Posted by: mykopop | Vrydag 4 Januarie 2008

Nuwejaarsdag by Pilanesberg

Die plek

Ons het besluit om iets lekker op Nuwejaarsdag te doen, eintlik vir ons dogter se verjaardag. Die keuse het op die ou end geval op Pilanesberg – ons woon nou al 11 jaar in Gauteng en het nog nooit sover gekom om daarheen te gaan nie.

Pilanesberg is ‘n belangrike geologiese verskynsel. Dit is die krater van ‘n vulkaan wat 1200 miljoen jaar gelede tot bedaring gekom het. Hier bo is ‘n skermskoot wat ek van Goolgle maps geneem het, waarop die krater duidelik sigbaar is. As jy die gebied self wil verken in Google maps, volg hierdie skakel .

Gedurende die laat 1970’s het Pres. Lucas Mangope van die destydse Bophuthatwana besluit om wild in die gebied te hervestig en dit ‘n wildtuin te maak. Miskien was hy meer versiende as die destydse Suid-Afrikaanse regering – sou mens nie dieselfde met die Vredefortkoepel kon doen nie? Maar ek dink die Vredefort-gebied is nou so in sy peetjie in “ontwikkel” dat dit nooit moontlik sal wees nie.

Van die gesteentes wat in die park voorkom, is op plekke wat op die kaart gemerk is, onder ‘n plaat ingemessel. Die foto hier bo wys een daarvan en ook sommer bietjie van die natuurskoon.

Ek dink ons het minder as die helfte van die paaie in die pad gedek. Mens moet dus eintlik twee of drie dae daar kan spandeer.

Die diere

Die boekie “Official Map and Park Guide” lys omtrent 35 soogdierspesies waarvan ons amper 20 gesien het. Ek dink die diere waarvan ons die meeste gesien het,was kameelperde en sebras. Van die groot vyf, wat almal daar voorkom, het ons net die wit renosters en olifante gesien.

Ons was gelukkig om die vier renosters aan te tref waar hulle bietjie afkoel by ‘n watergat.

Ons het gesien ‘n motor in ‘n ander paadjie begin skielik agteruit ry. Toe ons mooi kyk sien ons daar is ‘n olifant in die pad. Ons het toe ook afgedraai en gaan kyk. Die ou grote het rustig heen en weer oor die pad gewei, amper skynbaar onbewus van ons. Ons was maar versigtig om dit nie te naby te waag nie.

Ek sal later nog van die foto’s op Flickr laai.

Die paaie

Mense het al vir ons vertel, “Nee wat, dis net so bietjie meer as ‘n uur se ry Sun City toe”. Moenie glo nie. Volgens die kaart het dit vir my gelyk die kortste pad hier van Discovery af is om deur Krugersdorp met die R24. Dit het baie stadig gegaan, die spoedbeperkings kom telkens af na 60 of 80 km/h, dit voel jy is skaars op 100 of 120, dan is dit weer sulke tyd. Ons het per ongeluk die afdraai na die Kwa Maritane-hek misgery en verby Sun City by ‘n garage gaan omdraai en 9-uur by die hek aangekom – twee en ‘n half uur nadat ons by die huis weg is. Die namiddag het ons by die Manyane-hek uitgegaan en later by die N4 na Pretoria aangesluit. Ek het darem hoop gehad om dalk by Hartebeespoort deur te gaan en nie al die pad Pretoria toe hoef te ry nie, maar was selfs bereid om dit te doen om nie weer heeltyd teen 60 of 80 te sit en aanploeter nie. Later het ons darem toe die R512 gekry, met aanwysers wat sê Hartebeespoortdam en Randburg. Daar is ook maar baie spoedbeperkings, maar dit het miskien ‘n bietjie vinniger gegaan, ek dink op die stadium is dit die beste roete van ons af.

Van die paaie in die park is geteer, maar ek dink dis oorwegend grondpaaie. Dis darem goed begaanbaar met ‘n gewone motor, ek sal net nie ‘n baie klein voertuigie met wiele kleiner as 14″ aanbeveel nie.

Die kos

Ons het vir die middag 12:30 plek bespreek by die Manyane Restaurant. Ons was so 12:15 daar en hulle het onmiddelik vir ons ‘n tafel aangewys. ‘n Kelner het ons bestelling vir drankies kom neem. ‘n Ander een het weer gekom om dit te neem. Later het een van hulle gekom en vir ons gesê die buffetete is R65 per persoon. Ek vra toe of hulle nie ‘n spyskaart het nie, want ek sien die mense by tafels rondom ons eet ander kos. Net tot twaalfuur, moes ons hoor. Hulle adverteer wel as A La Carte Restaurant, en gedurende die omtrent 3 keer wat my vrou telefonies met hulle gepraat het, het hulle nooit daarop gewys dat om 12:30 ons net die buffetete kan kry nie. Ek het lekker geëet aan die koedoe en kalkoen, maar dit was nie heeltemal wat die kinders in gedagte gehad het nie. Dit was ook asof die kelners nie lekker met ons in Engels kon kommunikeer nie – miskien moes ons Afrikaans probeer het.

Die gedagtes

So ‘n rit van twee ure op paaie met gehuggies en plakkerskampe oral, gee mens nogal tyd om te dink. Dit stem my eintlik bietjie morbied. Hoekom kan ons in Suid-Afrika nie leer om woongebiede meer te sentraliseer en dit aan één kant van die hoofweg te hou, en ver genoeg dat die hoofweg ‘n hoofweg kan bly en nie in ‘n hoofstraat ontaard nie? Hoeveel moet ons nog die aarde skend met oorhoofse kabels, paaie wat kilometers ver sigbaar teen berge uitloop, torings op die berg ens? As mens dan in die park kom, kry jy darem so bietjie hoop, die natuurskoon is mooi bewaar, die paaie en ander fasiliteite wat daar is, moet tog daar wees, anders sou bitter min mense die voorreg hê om die natuur te geniet. Hopelik sal ons parke so bly, maar is dit genoeg? Op die alternatiewe roete terug huis toe het ek darem nog baie oop vlaktes gesien – oop vlaktes wat “ontwikkel” kan word.


Responses

  1. Ek kon omtrent nie wag om te sien wat jy oor die Pilanesberg gaan skryf nie!! Die Pilanesberg lê my baie na aan die hart! My pa het op die plaas Buffelshoek groot geword. Die plaas is van Paul Kruger gekoop in 1869. Hulle plaas was nét onder die groen pyltjie op jou boonste foto en SW van die Mankwe Dam (vroeër die Houwater Dam). My oom, Niek Schoombee, het dié dam gebou. Hy en een van hulle broers, Andries, het verskeie ander damme in die distrik ook gebou. Die graf van my ouma en een van my pa se broers wat slegs 11 maande oud geword het, is daar maar dis nie vir die publiek toeganklik nie. Ek het ‘n boek “Within the heart of Pilanesberg” wat deur Maya Ruyter geskryf is en wat te koop is by die Wildtuin. Ek het die boek by haarself bestel.

    Jy sal maak dat ek sommer weer ‘n blog begin net om oor die Pilanesberg te kan skryf!! Ek het altyd gedroom daaroor om ‘n boek te skryf oor die Pilanesberg maar het nooit sover gekom om dit te doen nie. Dis ‘n groot jammerte dat my pa nie meer geleef het toe Maya die boek geskryf het nie want hy’t soveel stories altyd gehad om te vertel oor die Pilanesberge waarvoor hy so lief was.

    • Hi

      Please can anyone tell me where I can find a copy of the book “Within the Heart of Pilanesberg”, by Maya Ruyter, 2005.
      I live in the UK and have discovered that an uncle of my mother, Albert Dunsford was buried on a farm called Tusschenkomst now in the reserve.

      Sorry for the post in English rather than Afrikaans.

      Thank you.

      Bruce Willianson

    • “Kaalvoetkind” my oupa is jou oupa se broer, ene Oom Koos Schoombee. Gelukkig en geëerd leef my oupa nog. 17 September het hy 84 jaar oud geword.

      Ek besoek oumagrootjie se graf gereeld, elke 6 maande omtrent. Juis oppad Pilanesberge toe die 5de Oktober. Ek gaan tuis in Manyane kamp.

      Interresant, ‘n wortel in my lewe wat ek nooit sal wil los spit nie. Pilanesberg vloei deur my are. hoe onthou ek nou hoe ek vertel is van oupagrootjie Andries Gotlieb Schoombee wat my met sy kierrie in my stootkarretjie rond getrek het onder oupa Koos se rubberboom in PTA tuine.

      Hoop om van jou te hoor Kaalvoetkind.

      Zenobia – (Sanet se dogter)

      • Zenobia,

        Ek wil net graag hoor of jy kontak het met “kaalvoet kind”, ek is besig om die geskiedenis van die “Schoonbee” familie op te soek, spesifiek die familie wapen. Ek is getroud met Isak de Vries Schoonbee gebore in Rehoboth (1958), Suid wes afrika, sy pa is Johannes Diedericks Schoonbee (nou 80 jaar en bly in Winhoek, Namibia saam met sy tweeling broer Gert en Niklaas, suster Maria bly hier in Secunda, Mpumalanga en ek verneem sy oupa was Andries Gotlieb Schoonbee, hulle was van die dorslandtrekker na Angola

        As daar enige familiewapen is wat jy van weet kan jy my asseblief kontak deur my te e-pos : namutoni@mweb.co.za

        Baie dankie

        Christene Schoonbee

    • Hallo my skoonseun se pa Nick (Nicolaas Johannes Jacobus Schoombee is daar gebore en skool gegaan sy oupa en pa was ook Nick(Nicolaas Johannes Jacobus Schoombee en sy oupa is Andries Gotlieb Schoombee en is besig om vir my 3 Schoombee seuns n familieboek van hulle voorgeslag te doen en hoop iemand kan my help asb

  2. Dankie vir die feite, Kaalvoetkind. Dit wys jou net, ek skryf ‘n bra oppervlakkige stukkie oor iets wat ek beleef het, en dit krap iets by iemand anders oop.

    Jy moet asseblief die stories wat jou pa vertel het probeer onthou en opteken!

    • Hi

      ja nogal. My oupa was Andries Godliep Schoombee en my pa Willie Schoombee en het my baie vertel van hoe hy oupa gehelp skrop het met ‘n span osse en die damskrop as jong seun. Oupa Andries het hom op standerd twee uit die skool gehaal en hy moes die boerdery saam met oupa aan die gang hou.

      • Herman ek het ‘n groep op Facebook geopen – Schoonbee familie stamboom. As jy wil kan jy daar aansluit. Ek soek so veel moontlik inligting van die Schoonbee’s want ek wil ‘n stamboom saam stel.

  3. Mooi foto’s en dankie vir die inskrywing! Wag vir meer!🙂 Ons was ‘n week by Sun City…by daardie chalets wat in “buurtes” ingedeel is, ek dink ons was in die Seekoei-“groep”…en omdat ons daar gebly het, het ons outomaties toegang tot Pilanesberg gehad… ons was slegs een dag soontoe. Die natuur is mooi daar.

  4. hi
    ek is ook opsoek na die boek “Within the Heart of Pilanesberg”, wil dit graag as ‘n kers geskenk gee.
    As iemand dalk vir my “n e-pos adres of ander kontak besonderhede van Maya Ruyter kan gee!
    baie dankie


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: