Posted by: mykopop | Sondag 30 Desember 2007

‘n Paar blou berge oor

Toe ek einde Oktober oorgegaan het na WordPress, het my lus om bietjie weg te kom al uitgehang, om lang paaie te ry en plekke te sien wat ek nog nooit gesien het nie, daarom het ek dit gedoen met ‘n inskrywing Die Blou Berg Moet Ek Oor.

Ons was 12 nagte weg van die huis, waarvan ons die meeste van die tyd by familie deurgebring het, maar vir so twee nagte en drie dae het ons bietjie weggebreek na Pofadder, Pella, Onseepkans en Augrabies. Ek sal later meer foto’s van elke plek plaas, vir nou wil ek net ‘n paar foto’s wys van die plekke waar ons was.

In die ou Wes-Transvaal, tussen Coligny en Biesiesvlei, het ons gestop om ontbyt te eet. Hier spoed een van die vele trokke wat die paaie vol slaggate trap verby. Maar ek moet byvoeg, ons het regtig nie veel slaggate gesien nie, varal nie met die afgaan nie.

Die afstand tussen Olifantshoek en Upington is ongeveer 164km, ek weet nie of daar twee ander buurdorpe in Suid-Afrika is wat verder van mekaar af is nie, want selfs Kenhardt en Brandvlei is net 148km van mekaar af. Gelukkig ry ons nie tot by Upington nie, ons draai gewoonlik so 45km van Upington al links na die familie langs die Oranjerivier, maar omdat die pad so sleg is, gebruik ons deesdae ‘n ander paadjie, die D3312. Dis vir my besonder lekker om hierdie paadjie tussen die plase deur te ry. Dis naby die D3312 op die N14 dat ek gestop en die foto van die windpomp en die blou berg geneem het. As jy eendag die agterpaadjie wil ry, daar is verblyf daar rond, en jy kan jou reis na Upington met die N10 voortsit. Op die kaart hieronder het ek die D3312 in geel aangedui en ons bestemming met ‘n rooi kolletjie. Mens kan nie die Oranjerivier op die kaart sien nie, maar die N10 loop al langs die suidelike oewer.

Die oggend van die 16de Desember het ons die pad na Pofadder gevat. Ons het so kort voor die middag daar gekom. Daar gekom het ons net gou in ‘n gastehuis ingeboek en geëet en toe weer die pad gevat, Pella toe.

‘n Tipiese Pofadder-huis, met die windpomp in die agterplaas

Hier bo is die Rooms Katolieke kerk op Pella, soos van die kant af gesien.

En so lyk dit binne-in die kerk. Ons het ook die museum besoek. Ek het nog so ‘n paar foto’s wat ek op ‘n ander keer sal deel.
Van Pofadder af het ons die volgende dag die pad gevat Onseepkans toe, net so 60 km, maar met ‘n baie slegte grondpad. As jy op die foto inzoem sal jy die brug oor die rivier en die grenspos sien. Ons kon natuurlik nie oor die rivier nie, want ek was die enigste een wat ‘n paspoort besit, maar het dit ook nie saamgeneem nie.

Onseepkans was van kleins af vir my net ‘n pleknaam. In my hoërskooljare het my pa een keer in ‘n stuk grond daar belang gestel, maar dit nie gekoop nie. Ek dink ook George Weideman se pa, wat vir ‘n rukkie vir ons skoolgehou het, ‘n regte ou swerwer, is later soontoe voor sy dood. Daarom wou ek net een keer self sien hoe Onseepkans lyk. Maar ek glo nie dit sal die laaste keer wees nie. Onseepkans is ‘n besproeingsnedersetting, ek sal ‘n ander keer foto’s wys van die landerye en die besproeingskanaal, vir nou wil ek net iets van die natuurskoon wys. Op die foto hier onder is die Oranjerivier met rotse en stroomversnellings. Wat gesien kan word in net een sytak, op die spesifieke plek is daar ‘n eilandjie met nog ‘n loop aan die ander kant. Die berge is in Namibië.

Van Onseepkans af het ons die pad terug na Kakamas gevat, en van daar af Augrabies toe. Dit is ‘n ander pad van Onseepkans af, ook omtrent 60 km waarvan net die helfte grondpad is, wat weer by die N14 aansluit. Dit is ‘n beter toegangsroete tot Onseepkans. Daar is ook ‘n groot kokerboomwoud op die pad.

Links is die hoofval by Augrabies. Daar is nie veel water wat afloop op die oomblik nie, ek het al die voorreg gehad om die val te sien kort na ‘n vloed, toe daar baie water was. Die wonder bly steeds die massiewe rotse en die ravyn wat deur miljoene jare deur die water in die rots uitgekerf is.

