Posted by: mykopop | Maandag 3 Desember 2007

Elisabeth Eybers is dood

Gisteraand op die TV-nuus het hulle bekend gemaak dat Elisabeth Eybers in Nederland oorlede is. Ek moet erken, ek het ‘n versamelde werke van haar, maar het nog maar min daarin gelees. Miskien sal Desember 2007 ‘n goeie tyd wees om meer daarin te lees. Ek onthou juis ietsie van ‘n gedig van haar: Maria. Ek haal dit hier onder aan.

Een ding wat ek sal onthou uit die nuusbulletin – hulle het haar soos volg aangehaal:

“Poësie is nie iets wat jy onderneem nie, dis iets wat met jou gebeur.”

-o0O0o-

MARIA (ELISABETH EYBERS)

‘n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
‘n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret !

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink, eenmaal sou hy
die hele wêreldskande dra ?

Toe jy soms met ‘n glimlag langs
jou liggaam stryk… die stilte instaar….
Wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hy sy hellevaart aanvaar ?

Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
Het jy geweet dat hy alléén
Getsémané sou binnegaan ?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon ?

En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was : Ek het dors !

Toe dit verby was, en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan ?


Responses

  1. Sjoe, ek het weer die nuus gemis.

    Die tyd van die jaar is mos ‘n tyd waar soveel mense asem uitblaas, en baie van hulle bekendes. Kyk maar al die huldeblyke en dwarsklappe op die blogs – dit wemel van bekendes en beroemdes.

    Sy kon darem ‘n paar woorde saamsit in ‘n wonderlike lees ervaring. So jammer soveel kinders word op skool afgesit van die digkuns. Ek was een van hulle, maar goddank het ek weer die drade kon optel jare later, en lief ek nou die Afrikaanse gedigte wat vir ons aftergelaat is, en wat steeds geskep word.

  2. Elizabeth
    Mag jy in jou stille rus
    Ons mense steeds met jou woorde sus
    Lekker slaap

  3. Dankie vir die nuus! Wat ‘n jammerte…ek het van “Eerste Liefde” gehou!
    =======
    Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
    En ons het haar begrawe, bleek en stom;
    teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
    bedek haar, sonder smuk van krans of blom.

    Onthou jy haar?…. Sy was tingerig-fyn,
    met vingers slank en lig, haar stem was sag,
    en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
    Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.

    Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
    was beter as ‘n kwynende bestaan
    – maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
    ‘n oomblik by haar graf in mym’ring staan…

  4. Daar is ‘n gedig in Verbruikersverse (1997) waar ‘n ouer EE weer Maria onthou, maar die keer in ‘n heel ander konteks:

    Onze Lieve Vrouwe Gasthuis

    O.L.V.G…. die Maagd Maria
    van oudsher menslik én subliem
    – dog in Gereformeerde kring
    bejeën met terughoudendheid –
    verskyn na sóveel skittering
    nou as ‘n troebel akroniem,
    ‘n leë, rammelende geluid.
    Verpleegsters rol haar volle naam
    nog oor die tong, maar medici,
    van ‘n verhewender stand, volstaan
    met luisterlose sametrekking,
    doen geen toegewing aan haar faam.

    Aanstons moet ek haar huis betree
    vol wankelmoed: O.L.V.G….
    Ek hoop ek haal iets daarvandaan
    wat hoofletters te bowe gaan.

    (OLVG is ‘n groot hospitaal in Amsterdam.)

  5. Jammer, ek het haar naam verkeerd gespel. Ek is baie gewoond aan die “z”. Dankie vir julle bydraes.

  6. Ek het ook die nuus gemis. Dankie vir die brokkie. Een van my jonkwees-gunstelinge en Maria dikwels weer en weer gelees. Tog dankbaar dat Christene begin om ‘n klein bietjie meer waarderingh vir Maria te wys. Dankie vir die aanhaling van die gedigte.

  7. Attie, ek onthou tog dat die gedig voorgedra is by geleenthede, en ek kom uit ‘n stoere N.G. gemeenskap. Ek dink mens kan dankbaar wees teenoor Maria vir wat sy gedoen het en die gesindheid waarmee sy dit gedoen het, net soos jy dankbaar is teenoor enigiemand wat vir jou iets gedoen het. Ek dink die probleem het gekom deurdat die Rooms Katolieke Kerk sekere dinge te ver gevoer het, waar onder Maria-aanbidding, sodat die protestante soort van ‘n afkeer daarin gekry het. Ek dink ek het in my “Kersfees 2007 Kom (1)” genoem dat ek al self die liedjie “Moma Mary” van Roger Whittaker by ‘n konsert gesing het.

  8. Onze Lieve Vrouwe Gasthuis

    Ek verstaan nie mooi daai gedig nie.

    Nogal gefassineerd met Elizabeth oeps ek bedoel Elsabeth nou… die stilte in haar, die skugterheid.
    My sus het al die digbundels, by my pa geërf, ek dink ek moet biki by my sus gan kyer.

    .
    Kan mens haar werk aanhaal?
    Kan ek van haar gedigte op my webwerf sit of moet ek toestemming by haar uitgewers kry?

    Mens wil darem deel wat vir mens mooi is en what touches your soul

    Love
    Anne


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: