Posted by: mykopop | Donderdag 27 Desember 2007

Deon Meyer-vervolgverhaal in Huisgenoot

nostradamus-dok

Ek het nog nooit ‘n boek van Deon Meyer gelees nie. Onlangs het Skoorbek oor hom en sy boeke geskryf. Sy gee ‘n lys van sy boeke in volgorde, ingeval mens dit in volgorde van verskyning wil lees. Ek het toe besluit om ook sy boeke te begin lees, en soek toe begin-Desember een van sy eerste boeke vir die vakansie, maar al wat ek kon kry was sy tweede laaste boek, Infanta.

Gedurende die tyd wat ons weg was, het ek egter ‘n ander boek klaar gelees en verder gedigte en kortverhale, so is Infanta nog ongelees. Gister kry ons toe die nuwe Huisgenoot en sien hulle begin met ‘n vervolgverhaal deur Deon Meyer. Vandag gaan soek ek toe weer by ‘n ander boekwinkel en kry sy eerste boek, “Wie Met Vuur Speel”.

Ek het besluit om die vervolgverhaal hier bekend te stel, maar voor ek dit kon doen, moes ek darem iets van Deon Meyer gelees het. Die versoeking was sterk om die vervolgverhaal te hou tot ek al die episodes het, maar ek het toe besluit om dit te lees, en ook die eerste hoofstuk van “Wie Met Vuur Speel”.

deonmeyer

Die eerste uitgawe van die boek het in 1994 verskyn, die een wat ek gekoop het is ‘n hersiene 2007-uitgawe. In ‘n skrywersnota sê hy dat hy oorweeg het om die boek ingrypend te verander. Hy sê egter die boek is grotendeels dieselfde gehou, net die voorblad is verander. Van die ou voorblad sê hy: daardie oorspronklike voorblad sou vandag om al die verkeerde redes aandag getrek het. Ek wonder hoe daardie voorblad gelyk het – het iemand dit dalk vir my?

Die boek het toe nie ‘n Hoofstuk 1 nie, maar wel ‘n proloog van omtrent 14 bladsye. Daar is ‘n paar dinge wat my nie bevredig nie. Eerstens sien die hoofkarakter die advertensiebord van die sekuriteitsmaatskappy by die landgoed waar hy wil inbreek, bel hulle as ‘n voornemende kliënt en vind so uit die alarmstelsel werk met ultrasoniese sensors. Dan, wanneer hy by die venster inbreek, haal hy ‘n infrarooi-stel uit om die strale van die alarmsensor te sien. Dit klop nie. Ultrasonies is klank, infrarooi is lig. Verder gebruik hy ‘n koeël uit ‘n pistool met ‘n knaldemper om die sensor onskadelik te stel. Dit mag wees dat as die sensor skadeloos gestel word, daar ‘n 50:50 kans is om die alarm te laat afgaan, maar ‘n elektroniese ingenieur wat sy sout werd is, sou die sensor so ontwerp het dat dit in geval van faling die alarm laat afgaan.

Dan sê hy: “Spano kon die verdomde skildery opgerol en in ‘n brandkluis gesit het”. Ek’s nie so seker of mens met veiligheid ‘n skildery wat ouer as 300 jaar is en miljoene rande werd is, kan oprol nie. Later rol die hoofkarakter self die skildery op en sit dit in ‘n silinder, let wel, hy verwyder dit uit dit raam nadat die alarm reeds afgegaan het. Hy sê niks van die spykers of krammetjies waarmee die skildery in die raam gespan is nie. Gaan lees maar self oor die oprol van skilderye en besluit of jy dink die hoofkarakter sou besluit om die skildery op te rol.

Nietemin, die boek begin met ‘n baie spannende storielyn en ek dink ek sal dit geniet.

Die vervolgverhaal se naam is Die Nostradamus-Dokument en begin in Huisgenoot van 27 Desember. Ek het die eerste aflewering gelees. Net die heel eerste sin van die eerste paragraaf voel ek moes later gekom het, dit gee iets weg wat later as ‘n skok moes gekom het. Verder is dit baie spannend. Ek dink dis slim bemarkingsstrategie van Huisgenoot om hiermee te begin in die tyd wat mense ontspanne is in miskien tydskryfte koop wat hulle andersinds nie koop nie. Hulle sê nie uit hoeveel aflewerings die verhaal bestaan nie, maar verseker sodoende hulle sirkulasie tot die einde van die verhaal. Ek is net bly hulle het hulleself nie tot Deon Maas gewend nie.

As hierdie soos ‘n advertensie klink, dit is, maar ek word nie daarvoor betaal nie. Spring gou en kry die Huisgenoot voor die volgende een Maandag op die winkelrakke is!

Interessante skakel: Die sigbare kant van Deon Meyer (Volksblad).


Responses

  1. Ek het ook na ‘n ander blogger se lof, ‘n Deon Meyer, Feniks, aangeskaf. En gister gelees. Dit was OK. Wat ek wel geniet het, is die “bekende omgewing”. Ek kan nie baie opgewonde raak oor die storie of die skryfstyl nie. Ek het nie die spanning van die spanninsverhaal ervaar nie.

  2. Baie danie vir die wense! Voorspoedige 2008 en mag dit vol lekker baie (blog) geselse wees!

    Groetnis en mooi gaan hier vanuit die Groot Karoo

  3. Ek het soms nogal gehou van Huisgenoot se vervolgverhale…van hulle was taamlik goed, sou hierdie een graag wou lees, klink goed! Ek het op ‘n tyd nogal gedink om ‘n kursus in restourasie van skilderye te doen en toe uitgevind net ‘n Kollege in die Kaap bied die kursus aan…en ek kon daardie stadium nie afsit Kaap toe nie…:)

  4. Vergeet om te se! Die illustrasies van die vervolgverhale was altyd vir my nogal goed! Was daar nie ‘n Lategan-ou wat altyd illustrasies gedoen het nie?

  5. Jy’s reg Nikita, dit was F. Lategan. Ek het gou bietjie gesoek en sien Protea Boekhuis het ‘n Groot Afrikaanse Heldeboek (2000) wat nog deur hom geïllustreer is.

    Hierdie vervolgverhaal het my ook laat nadink om bietjie meer moeite te doen om kort- en vervolgverhale in die Huisgenoot en ander tydskrifte te lees.

  6. Ek dink DM is goed….maar miskien is hy nie die beste nie.

  7. […] my sover gekry om Deon Meyer se boeke te begin lees, van ‘n kant af. Ek het reeds, toe ek sy vervolgverhaal in Huisgenoot bekend gestel het, ietsie oor hierdie, sy eerste boek, gesê en reeds bietjie kommentaar gelewer […]

  8. My kinders het ‘n groot skildery van F Lategan.
    Ek wil meer weet van hom – bv leef hy nog – was
    hy en illustreerder een persoon ?


Lewer kommentaar op mykopop Kanselleer antwoord

Kategorieë