In geval jy nie weet nie, Augrabies is ‘n Nasionale Park, daar is ‘n groot wildpark. Ons het vir ‘n rit deur die park gegaan, ongelukkig nie veel wild gesien nie, behalwe ‘n klompie klipspringers, springbokke en bobbejane. ‘n Paar kilometers langs die rivier af het ek hierdie foto van die ravyn geneem, by ‘n plek wat Ararat genoem word.

Soos ek reeds gesê het, ek sal nog meer foto’s wys van elke plek.

Daarna het ons darem nog ‘n hele paar dae langs die Oranjerivier deurgebring, dis nou naby Grootdrink, maar net aan die noordekant van die rivier.

Die Saterdagnamiddag het die jonger klomp die Oranje aangedurf en met die kanoe (of is die een ‘n kajak?) en omtrent 6 of 8 binnebande, so 4km van die Grootdrinkbrug af tot by die kampplek. Ons het darem die namiddag laat en aand ook daar gaan kuier en geëet. Die klomp het die sand en muskiete getrotseer en daar geslaap, ons het liewer in ons tentjie op die grasperk gaan slaap. Ek sal probeer om volgende somer die tjoep-rit (van omtrent twee-en-‘n-half ure in die son) en die rivierslaap mee te maak.

Foto’s © Chris van der Westhuizen, 2007 .


Responses

  1. Ek wil nog bitter graag Augrabies toe gaan! Ek dink jy sal nog bietjie moet timmer aan hierdie post😆 Ek sal graag alles wil lees.

    Ek het myne met Blogdesk gedoen en als het goed afgeloop. Dalk moet jy weer probeer!

    Mooi 2008 vir jou en jou familie!

  2. Dankie Sonkind, ek het besluit om net so 2 foto’s van elke plek te gee, vir nou. Ek sal in die nuwe jaar as meer mense terug is ‘n inskrywing doen oor elk van Pofadder, Pella en Augrabies, met alle foto’s wat nie flops was nie.
    (Laat my weet as jy op die oomblik ‘n probleem het om dit te lees, by my lyk dit goed in Firefox, dit vat net bietjie lank om die prente te laai en scroll bietjie stadig op en af.)

    Ek het ook al inskrywings met Blogdesk gedoen (met foto’s) wat baie goed afgeloop het, die verskil was, dan het ek vir blogdesk die foto’s van my rekenaar af gegee sodat hy hulle oplaai na WordPress. Die probleem is, hierdie keer het ek die foto’s opgelaai na ‘n ander plek (Google pages) en link net na hulle. Dit is nie pret om dit met Blogdesk reg te kry nie, of ek kyk iets mis. (Die rede hoekom ek dit doen is om die 50MB by WordPress te spaar.)

  3. Kop, die foto van die windpomp is bo-oor die vierde paragraaf. En die foto van die huis met die windpomp, is ook bo-oor ‘n geskrewe stuk. En van die ander fotos loop oor mekaar. Ek gebruik natuurlik Internet Explorer. Ek hoop jy kan dit regkry, ek is nogals nuuskierig om jou hele post te lees🙂

  4. Dankie Sonkind, dit sal my leer om my posts ook met IE te probeer lees! Daardie browser verstaan duidelik nie HTML nie, ek het nou net weer na die source gekyk en by die prent van die binnekant van die kerk staan duidelik width=60%, met die nodige aanhalingstekens, maar IE wys vir my ‘n smal strepie teks aan die linkerkant en die prent is minstens 80% van die kolom.

    Dit sal eers môre wees, ek sal jou laat weet.

  5. Baie mooi foto’s!! Ons is toe nie Keimoes toe nie, sal liewer wanneer ons Namibie toe gaan, daarlangs aangaan! Ai, en jy’t so uitgesien na jou verlof en daar is dit ook al weer verby!

    Voorspoed en vrede vir jou en jou gesin in 2008!

  6. Kaalvoetkind, as julle Namibië toe gaan, beplan dit so dat julle by ‘n ander grenspos ingaan en deur Onseepkans uitkom, of andersom. Ja dit is maar vinnig verby, maar ‘n deel van die verlof wat ek ook baie geniet lê nog voor: die luilekker dae by die huis, want ek begin eers die 7de werk. Môre gaan ons bietjie Pilanesberg toe, want dis vir ons ‘n spesiale dag.

  7. Baie mooi foto’s. Sien uit na die res.
    Voorspoedige 2008.

  8. Dit lyk baie interessant en die foto’s is baie mooi. Ek hoop om hierdie jaar SA toe te kom en wil hierdie omgewing en Namibië besoek as ek kan.

  9. Pragtige foto’s! Waar’s die res!🙂

  10. […] Ek sukkel maar nog steeds om die sandjies van die vakansie uit my skoene uit te skud. Ek het vroeër ‘n vinnige oorsig van ons vakansie in die Noordkaap gegee en belowe om al die foto’s later te wys – dis nou […]

  11. […] van my grootste gunstelinge geword en ook gemaak dat ek so vinnig as moontlik Chris Barnard se boek Oulap se blou gekoop het – so vinnig as wat ek […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: