Posted by: mykopop | Vrydag 30 November 2007

So op nommer 99!

Guten tAg!

Ek het al gesien mens kry ‘n ‘tag cloud’, en die afgelope paar dae het daar in die Afrikaanse blogosfeer ‘n ‘tag storm’ losgebreek. So amper aan die einde, hier is ek ook. As WordPress reg getel het, het ek nou 98 inskrywings gepubliseer, so hierdie een is nommer 99.

Ek weet daar word gevra dat jy 8 dinge oor jouself vertel waarvan niemand veronderstel is om te weet nie. Ek gaan nie hier goed uitlap waaroor ek skaam is nie. Ek glo daarin om te konsentreer op die positiewe dinge in my lewe, maar ek sal bietjie uitbrei op elkeen, so dalk glip daar tog ietsie uit. Vir diegene wat al ‘n rukkie my blog lees sal die meeste seker nie nuus wees nie.

Een
Ek slat my twee oge op
my kyk vang die verste kop:
waavanaf sal my hulp nou kom?
my hulp is van die Jirre, van Hom
(Hans du Plessis, musiek Randall Wicomb)

Ek is nou nie ‘n ou wat heeldag met die Bybel loop en smous nie, maar godsdiens is vir my belangrik. Ek het ook al baie geworstel met die vraag “Is daar ‘n God?” en “Waar kom die heelal vandaan”. My gevolgtrekking is dat ons die tweede vraag nie in hierdie lewe sal kan antwoord nie, maar as ons na die wonder van alles rondom ons kyk, hoe mooi die goetertjies in mekaar pas en hoe fyn beplan dit is, is die antwoord op die eerste vraag “Ja”.Dan is die volgende logiese vraag seker: “Maar is die God van wie my ouers my geleer het nou die werklike God?” Ek het net vir myself besluit dis nie vir my nodig om ander godsdienste te ondersoek nie, ek bly by die God en die kerk waarmee ek grootgemaak is.

Ek kan besonder goed identifiseer met die Griekwapsalms van Hans du Plessis en Randall Wicomb. Dit was vir my ‘n belewenis om Randall Dinsdagaand te sien optree en sy DVD persoonlik by hom te koop. Langs die Oranjerivier, waar ek vir die meeste van die tyd grootgeword het, was ons werkers meestal bruinmense, destyds was daar min swartmense daar. Die bruinmense daar was ook maar verwant aan die Griekwas, dit is nie verder as 200km van Griekwastad af nie. Ons as kinders het dikwels van ‘n entjie af dopgehou hoe hulle kerk of begrafnis hou. Gedurende die tyd toe ek op Upington gewerk het (sien Ses), het ek gereëld op stasie naby Griekwastad en Prieska gewerk. Dus sal “Hy’t nou die hemel en Prieska gekom maak” my altyd ‘n traantjie laak knip.

Twee
On our wedding day
We knelt by candle light
You brought me your love so pure
I brought you a ring
With these words inscribed
A mi esposa con amor

A mi esposa con amor
Means to my wife with love
All that I am
I pledge to you
On earth and in heaven above
(S. James, C. Smith)

Ek is vroegerig in 1981 met Marietjie getroud. Ek sal julle vroegerig in 2008 laat weet presies wanneer. Ons is geseënd met drie kinders, ‘n seun en twee dogters. Ek het ‘n langspeelplaat van Andy Williams The Other Side Of Me waarna ek baie graag luister. So twee jaar terug sien ek toe Amazon het die langspeler plus ‘n ander een van Andy saam op een CD. Toe die CD pas aangekom het, is ons na ‘n troue op Klerksdorp en ek het die musiek op ‘n mp3-spelertjie saamgeneem, veral om die onbekende album te leer ken. Toe ek die Sondag-oggend in die gastehuis wakkerword, het ek na die musiek lê en luister. Ek ontdek toe die lied A Mi Esposa Con Amor. Toe Marietjie ook wakker was, het ek vir haar die een oorfoon gegee en haar saam daarna laat luister – baie treffend na die troue van die vorige aand!

Ek is een van vyf broers. Na die eersteling wou my ma graag ‘n dogtertjie hê en haar Marietjie noem, maar my pa moes maar telkens weer die familie laat weet: Marietjie is weer ‘n seun! Vandag het my ma darem twee Marietjie-skoondogters.

Drie
Canta Libre…
I’ve got music, running in my brain
makes me feel like a young bird flyin’
(Neil Diamond)

Musiek is vir my amper belangriker as kos en water. (Koffie en wyn: debateerbaar.) Ongelukkig kon ek nie as kind musieklesse neem nie, ek het myself later bietjie kitaar leer speel. Ek het klavierlesse geneem toe ek al in die veertig was, dit het redelik goed gegaan maar ek moes dit laat vaar weens ‘n pinkie wat nooit weer dieselfde sal wees nie. Ek glo nie ek sal ooit enige instrument goed kan bespeel nie. Maar my groot vreugde is my musiekversameling en om konserte by te woon. Ek het o.a. ‘n byna volledige versameling van Neil Diamond, nie dat ek ‘n groter bewonderaar van hom is as van ander kunstenaars nie, dis net dat hy soveel meer liedjies geskryf en albums gemaak het. Ek hou ook van klassieke musiek, en sedert mense soos Anton Goosen en Koos du Plessis in Afrikaans begin skryf het, is dit my groot droom om ook minstens een liedjie in Afrikaans te skryf wat ‘n kommersiële sukses is. Ons Afrikaanse musiek is vir my soos ‘n skat en my versameling Afrikaanse CD’s bly groei.

Vier
I built me a castle
With dragons and kings
And I’d ride off with them
As I stood by my window
And looked out on those
Brooklyn roads
(Neil Diamond, alweer)

Ek moes maar vroeg in my lewe aan myself erken ek is ‘n volslae dromer. Vir die van julle wat gewag het vir een of ander onthulling, hier kom dit: Toe ek nog op laerskool was het ek saans as ek wakker gelê het in die bed, gedroom ek is alleen gestrand op ‘n eiland, ek dink iewers so suid-oos van Kaapstad. Elke aand het ek die droom bietjie verder geneem. Ek het darem ‘n paar gereedskapstukke uit die opdrifsels kon red. Eers het ek natuurlik vir my ‘n hut gebou om in te bly. Ek kan nie meer al die detail onthou nie, maar ek het koringlande geplant, ek dink ek het seker op die eiland diere gevang en makgemaak vir trekdiere. Toe het ek ‘n skip gebou. En later ‘n masjien om Weet-Bix te maak. Toe ek genoeg koring en Weet-Bix opgegaar het, het ek my skip gelaai en teruggekeer na Tafelbaai – net betyds om Kaapstad van totale hongersnood te red met ‘n skip vol koring en Weet-Bix, want toevallig was daar ‘n groot droogte!

Vyf
My kiekies is bewyse
van die feit dat ek ook daar was
‘n prentjiekommentaar van my bestaan
(Lucas Maree)

Ek het van kleins af in fotografie belang gestel. In St. 2 of 3 het ons ‘n onderwyser gehad wat ‘n ontwikkelingstenk gehad het. Sover ek kan onthou ek hy net die films tot negatiewe ontwikkel. Dit het my gefassineer. Gedurende die tagtigerjare het ek al die nodige donkerkamertoerusting aangeskaf om films ontwikkel en swart en wit afdrukke te maak. Ek het ook ‘n SLR kamera gekoop. Vandag weet ek nie eens meer waar om die nodige chemikalieë te koop nie, maar ek het nog al die goed. Ek twyfel of ek dit ooit weer gaan gebruik. Ek het net ‘n mik-en-druk elektroniesie kameratjie, maar eendag is eendag, dan gaan ek vir my ‘n meneer van ‘n digitale kamera koop.

Ses
Anything you can do, I can do better
I can do anything better than you
(Irving Berlin – uit Annie Get Your Gun)

As mens enigiets in die lewe wil bereik, moet jy in jouself glo. En dieselfde onderwyser wat die ontwikkelingstenk gehad het, het ons geleer van die saamgestelde oog van ‘n vlieg, en gesê ‘n mens moet ‘n ideaal hê. Syne was om ‘n kamera te ontwerp wat ‘n foto deur die saamgestelde oog van ‘n vlieg kan neem – hy wou sien hoe dit lyk.

Ek weet ek het ook my beperkings, ek sal bv. nie kernfisika op nagraadse vlak kan baasraak nie. Ek het ook al my mislukkings gehad, na skool het ek Elektriese Ingenieurswese by Tukkies gaan studeer, maar dit nie gemaak aan die einde van die eerste jaar nie. (Dit was nommer Drie se skuld.) Toe moes ek maar gaan werk vir die Poskantoor en het in die proses ‘n T4 diploma gekry. Na ‘n paar jaar het ek deur Unisa begin studeer en na 7 lange jare my B.Sc. verwerf, maar eers moes ek twee keer van werk verwissel. Ek het weens my eksamens elke jaar struwelinge met die Poskantoor opgetel.Ek kry toe werk as onderwyser by die tegniese skool waar ek ook ‘n leerling was. Ek het hard gewerk en dit geniet, ek het ook baie geheg aan die kinders geraak en ek dink van hulle ook aan my, maar ek het agtergekom ek kan nie elke dag voor ‘n groep mense staan nie, al is dit kinders. Ek is ‘n introvert en wil graag die grootste gedeelte van ‘n dag alleen werk. Ek het ook gesien ek maak nie vordering met my studies nie, dit grotendeels weens die feit dat ons in die koshuis gewoon het ek ek nog koshuisdiens ook gedoen het. Vir die tweede keer in my lewe bedank ek toe – sonder dat ek ander werk het.

‘n Ander geleentheid het himself voorgedoen, die SAUK het hulle senderbeheersentrum van Kimberley na Upington verskuif, en so begin ek toe op 1 April 1988 daar werk. Of liewer nie. Die dag het tussen ‘n naweek en ‘n vakansiedag geval en ons het op die stelsel gewerk dat jy oortyd werk en dan die tyd weer afneem. Aangesien die res van die personeel almal die dag afgeneem het, het die bestuurder ingestem dat ek met ‘n afdag en ‘n 8-ure debiet begin! (Darem nie heeltemal so ‘n Aprilgek nie.) Ek het tot einde 1996 daar gewerk, nie meer heeltyd vir die SAUK nie, maar ons is so afgeskei van die SAUK dat my diensjare aangegaan het, ek het dus nou amper 20 jaar diens.

Die tyd op Upington het my die meeste geleer om met my hande te werk. Die senderstasies is gewoonlik ‘n entjie van die naaste dorp af. As daar ‘n werkie met sement gedoen moet word kan jy nie eers gou ‘n bouer gaan kry nie. Jy doen dit self. Jy improviser met wat jy beskikbaar het. Ek sal nooit spyt wees daaroor nie, ek is bereid om enigiets te probeer. Onlangs het Steve Hofmeyr ‘n inskrywing gemaak om te sê dat hy 10 uit die 20 vaardighed het wat in die tydskrif gelys word. Ek weet nie hoekom hy gesê het 20 nie, want die tydskrif se voorblad het gesê 21. Ek wou einlik reageer deur te sê “20/20”, want die twee of so dinge wat ek nog nie self gedoen het nie, sal ek kan baasraak.

Ek kan kosmaak.

Ek kan ook met al my vingers tik sonder om op die sleutelbord te kyk! Marietjie het my in 1984 geleer op ‘n ou draagbare tikmasjientjie, ter voorbereiding van die aankoop van my eerste rekenaar in 1985.

Sewe
Old Friends
Old Friends
Sat on their park bench like bookends
Newspaper blowin’ through the grass
Falls on the round toes
Of the high shoes
Of the old friends
(Paul Simon, gesing deur Simon & Garfunkel)

So oud is ek darem nog nie, maar ek is effens aan die verkeerde kant van 1960 gebore. Net effens. Ek wonder of dit my ‘n senior blogger maak? Ek kry die indruk dat party van die bloggers omtrent die helfte van my ouderdom is, maar ek dink daar is darem ook ‘n klompie van so 37 tot in die 40. Hulle sal binnekort wees waar ek nou is, terwyl ek op pad sal wees om ‘n bookend op ‘n parkbankie te word. Nee ek is glad nie van plan om dan meer in ‘n stad te woon nie, sien Ag. Intussen dink ek hier word vriendskappe gesmee wat jare kan hou, en ouderdom is nie juis ‘n faktor nie.

Ag(ge nee! Klaar alweer! Dit het nou net begin lekker raak.)
I’d play Sally Goodin all day if I could
But the Lord and my wife wouldn’t take it very good
So I fiddle when I could, work when I should
Thank God I’m a country boy

(John Martin Summers – gesing deur John Denver)

Ons wil graag ‘n klein plasie koop, so R700 000 of bietjie meer. As julle van iets weet, veral in die Noordkaap laat my weet asseblief!

Nog woorde in die liedjie waaroor ek mal is: Well life on the farm is kinda laid back,
Aint much an old country boy like me cant hack (Sien Ses!) en Well I got me a fine wife I got me a fiddle, When the suns comin up I got cakes on the griddle. Ek hou net die roosterkoeke vir ‘n braai en maak liewer pap vroeg in die oggend.


Responses

  1. Baie interessant! Myne wag nog vir my!🙂

  2. Ek stem – baie interessant!!

  3. Kop, hierdie is een van die vermaaklikste “tag”-inskrywings wat ek nog gelees het! En ek lag nou-nog vir die Weetbix-masjien.🙂
    Met alle opregtheid gese: Mense soos jy is die sout van die aarde. Ek hou van jou! 8)

  4. Ja-nee, ek stem saam met BiB. En Kop, ek is 100% met jou oor nommer 1. Ek is ook moeg om te wonder en te verduidelik. My saak met my en my God is my saak, en ek glo my saak met my God is reg. En ek gun elkeen daarbuite hul eie geloof.

    Nommer 3 – musiek en boeke. Ek sal honger bly en eerder ‘n boek of musiek koop.

    Oor die ouderdom ding – watter kant is die verkeerde kant van 1960?😆 Jy sal verbaas wees – ons almal is dalk nie so jonk soos wat ons klink of jy dink nie. Age is a state of mind.

    Dis wat blogging so lekker maak, mens ‘connect’ met ander mense wat jy andersisn nooit sou nie, juis omdat hulle in ‘n ander ouderdomsgroep val. Sommige jong mense het ou siele, sommige ou mense sal altyd kinders bly.

  5. Dankie dat julle van my hou. As ek die sout is, dan is julle seker die spice! Sonkind, verkeerde kant is natuurlik terug in die 1950’s in. Ek wonder of daar nog een blogger is wat voor 1960 gebore is, en die guts het om dit te erken.

  6. Blokkie, jy sal maklik in die Noord Kaap ‘n plaas vir daai prys kry. Natuurlik nie ‘n besproeings plaas nie, maar ‘n lekker stukkie Karoo plaas.

    ‘n Baie interessante tag post, maar nr 3 is vanselfsprekend, want ons het jou mos nou al leer ken! Ek geniet jou liedjie info altyd baie.

  7. Dankie Roer, prys-per-hektaar gewys behoort mens dit te kan kry, maar ongelukkig is die plase gewoonlik groot en verkoop vir ‘n paar miljoen. (Ek het nog nie een van daai’s nie – Lucas Maree het hom gevat.) Die plasie is wat my hart sê, my verstand sê ons moet ‘n woonstel of iets koop en hou tot ons die Gauteng-huis verkoop en dan alles bymekaargooi vir ‘n plaas. Maar laat weet as julle van iets weet asb!

    As ek nr. 3 uitgelos het sou dit mos nie ek gewees het nie, mmmm?

  8. lekker gelees weer vandag aan paar van jou blogger-inskrywings.
    so nou bieg ek ook maar – ek is voorwaar ‘n ouer bloggerweergawe as jy, as ek my somme reg het, lol. dis natuurlik as ons kalendertyd gebruik, maar ons is mos oud genoeg ook om te weet daar is baie anner maniere van meet😉


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: