Posted by: mykopop | Saterdag 17 November 2007

Pap

Wie van julle maak nog pap?

Ek het allerhande moelike dinge waaroor ek tans wil skryf. Toe kry ek sommer nou net lus om oor iets makliks te skryf.

Ek weet mieliepap is nog baie gewild by ‘n braai. Ek weet ook daar is verskillende idees hoe mieliepap moet lyk, bv. stywepap of krummelpap vir ‘n braai. Ek wil eintlik praat oor pap vir ontbyt.

Ek het in die Kaapprovinsie grootgeword. Ons het daar glad nie pap saam met braaivleis geken nie. Ons sou liewer roosterkoek braai saam met die vleis. As kinders het ons elke oggend pap geëet. Slap mieliepap of hawermout, maar ons het nooit van hawermout gepraat nie, wel van oatspap. Party oggende mag ons Weet-Bix of Post-Toasties gekry het, maar dit was selde. As al die pap in die huis op was, het my ma broodmeelpap gemaak. Dis baie lekker, maar jy moet baie versigtig wees of dit maak klonte. Later het ons ook Maltabella-pap leer ken. (Toe ek eers uit die skool was, het ek pap en sous in die Transvaal leer ken. Ek hou daarvan ook.)

Deur die jare het ek maar aangehou om darem so nou en dan vir myself pap te maak. Die laaste jaar of so het ek dit ‘n instelling gemaak om elke Saterdagoggend vir my pap te maak. In ons gejaagde lewens kry niemand natuurlik kans om weeksoggende pap te maak nie, dus het ek vyf verskillende kitsgraanontbyte vir die vyf werksdae, plus muesli vir Sondae. Ek het altyd Saterdae gebakte eiers (partykeer met spek of worsies) saam met roosterbrood geëet, maar nou het ek die roosterbrood afgeskaf – ek eet my twee gebakte eiers en wat ookal daarmee saamgaan, en daarna my bord pap.

Elke Saterdag, terwyl die res van die huis gewoonlik nog slaap, maak ek vir my pap. Of liewer, vir my en Sebastian. Sebastian is baie bly as ek pap maak, want as ‘n reël kry hy nie ontbyt nie. Ek het net uitgevind Sebastian hou nie baie van Maltabella nie. Vandag sal hy darem ietsie kan geniet – ek was nie lus vir iets moelik soos mieliepap of Maltabella nie, ek het oatspap gemaak.

Smaaklike ete!

Naskrif: Skoorbek, hierdie is nie bedoel as ‘n reaksie op jou Papport nie! Wat ookal julle eet, boikot net maaskaas.


Responses

  1. Niks so lekker soos krummelpap saam met braaivleis nie. En die volgende oggend eet jy die pap wat oorgebly het saam met suiker en melk. Ai, hoe water my mond nou vir ‘n lekker cholestrol-gevulde braai met Grabouw-boerewors en skaaptjoppies!

  2. My mond water ook nou behoorlik vir heerlike krummelpap. Ek het dit leer maak by ons bediende op die plaas, sy kon darem vir jou krummelpap maak dat niks anders vir jou saak maak as net dit nie! Ons maak deesdae sommer gou-gou stywe pap in die mikrogolf! Jy sit slegs die meel in (niks anders) vir so 3 min, haal uit, roer bietjie om, weer vir 3 min…dan kook jy water, na die 6 min, meng kookwater met daardie einste mikrogolf-meel, roer baie goed en plaas terug in mikrogolf vir 3-4 min…en siedaar! jy het stywepap! Jy moet net jou verhoudings uitprobeer, hang af hoeveel mense wil eet….maar dit is baie vinniger as die tradisionele manier van op die stoof! En baie jammer om te hoor van jou skade! Ek hoop nie dis te erg nie! Dit moes dan ‘n baie harde donderslag gewees het…en dit na Totius se gedig op my blog! ….ek belowe, ek het niks daarmee te doen nie!🙂

  3. Oi. Pap en sous by braaivleis, ja! Nou verlang ek Nam toe – daar het ons pap en sous geëet. Te lekker. Soggens gryp ek sommer graankos van soorte.

  4. Mal oor pap (vir ontbyt en braai). Dis ongelukkig nie so goed vir die agterent nie, so ek probeer dit maar nie te gereeld eet nie.

  5. Ai, ek wens tog so ek kan iemand kry wat vir my ordentlike maltabella slappap kan maak. My pa het dit nog laas vir my gemeek soos wat ek daarvan hou. Ek sal my geboortereg verpand vir Maltabella pap.

    En dan is hierdie Capey ook nogal dol oor stywepap en sheba!

  6. Sonkind, dit is nogal moeilik om Maltabella te maak sonder dat dit klonte maak. Ek dink jy kry twee soorte, daar is een vir mikrogolf, maar ek koop die gewone een – ek maak my pap op die stoof. Die metode is dieselfde as vir slap mieliepap. Jy meng die meel eers met ‘n bietjie koue water sodat daar geen klonte is nie (onthou die sout). As jy dit goed gemeng het en daar geen klonte is nie gooi jy kookwater by en sit dit op die warm plaat. Jy moet aanmekaar roer. Op daardie stadium wat dit net wil begin kook, as dit begin verdik is dit kritiek om aanmekaar te roer want dan maak dit maklik klonte. Maar terselfdertyd wil hy ook begin skiet en dit kan nogal seer wees! As jy hom daar verby kry laat net prut tot gaar. Ek het ook al ‘n eierklitser gebruik om van die klonte onstlae te raak!

  7. My man is ‘n Vrystater en hy’s altyd die papman by ‘n braai. Hy maak die lekkerste pap met botter en pitmielies of met botter en fyn biltong daarin. Die dae wat ons huishulp inkom maak ek vir haar pap en dan eet die kinders gewoonlik ‘n eier saam met hulle pap. Pap wat in ‘n swart ysterpot gemaak is, is vir my lekkerder as pap wat in ‘n gewone kastrol gemaak is.

  8. Ek ken ook nie van pap by braaivleis nie. Nee man, braaibroodjies met kaas en tamatie en mrs balls!

    Maar kookpap, die het ouma altyd gemaak. Elke dag van elke vakansie wat ek op die plaas gaan kuier het.

    Omdat kaas maar skaars was daar agter die blou berge, was dit ‘n helse treat om kaas in daai mieliepap te gooi. Dan trek dit sulke drade.

    Maar gewoonlik het oupa biltong uit die kombuiskas gehaal, en met sy Lambfoot knipmes, so fyn gesny, en dan het ons gesmul aan ons mieliepap en biltong.

    Probeer bietjie daai… dis ook nie net die Italjaners wat polenta en parmesaankaas gemeng het nie! Of miskien is daar Italjaanse bloed in ouma gewees, dat sy geweet het om mieliepap en gouda saam te voeg tot enige kleinkind se grootste vreetvreugde!

  9. @ skoor: Ryk en lekker!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: