Posted by: mykopop | Maandag 12 November 2007

Speelgoed uit die warm plek

Jy kan dit aflaai of uitdruk om later te lees.
“Nou goed, dis dan al vir vandag. Geniet julle langnaweek. Staan!” Meneer van Rensburg weet presies hoe die mannetjies voel na ‘n paar weke in die koshuis. “Middag klas”. “Goeie middag Meneer.” ‘n Hengse kabaal breek los. “Stadig! Dis nou nie nodig om die deur af te breek om uit te kom nie.” Meneer van Rensburg glimlag goedig onder sy baard.

Kallie en Japie hardloop vir hulle koshuiskamer om hulle bagasie te kry. “Hierdie naweek is ek darem bly ons het ‘n oom wat nou baie nader as ons ouers bly!”, skree Japie vir Kalie in die hardloop. “Jy kan nie blyer as ek wees nie”, antwoord sy neef. Die twee is van die enkeles wat gewoonlik net vakansies huistoe gaan, omdat die uitnaweke skaars lank genoeg is om huis toe te reis en weer terug, dis net te ver.

Onder die boom buite die koshuishek staan oom Niek by sy ou bakkie en wag, arms op die tralies agter op die bak geleun, kromsteelpyp in die hand. Hy groet vinnig en sê: “Nou toe mannetjies, spring in, ek was nou lank genoeg op die dorp, en daar is baie werk op die plaas!”. Oom Niek is bietjie anders, eintlik eksentriek. Hy was mos in die oorlog. Hy is ook nooit getroud nie en boer alleen op sy plaas, hy kry net nou en dan ‘n los arbeider om hom te help. Hy het so ‘n paar maande gelede, na al sy omswerwinge, die plaas gekoop

Binne minute is hulle op die grondpad. Hulle ry ‘n uur lank in betreklike stilte op die goeie grondpad, dan draai hulle af op ‘n klein paadjie wat deur die bosse kronkel, die ou bakkie stamp deur die droë rivierlopies. Japie moet kort-kort uitklim om ‘n hek oop te maak. Terwyl hy die laaste hek oopmaak, gewaar hy ‘n steenbokkie tussen die bosse, skaars vyftien treë van hom af. Die bokkie verdwyn binne sekondes soos mis voor die son.

Die ou bakkie rammel in ‘n stofwolk voor die amper-bouvallige huisie tot stilstand. Sommer gou-gou is alles afgelaai. “Nou ja mannetjies”, sê oom Niek, “Gelukkig is môre nie ‘n godsdienstige vakansiedag nie, so ons kan darem bietjie werk ook.” “Ha, ha, ha”, lag hy, “Julle moet darem julle brood verdien ook hier. En julle sit mos net daar in die skool heeldag met boeke en kry sawwe handjies.” “Ons speel darem rugby ook, Oom”, kap Kallie teê. “Ja, maar rugbyspeel maak nie mens se hande hard nie. Nee, kom, laat ek julle wys.”

Oom Niek is besig om ‘n nuwe draadheining oor ‘n rantjie te span. Die terrein is te rof om met die bakkie daar te kan kom. Die twee seuns moet pale aandra en gate kap. Kort voor sononder sê oom Niek: “Dis nou genoeg vir vandag, nou kan julle bietjie in die riviertjie gaan spring. Julle kan swem nê? Sal nie versuip nie?!”. “Natuurlik, Oom!” Soos blits is hulle by die rivier, daar is ‘n lekker watergat so aan die kant waar die stroom nie eintlik vloei nie. Nadat hulle lekker geswem het, sit hulle op die gras op die wal. “Hier is lekker klei”, sê Japie, “kom ons gooi kleilat!”. Hulle pluk vir hulle elkeen ‘n lekker slap wilgerlat. Hulle haal elkeen ‘n dubbelhandvol klei uit en sit dit eers lekker en brei. Dan neem hulle elkeen sy stelling in, so dertig treë van mekaar af en bestook mekaar. Eers is hulle akkuraatheid nie bra waffers nie, maar later kry elkeen darem ‘n trefskoot of twee – gee en ontvang. Dis vrek seer as so ‘n kleiballetjie jou op die kaal lyf tref, en so verdwyn die lus vir die kleilatgeveg ook. “Dis jammer dis net ons twee”, sê Kallie. “Ons moes twee spanne gewees het.”

“My Pa sê hulle het altyd kleiosse gemaak”, sê Japie. “Kom ons probeer dit.” Hulle brei elkeen nog ‘n bietjie klei en maak’n paar diertjies wat amper soos beeste lyk. “Kom ons sit hulle hier op die rots neer. Dan kan hulle môre voor die middag lekker in die son droog word terwyl ons werk. Kom dis laat. Ek hoop oom Niek het iets lekker om te eet. Ek vrek van die honger.”

Oom Niek het iets lekker om te eet. Daar is nie ‘n stoof in die huis nie. Net ‘n vuurmaakplek met ‘n randjie stene om, onder die skoorsteen. Hy noem dit die ês, soos die ou mense. Hy het gisteraand geslag. Hy het die skaapkop in lou kole van die oggend gesit, net voor hy weg is om hulle in die dorp te gaan haal. Hy’t die lewer, niertjies en vetderm in ‘n plat ysterpot op die kole gebraai. Gelukkig het Japie en Kallie met sulke kos grootgeword. Oom Niek het ook lekker roosterkoeke gemaak.

Die twee mannetjies pak lekker in, en sommer gou wil hulle oë toeval. Maar hulle sit nog ‘n rukkie en kyk hoe oom Niek aan sy stokperdjie werk. Hy maak pype. In die hoek van die vertrek het hy ‘n klein tafeltjie met ‘n bankskroefie, waar hy die pypkoppe vorm met ‘n sagie, raspers, vyle en bore om die gate in te maak. Hy maak nog een kop klaar, nou het hy ‘n hele paar wat klaar gevorm is. “Al is dit harde hout wat ek gebruik vir die koppe”, sê hy, “brand die hout deur as mens net so daarmee rook. Die hout moet aan die binnekant met ‘n lagie gebakte klei bedek word.” Nou het hy van dieselfde klei uit die rivier waarmee hulle die laatnamiddag so lekker gespeel het. Hy brei die klei lekker sag, en smeer ‘n lagie in die groot gat van elke pypkop. Dis net nodig vir die groot gat waar die tabak inkom, die klein gaatjie waar die steel nog aangesit word, laat net rook deur.

Hy het ook ‘n emmertjie met nat sand. Nou smeer hy die buitekant van elke pypkop ook vol klei, wat deur sand beskerm gaan word sodat dit nie bak nie en weer maklik afgehaal kan word. Hy krap ‘n plekkie in die ês skoon, en gooi ‘n klompie nat sand daar. Vir elke pyp maak hy ‘n gaatjie in die nat sand, sit dit versigtig in en krap dan die sand nader sodat net die groot gat van die pyp uitsteek. Die nat sand is sodat die buitekant van die hout nie deur die hitte van die vuur beskadig moet word nie en die klei aan die buitekant nie moet hard bak nie. Hy gebruik ‘n ou lepel om fyn kooltjies binne-in die gat van elke pypkop te gooi en met ‘n klein handgrafie gooi hy saggies kole bo-op totdat dit bedek is. Nou is al sy pypkoppe in die ês. Dan is dit slaaptyd.

Vrydagoggend kry hulle van die vorige aand se oorskietvleiskos en ‘n stewig bord mieliepap. Dan is dit reguit terug na die rugbreekwerk toe. Hulle kry darem tienuur koffietyd en eenuur etenstyd, elke keer met swart koffie en koue roosterkoeke. Tot so drie-uur, toe sê oom Niek. “Dankie kêrels, julle het my nou baie gehelp. Nou kan julle die res van die naweek geniet. Ek sal darem weer volgende week ‘n los werker kry om my te help met die draadspannery.”

Natuurlik sit hulle onmiddelik af rivier toe. Dieselfde toneel as die vorige dag speel homself weer af, amper soos ‘n ritueel: swem, kleilatgeveg, sit op die wal. Dan val hulle by van hulle kleiosse wat hulle op die rots gelos het om in die son droog te bak. Japie is eerste daar: “Ag nee, hulle is droog, maar hulle bars uitmekaar!”. “Ek wonder”, sê Kallie, “as oom Niek nou die kleilagie in die pype so in die vuur kan bak sonder dat dit kraak, dan kan ons mos ons kleiosse ook so probleer bak.” So vat hulle ‘n leë konfytblik vol klei huis toe.

Die aand maak oom Niek vroeg aandete. Oom Niek is moeg en gaan sommer vroeg lê. Die twee seuns sê vir oom Niek hulle gaan bietjie sterre kyk, daar is sekere konstellasies wat Mnr. van Rensburg in die aardrykskundeklas genoem het waarna hulle moet oplet as hulle weer die kans kry. Oom Niek was moeg, maar het eintlik net gaan lê om eers so bietjie te dut, terwyl hy wag vir die kole in die ês om bietjie af te koel. Hy het terwyl die seuns die namiddag by die rivier was, ‘n spesiale pyp gemaak wat hy vir ‘n vriend wil persent gee.

Intussen het die seuns ‘n lantern uitgesmokkel, en sit in ‘n windstil hoekie onder die afdak langs die wa en maak kleiosse. Klaargemaak, sluip hulle stilletjies die huis in, krap die kole lekker oop, pak hulle kleiosse mooi versigtig op ‘n lagie as en kole, gooi eers ‘n bietjie as op en dan nog kole. Nou gaan hulle weer buitentoe, want die sterre ís mooi.

Intussen staan oom Niek weer op. Die kole behoort nou omtrent die regte hitte te wees. Hy steek die lamp in die kombuisie aan en begin die kole in die ês oopkrap om ‘n plekkie vir die spesiale pypkop voor te berei. Wat gaan nou aan? Hier is dan harde goed in die kole – daar kan mos nie meer kole wees wat nog nie uitgebrand is nie! Dan besef hy wat aangaan, hy was mos self ‘n seun. “Japie! Kallie! Kom haal julle bleddie speelgoed voor ek vanaand alles uit die es hel!”

Jy kan dit aflaai of uitdruk om later te lees.


Responses

  1. Ons ADSL internetverbinding by die huis is nou al vir meer as twee weke meer af as aan. Ek het al die idee vir hierdie storietjie gekry ‘n vorige keer toe dit af was, maar kon net nie vordering maak daarmee nie. Partykeer dink ek die Internet is maar ‘n lelike ding om mee te speel – miskien moet ons meer tyd maak om dinge te doen soos in die ou dae.

    Saterdagoggend was die ADSL morsdood, wel hy’s nog steeds morsdood, ek het pas weer daardie 0800-nommer gebel net om te hoor dit is op ‘n tegnikus se lysie. My hartlike dank dus aan Telkom dat hulle my geborg het met die inspirasie en die tyd om die storietjie te kon voltooi.

  2. Dis nou ‘n baie oulike storietjie! Jy mág maar skryf!! Ek het self ook kleilat gespeel in my kinderdae. Vandag se kinders ken dit seker glad nie behalwe miskien die wat nog familie op plase het.

  3. Dis ‘n cool storie. As jy sulke stories skryf Kop, dan moet jy beslis nog skryf, sommer ‘n boek vol!

  4. “Hy was mos in die oorlog.”

    Pragtig.

  5. Dankie vir hierdie lekker en goed vertelde storie. Dit maak mens sommer bietjie warm om die hart.

  6. […] iemand my tag, sal ek hom of haar sommer voorspring en 7 bekentenisse maak oor die storietjie Speelgoed uit die warm plek wat ek gister gepubliseer […]

  7. Oulike storie!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: