Posted by: mykopop | Donderdag 22 November 2007

Gimme Hope, Thabo!

Toe ek met hierdie blok begin het, was ek van plan om te bly by musiek, gedigte, boeke, DDS en miskien die bewaring van die omgewing. Politiek was ek van plan om ver verby te stuur. Gelukkig of ongelukkig kom stop die muse soms ongevraagd enigiets wat sy wil in mens se kop in. So het dit dan gebeur dat ek ‘n limeriek “Etnie Sê: Suiwering!” geskryf het en nog allerhande stoute idees gekry het vir ‘n spotprentjie daarby ook.

Glo dit of nie, hier is ek besig om te skryf oor politiek. (Moenie bekommerd wees nie – ek sal nie sommer weer nie.) Bg. limeriek en spotprent kan maklik uit verband geruk en as rassisties gebrandmerk word. Ek wil dus net sake mooi in perspektief stel. In die Huisgenoot van 15 November 2007 is ‘n artikel oor die spotprenttekenaar Zapiro. Hy sê (met Jacob Zuma in gedagte) oor spotprente: “Lyk my nie hy verstaan dat spotprente iets dikwels ‘n paar absurde stappe verder neem juis om te wys hoe skynheilig sommige mense is nie”. Ek dink dit is baie die geval met limerieke. Jy kan amper sê ‘n limeriek is ‘n spotprent in woorde, met ‘n (redelik) vasgestelde ritme en rympatroon.

Iets waarvan ek nie maklik heeltemal kan wegkom nie, is dat ek gebore is en grootgeword het in ‘n tyd en gemeenskap waar apartheid “normaal” was. Dis ‘n gegewe. ‘n Swart of bruin man of vrou moes sy of haar plek ken, maar terselfdertyd het my ouers my darem geleer om respek te hê vir ‘n ouer persoon, al is hy of sy van ‘n ander kleur. Ek dink dit het egter meer oor klasverskille gegaan. As kind wat besig is om die wêreld om jou te ontdek, leer jy dit maar aan. Net soos jy leer hoe om jou skoenveters vas te maak of hoe met ‘n graaf water te lei uit ‘n leivoor.

Eers later begin jy bietjie vir jouself dink. Op Hoërskool, ek reken my laaste twee of drie jare op Hoërskool, het ek aan debatsaande deelgeneem. Ek onthou dat ons een aand oor segregasie en integrasie moes praat. Ek onthou ook dat ek ter voorbereiding ‘n artikel in die Huisgenoot gebruik het, wat die titel of presiese strekking van die artikel was kan ek nie onthou nie. Ek het die aand ‘n redelik liberale toespraak gelewer. Ek onthou dat ek gesê het jy kan maar ‘n persoon van kleur met die hand groet, want glo my, in daardie dae het ‘n wit man nie sommer ‘n bruin man met die hand gegroet nie. Ek het inderdaad ook toe al begin om gekleurdes met die hand te groet. Ek onthou ook dat ek gesê het wat werk aanbetref, moet almal ‘n gelyke kans gegee word, ongeag van kleur.

Ek het al gehoor dat as mense van die fisika praat, hulle sê dat ‘n liggolf nooit heeltemal wegsterf nie – iewers in die ruimte is die seine nog op pad van toe Johanna van Arkel op die brandstapel verbrand is. Ek hoop dat die vibrasies van daardie toespraak nog iewers daar buite op pad is, en wens dat ek dit op een of ander manier op ‘n DVD kon opvang.

Eintlik het ek in daardie jare maar min van politiek geweet en min daarop gekonsentreer. Ek het in ‘n tegniese rigting belang gestel, ek het geleer en aangegaan met my lewe, soos mense maak in honderde ander lande in die wêreld. Mense in lande waar almal een kleur is en een kultuur het, het nie nodig gehad om oor al hierdie dinge te dink nie. Dit is ook waarvan die meer liberale politici my oortuig het, en ek het werklik geglo ons kan ‘n nie-rassige samelewing hê, al verskil ons velkleure en kulture. Daarom het ek ook in die referendums “Ja” gestem.

So twee weke terug, het hulle die aand op die TV-nuus uittreksels gewys van wat Pres. Thabo Mbeki daardie dag in die parlement oor die Springbokke en sport gesê het. As ek kyk na hierdie IOL-artikel “No race quotas for sports teams“, dan moes dit op Donderdag 9 November gewees het. Ek wens ek kon die nuus-uittreksels gehad het. Ek kan wel onthou dat hy dinge gesê het wat my hoop gegee het, en dan net daarna weer dinge wat die hoop wegvat. So amper asof hy homself weerspreek.

Ongelukkig, net ‘n paar dae later, op 13 November, kom dr. Piet Koornhof te sterwe en ek hoor op die radio of TV ‘n toespraak wat hy destyds in die apartheidsjare gelewer het, waarin hy gesê het die Springbok-naam en -embleem is deur die “blanke nasie” geregistreer en die ander “nasies” moet maar hulle eie registreer. Eina! Dis jammer dat daardie een deur die tegnologie vasgevang is en nie maar net as ‘n golfie iewers in die buitenste ruimte op pad is nie. Gelukkig weet ons darem ook dat dr. Piet in later jare deur sy leefwyse ‘n heel ander gesindheid jeens mense van kleur weerspieël het.

In dieselfde dae kry ek die volgende artikel by Chessalee in Londen: Rev. Abraham T. Sibiya – Speaking to Ourself: Blacks must run faster, or they’ll forever remain behind. Hy begin soos volg: “It is almost disturbing that, in this day and age – 13 years into freedom and democracy, we still have people with deep racist tendencies. I am not talking about white people, as many of you may conclude. I am ashamedly speaking about our own black brothers and sisters.” Rev. Sibiya sê verder oor die wêreldbeker wat die Springbokke gewen het: ” It is totally racist for some politicians to attempt or even speak about dismantling this pride of South Africa, just to include more black faces in the squad. It is not the colour of the skin that plays good rugby, it is the talent the man has.” Hoera vir Rev. Sibiya! Ek het ook al elders ander swart mense se opinies gelees, wat ook so redeneer. Dit is presies wat ek in gedagte gehad het toe ek daardie toespraak van my in 1975 of ’76 gemaak het.

Oor kwota’s voel ek dis miskien nie heeltemal verkeerd nie, maar ons kan dit bv. nie koppel net aan die demografie van die bewoners van die land nie. As daar bv. (en ek ken nie die syfers nie) 80% mense van kleur in die land is en 20% blankes, beteken dit nie noodwendig daar moet net 3 uit 15 blankes in die Springbokspan wees nie. Mens moet bv. kyk na hoeveel seuns van elke ras speel rugby op skool. Hoe lank speel hy al rugby. ‘n Seun wat van Gr. 1 af rugby speel het meer ondervinding as een wat eers in Gr. 10 begin, miskien omdat hy sien hy gaan dit nie maak in sokker nie, maar in rugby kan kwotas hom die geleentheid bied om in te kom. Vermenigvuldig al die faktore met mekaar, en ons kom dalk uit by ‘n ander getalleverhouding vir die span.

Getrou aan my aard, moet ek dit darem bietjie aan musiek ook koppel. Toe die een stelling van Pres. Mbeki op TV my so half hoop wou begin gee, het ek onwillekeurig gedink aan die liedjie “Gimme Hope, Jo’anna” van Eddie Grant.

Well Jo’anna she runs a country
She runs in Durban and the Transvaal
She makes a few of her people happy, oh
She don’t care about the rest at all

Ongelukkig moet ek wonder of “a few of her people” vandag nie dalk net ‘n sekere klein elite is nie, en “She don’t care about the rest at all” nie dalk nou verwys na die res van ons, swart en wit almal ingesluit, nie.
I hear she make all the golden money
To buy new weapons, any shape of guns

Vandag word die wapens nie so baie hier by ons gebruik nie. Dank die Vader daarvoor. Maar word dit dalk nou net gebruik om reuse bedrae te kan rondgooi, want ‘n persentasietjie van ‘n reusebedrag (miljarde) is mos nog steeds ‘n klein ou fortuintjie (miljoene). Soos Tim Rice geskryf het in die lirieke van Evita: “Now, cynics claim a little of the cash has gone astray. But that’s not the point, my friend.”

While every mother in black Soweto fears
The killing of another son

Ons almal se harte moet nog steeds bloei oor elkeen wat dood is, grootmens of kind, swart of wit, in die stryd vir of teen apartheid. Dit was onnodig. Ek sê weer ons moet dankie sê dat ons vandag vrede het in ons land. Ek wil nie hier die dood van antii-apartheidstryders verklein tot iets minder as wat dit is nie. Wat ek net wil sê is dat mense nie op ander maniere “doodgemaak” moet word nie. Ek het al dikwels gehoor dat predikante oor die gebod, “Jy mag nie doodslaan nie”, sê dat jy ook bv. iemand met woorde kan “doodmaak”. Nou het ek ook al gesien mense verloor hullle selfrespek en menswaardigheid as hulle eenvoudig nie werk kan kry nie, en dit net omdat hulle blank is. Is dit nie maar ‘n ander manier van doodmaak nie, deur mekaar niks te gun in die lewe nie? Dieselfde geld by die toekenning van bevorderings in die werkplek.

Pres. Thabo Mbeki, baie dankie vir die bietjie hoop wat u my daardie aand tydens die nuus gegee het. Van die kere wat u weer die hoop wegneem, sal ons maar saam met daardie ongelukkige toespraak van dr. Piet Koornhof probeer vergeet. Gaan asseblief voort en geen ons almal hoop! Ek hoop dat my gesindheid u ook ‘n bietjie hoop gee. Ek is nog dieselfde seun wat in 1975 of ’76 daardie debatstoespraak gemaak het.

Foto:
SA Rugby

Skakels:
YouTube video Johanna
Lirieke van Gimme Hope, Jo’anna

Apologie:
Lucas Maree, vir die woorde ” ‘n klein ou fortuintjie” uit sy treffer Miljoen.


Responses

  1. Ek het gister Cape Talk/702 geluister omdat RSG met sy “polities korrekte, Suid-Afrika is so ‘n mooi land met goudgeel blommetjies en mense in reenboog kleure” my grensloos begin irriteer.

    Mensig, rassisme is alive en well op daai AM luggolwe. En die mees verbasende aanvalle was Swart op Swart.

    Rasse- en klasseverskille sal sowaar as wat padda ‘n manel dra, NOOIT verdwyn is Suid-Afrika nie. Never.

  2. Skoor vertel:

    “Rasse- en klasseverskille sal sowaar as wat padda ‘n manel dra, NOOIT verdwyn is Suid-Afrika nie. Never.”

    Is ek verkeerd as ek dit verander na:

    Rasse- en klasseverskille sal sowaar as wat padda ‘n manel dra, NOOIT verdwyn in die WERELD nie. Never.

  3. Om soos Rev. Sibiya te skryf verg seker net soveel moed as wat dit in die ou tyd geverg het vir ‘n blanke om teen Apartheid te praat.

  4. Goeie, eerlike inskrywing, Kop!
    Alleman, ek’s geneig op saam te stem.

  5. ‘n Baie goeie inskrywing, geluk! Ek sien ek heelwat lees om op te vang, ek het internet-konneksie probleme tuis en Virgin stuur eers Maandag iemand uit!😦 dus, ek doen wat ek kan by die kursus, wat ‘n patetiese lot hier wat eers iemand Maandag kan uitstuur nadat ek hulle eergister al geskakel het!!

  6. Blok, dit gaan beslis oor gesindheid vir my. Mooi inskrywing en ek is bly jy kraak nie vir Pres Mbeki af nie. Ek is baie dankbaar hy is ons president en nie Mugabe nie. Ouens soos Bongi (http://other-things-amanzi.blogspot.com/), Rev Sibiya, jy en almal wat kan ‘verstaan’ en saam werk, gee my hoop vir hierdie land.

  7. Goeie inskrywing Chris! Ek stem 100% saam oor die gesindheid.

  8. http://www.thetimes.co.za/News/Article.aspx?id=626956
    Dog ek moet jou die link los, na die artikel wat jy my gestuur het! en terwyl ek so bietjie internet-konneksie weer het!

  9. @ Almal : Baie dankie vir die kommentaar.

    @ Skoor & Louw: Ek stem saam, rasse en klasseverskille sal nooi verdwyn nie, maar ons moet daaromheen werk, anders is die hele beginsel of verskillende rasse en kulture in een land kan saamwoon in die gedrang.

    @ Alleman: Ek stem en daarvoor het ek die grootste respek vir Rev. Sibiya. Wens ek kan hom ontmoet.

    @ Roer & Kaalvoetkind: Bly ons het dieselfde gesindheid.

    @ Nikita: Minder mooi van Zapiro, dink ek, sy standpunt oor vryheid van spraak is geldig, maar miskien moes hy ‘n ander manier gesoek het. Nadat ons ADSL vir amper 3 weke af was en laas Woensdag herstel is, het die weer Vrydagaand op ons huis geslaan, ‘n paar ander goed stukkend en ADSL weer af. Dit was darem toe net die telefoonfilters en van die modem net 2 ethernetpoorte beskadig, toe gaan alles weer goed, gisteraand weer ‘n donderstorm, prop alles uit en toe ons na die tyd probeer is ADSL weer dood en die telefoonlyn kraak. Ek het die hulplyn gebel en my rekenaar se mikrofoon op die telefoongehoorstuk gesit. Hulle het ‘n uur gevat om te antwoord en toe mis ek hulle net. Ek kon dit darem vanoggend rapporteer. So moenie my op die blok verwag die naweek nie! Jammer my “uit-die-ês-hel” storie is onvertaalbaar vir jou diensverskaffer.

  10. Rassisme en diskriminasie is wêreldwyd, soos Louw tereg opgemerk het. Ek verpes ook die woord reënboognasie – die kleure van die reenboog is rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en violet. Wie in hierdie land is daai kleur?

    Die dag wanneer elke mens ‘n ander oordeel op wie hy is en nie wat en watter kleur nie, sal die dag wees wat die wêreld perfek sal wees, en DIT IS NOOIT NIE. Ongelukkig.

  11. […] Politiek — mykopop @ 22:01 Elf maande en 3 dae gelede, op 22 November 2007, het ek geskryf: “Gimme Hope, Thabo!” Vandag het ons land ‘n ander president. Nou kan ek darem nie die dag laat verbygaan sonder om […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: