So kom alle goeie dinge tot ‘n einde, en ek stop vir ou laas ‘n keer of wat om foto’s van die rooi duine (wat so bietjie misplaas is in hierdie wêreld) te neem.

Ons kyk vir oulaas terug na die dorpie.

Die boesmantjie in my kan nie ophou kyk vir die rooiduine nie.

Van die N14 af kyk ons terug op die pad na Pella toe. Die bord by die pad wat links afdraai sê Klein-Pella en Goodhouse. My ma vertel toe ek en my broer klein was en ons op Springbok gewoon het, was ons vir ‘n naweek Goodhouse toe gegaan. Ons wou nie die bruin rivierwater drink nie, maar hulle het dit skelmpies in die watersak gegooi en vir ons gesê: Drink maar uit die watersak. Ek moet dus volgende keer probeer om die Oranje by Goodhouse te gaan kyk.

Die inspirasie?

Alhoewel ek George Weideman nie ken nie en hy my nog minder ken, het ek ‘n bietjie van ‘n verbintenis met hom. Ek het die bundel al ‘n hele klompie jare.

pella-kruistog-voor.jpg

George Weideman:

U moenie kla oor die hitte nie, Vader Gaudeul,

dis nog nie naastenby die somer nie

en nou al lê die vuurklip en smeul

hier moet u maar die sagte groen van Lyon

uit die gedagtes weer

hier is die enigste groen perdalks die soom

van die verbeeldingstroom.


Responses

  1. Hello daar
    Ek is nuut hier en wil Afrikaanse ontmoet.
    Ek kyk maar nog rond maar weetie so lekker hoe die ding werk nie.
    Mag ek jou aan my vriende groepe toevoeg?

    Sandra

  2. Ek kyk lekker na al die fotos van die plekkies waar ek nog nie was nie…

  3. Hallo Sandra, jy is welkom!

    “Hoe dit werk” hang seker af of jy self ‘n blog wil skryf of nie. Oor die algemeen is dit maar bloggers wat mekaar se blogs lees en kommentaar lewer. Ek dink ek het ook ‘n paar nie-blogger lesers, wat geen kommentaar lewer nie, maar niks verhoed hulle om kommentaar te lewer nie.

    As jy self wil blog is daar baie plekke waar jy dit gratis kan doen, wordpress.com is nie ‘n slegte keuse nie, omdat daar ‘n redelike Afikaanse gemeenskap is.

    Jy moet ook iets hê wat ‘n ‘feed reader’ (ek veronderstel voerleser in Afr.) genoem word, om jou te laat weet as een van jou gunsteling blogskrywers iets nuuts gepubliseer het. Hiervoor beveel ek aan http://www.bloglines.com

    Laat gerus weet as daar nog iets is wat jy nie verstaan nie. Los sommer ‘n kommentaar by my laaste inskrywing.

  4. Een ding moet mens die Katolieke toegee – hulle kan kerke bou.

    Mykop, van Pella in die somer weet ek nie so mooi nie – jou foto’s lyk sommer warm. Ek voel sommer lus en gaan soek ‘n swembad.🙂

  5. Dis so interresant! Thanx dat jy met ons deel.

  6. Ek het hierdie inskrywing baie geniet Kop! Ek is ook mal oor die Katolieke se kerke – dis absoluut besonders. Wat my ook opgeval het is die blou, blou lug – nie ‘n wolkie in sig nie! Ek het lekker gelag vir B & B wat nêrens te sien was nie… En dan natuurlik mense soos Djan… Ai, ek geniet hulle vreeslik en probeer altyd so lank as moontlik met hulle ‘n gesprek aan die gang hou oor ek mal is oor hulle manier van praat, maar moet hulle altyd dit “spoil” en wil bedel?

  7. Baie mooi foto’s, indrukwekkend!!

  8. Lekker gekuier saam met jou. Netjiese foto’s!

  9. Lekker fodies gekyk, hoor! Nou weet ek ook darem van Pella…

  10. Dit is ‘n onbegonne wereld daardie. Pragskoon in eenvoud, warm soos die hel en ‘n plek waar engele kom draai vir hul aand ete…

    Het lank terug die voorreg gehad om die wereld daar rond met ‘n 4×4 en ‘n paar “scramblers” deur te toer.

  11. Very nice man, very nice!! 😀

  12. Hi! Ek het jou post op my selfoon in “text only” formaat gelees en nou eers daarby uitgekom om te kom foto’s kyk. Het nou heerlik saam met jou gekuier – mooi foto’s. En ja, nou weet ek ook hoe lyk Pella en Pofadder! Groete!

  13. Ek hou van die engeltjies daar in die agtergrond by die rooidoek foto. Ek het myself belowe, ek gaan nog hierdie wêreld opsoek. Vir hitte skrik ek gelukkig nie.

  14. PRAGTIG!!! Baie dankie!! Jy wys vir ons dele waar ons nog nooit was nie!

  15. Baie mooi foto’s. Was self nog nooit daar nie. Dankie vir ‘n lekker kuier.

  16. Hoe het ek hierdie post misgekyk…?
    Pragtige fotos…dis darem maar mooi wereld daardie. Dankie!

  17. […] het ek die titel van sy digbundel (en die titel van ‘n gedig) geleen vir twee inskrywings: Pêlla lê ‘n kruistog vêr (1) en Pêlla lê ‘n kruistog vêr (2). In albei inskrywings het ek gedeeltes van gedigte uit die […]

  18. “‘n Beeld naby die hoofdeur, ek dink dit is Jesus met ‘n doringkroon.” Toe nou nie🙂. Dit is “Our Lady Queen of Heaven”.

    • Dankie, ek is maar baie onkundig wat die Katolieke geloof aanbetref. Nou weet ek ook!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: