Posted by: mykopop | Maandag 7 Januarie 2008

Deon Meyer – Wie Met Vuur Speel

wie-met-vuur-speel-voorbladSkoorbek het my sover gekry om Deon Meyer se boeke te begin lees, van ‘n kant af. Ek het reeds, toe ek sy vervolgverhaal in Huisgenoot bekend gestel het, ietsie oor hierdie, sy eerste boek, gesê en reeds bietjie kommentaar gelewer oor die alarmstelsel wat nie klop nie en die oprol van ‘n skildery wat nie geloofwaardig klink nie.

Nou wil ek nie te baie negatief wees nie, dis ‘n boek wat lekker lees, veral as mens daarop uit is om net te ontspan – presies wat ek die afgelope paar weke wou doen. Tog voel ek, as mens speurverhale wil skryf, moet jy en jou proeflesers jou verhaal fynkam vir foute en dinge wat nie sin maak nie – of boereverneukery.

‘n Klompie jare gelede, wel om meer presies te wees, langer as 20 jaar gelede, was daar ‘n TV-reeks geskryf deur Chris Barnard. Dit het gegaan oor ‘n klomp vriende wat vir ‘n naweek of so iets op ‘n plaas bymekaarkom. Brumilda van Rensburg was die huiseinaar se vrou, wat later vermoor is. Een van die gaste was ‘n beeldhouer wat ‘n beeld van haar gemaak het. Tromp Terreblanche was die speurder wat die moord “uitgepluis” het. Maar soos hy dit uitgepluis het, het hy op ‘n swartbore geskryf, en soos hy skryf, het ek en my ou vriend (saliger) ook die leidrade neergeskryf. Sy oplossing het nie geklop nie. Boereverneukery. Alhoewel dit ‘n lekker reeks was, het dit afbreuk daaraan gedoen. Ek kan nie meer die feite onthou nie, ek kan nie eens die naam van die reeks onthou nie – kan iemand my help daarmee?

Ek kon darem nie vir Meyer op nog ‘n “speurfout” betrap nie, net miskien een skryffoutjie, op bl. 200 sê hy: ‘n Groot dubbelverdiepinghuis in Spaanse boustyl… Op bl. 234 vertel Katrina: Hy het ‘n kamer op die tweede verdieping. Het ek my terminologie reg? Vir ‘n huis met twee verdiepings, is daar nie net ‘n grondverdieping, op die grondvloer, en ‘n eerste verdieping op die eerste vloer nie? Snaaks, die skryfster van net die volgende boek wat ek net na hierdie een gelees het, doen iewers dieselfde ding. Of is ek deurmekaar omdat ek nog altyd net in plat huise gebly het?

Nog ietsie wat my pla is dinge wat net nie oorspronklik genoeg is nie, bv. ‘n karakter met die naam Zatopek, wat Meyer ook gebruik in Orion (die TV-reeks) vir ‘n heel ander karakter. Ook word die geboortejaar van die manlike hoofkarakter in hierdie boek iewers gegee – toevallig dieselfde jaar waarin ek en Meyer gebore is! Die karakter se musieksmaak: Rodriques, Black Sabbath, Uriah Heap, Nazareth, Dylan en Kristofferson – dalk Meyer se persoonlike smaak? Ek self kom uit die regte era om met minstens drie van die kunstenaars te kan identifiseer. Natuurlik het Meyer ook beter geword sedert sy eerste boek. Ek lees hy sê in ‘n onderhoud: Met die skryf van my eerste boek, Wie met vuur speel, het ek die karakters wyn laat drink uit ‘n sekere kelder. Dié kelder het nie eers daardie soort wyn aangehou nie.

Nog iets wat mense miskien kan pla in die boek is die seks, wat moonlik as losbandige seks beskryf kan word. Dis nou seker maar onafskeidbaar deel van die resep van die tipe boek, wat hoop om in ‘n fliek of TV-reeks omskep te word.

Aan die positiewe kant wil ek darem sê Meyer se dialoog en karakterbeelding is uit die boonste rakke. Regte mense met regte gevoelens en karaktereineskappe. Ek kan nie te veel sê oor die verhaal sonder om dit vir jou te bederf nie. Dit begin met ‘n proloog oor ‘n man wat by ‘n landgoed met elektriese heinings, sekuriteitswagte en alarmstelsels gaan inbreek om ‘n spesifieke ou skildery, ‘n Vermeer, te gaan steel. Die karakter se naam word nie genoem nie, net die naam van die landgoedeienaar, ene Spano. Deel 2 begin dan om die vroulike hoofkarakter Ragel Bergh voor te stel, eienares van ‘n boekwinkel in Kaapstad. By ‘n boekeveiling is daar ‘n geheimsinnige man wat teen haar bie, wat eers agter ‘n pilaar staan. Sy ontmoet hom vlugtig na die veiling, en dan loop hulle mekaar weer toevallig raak in die gimnasium waar sy oefen.

Meyer het regtig die vermoë om ‘n boek te skryf wat mens nie maklik neersit nie, so as jy ‘n luilekker naweek iewers in die vooruitsig het, kry solank een van sy boeke.


Responses

  1. Hallo jy, ek was op ‘n stadium vreeslik lief gewees om te lees, ek het heelwat boeke, wat my seun natuurlik vir hom nou gevat het!! In Desember se uitgawe van die ROOI ROSE was daar so boek by om te lees, ek het die ene gekies met die helikopter storie, hel dit was ‘n mooi boekie, ek kon eenvoudig nie die boekie neersit nie!!

    KOP OP ‘N BLOK, mag 2008 ‘n wonderlike jaar vir jou wees.

  2. Kop, jy lees baie fyn! Ek sal versigtig wees as ek ooit vir jou ‘n boek moet skryf en my feite mooi navors. 😆

    Ek het ook daardie reeks op TV gesien, maar kan nie die naam onthou nie. Gee ons nou lekker ons ouderdomme weg!

    Ek lees natuurlik ook baie Engelse boeke (kom nou daarvan as mens ‘n Engelse pa het) en deesdae is ek versot op Kathy Reichs se boeke. Sy skryf oor ‘n forensiese pataloog – elke boek is ‘n storie op sy eie, maar die karakter van die forensiese patoloog en die speurders, is deurlopend.

    Jy moet dus liefs by haar eerste boek (Deja Dead) begin. Tans lees ek Cross Bones, wat oor die Masada en die ontdekking van beendere uit die Christus-tydperk gaan. Dis vreeslik interessant!

    Dalk sal jy belangstel – ek weet nie hoe lief is jy om Engels te lees nie 😉

  3. He he he, Sonkind, moet jy nou nie ook met jou skrywer se boeklys begin soos Skoor nie! (Waar IS Skoor, lyk my sy’t ‘n baie lang vakansie)
    Dis nie dat ek nie Engels lees nie, net nie op die oomblik nie. Ek het vir baie jare nie eintlik storieboeke gelees nie en toe ek weer begin, het ek by Afrikaans begin en dan nog so nou en dan Nederlands ook. Maar ek was mal oor Quincy, so miskien eendag.

  4. Oe, ek gee seker nou my ouderdom weg, maar ek onthou daai reeks. Ek het dit groot oE gevolg al was ek maar net kind. Dit was vir my in my onkunde baie goed. Ek het nie geweet dit was geskryf deur Chris Barnard nie.

  5. Oee, om `n skrywer met `n fout uit te vang is verskriklik. Dis sit met sommer dadelik af. Nou ja, Deon was nie baie opgewonde oor die herdruk van sy eerste boek nie en ek hoor dat daar beslis redes hiervoor is, onder andere die goedjies wat jy genoem het. Ek weet nie of die eksemplaar wat jy het die nuwe een is of nie maar ek hoor die eerste druk se voorblad was ook hideous. Ek braai vanaand saam met pelle wat die boek het so ek sal dan sien hoe dit lyk.
    Soos ek op my blog vertel het lees ek nou `n Jodi Picoult, een van die mees wyd gelese skrywers in die wêreld. Wat my ontstel is dat ek reeds een (heel moontlike) feitefout opgetel het en verskeie typos. Eerste keer dat dit met een van haar boeke gebeur wat ek gelees het en ek het al amper almal gelees. Bietjie ontstellend maar nou ja, die storie bly steeds uitstekend. Maar as ek sy is wurg ek my uitgewers wat so iets laat deurglip het.

  6. Baie interessant! My leeslys vir die afgelope vakansie het Manaka, plek van Horings (Pieter Pieterse), Bid Sprinkaan (Brink) en HaTikva, land van hoop (Marzanne le Roux) ingelsluit. Jy dit al gelees? Ek het dit ongelooflik geniet, veral Manaka en Hatikva was indruk-wekkend

  7. Dankie Duskant, ek het die twee behalwe HaTikva al gesien en begeer. Ek almal op my lysie.


Lewer kommentaar op sonkind Kanselleer antwoord

Kategorieë