Posted by: mykopop | Donderdag 25 Oktober 2007

Kersfees 2007 Kom (2)

Voor ek my kon kom kry, is die 25ste al weer hier, en dis nog net twee maande tot Kersfees. Elke jaar neem ek my voor om al hier van September af my Kersmusiek te beluister. Nou ja, ek het lekker geluister ‘n maand gelede maar daarna weer laat slap lê en ander goed geluister. Nou is dit weer tyd, en ek vertel graag ietsie oor ‘n paar van my gunstelingalbums.

Neil Diamond se The Christmas Album (1993) is seker een van die mees besonderse Kersalbums wat ooit gemaak is. Hy het mos saam met Barbara Streisand koor gesing, en hy skryf in die omslagnotas: “I fell in love with Christmas music.” Neil Diamond is ‘n baie private mens, wat nie die tradisies van sy Joodse afkoms heeltemal oorboord gegooi het nie. As hy hierdie liedere so sing, wonder mens of hy dit so kan sing sonder om te glo wat hy sing!

Wat die album besonders maak (afgesien van Diamond se gevoelvolle sang) is die kore wat saam met hom optree bv. The Ambrosian Singers. Die laaste lied op die CD is O Holy Night (Cantique de Noël). Diamond gee Adolphe Adam se melodie so ‘n ander kinkel op die tweede noot – of moet ek sê hy’t die kinkel uitgehaal?

Nog ‘n mooi liedjie, wat nou nie ‘n gewyde lied is nie, maar meer oor sy eie lewe gaan, is You Make It Feel Like Christmas, dit het reeds jare vroeër op sy album Primitive verskyn.

‘n Jaar later het hy ook ‘n Volume II uitgegee.

Die tweede album vul die eerste een baie mooi aan. As ek nou regtig in die Kersstemming wil kom, gaan ek maar verby goedjies soos White Christmas (wat ‘n baie mooi lied is), en Rudolph the Red-nosed Reindeer en luister na die liedere wat vir my die boodskap van Kersfees dra:

CD1:

O Come o com Emmanuel / We three kings of Orient are
Silent Night
God Rest Ye Merry Gentlemen
Hark The Herald Angels Sing
O Holy Night

CD2:

Joy To The World
Away In A Manger (Die “ander” weergawe, amper so half country)
O Come All Ye Faithful
O Little Town Of Bethlehem
Angels we have heard on high
The First Noël (nog ‘n uitstaande opname)
Hallelujah Chorus

En die laaste lied bring my by die volgende CD, van die groep The New London Chorale, o.l.v. Tom Parker (nie Elvis Presley se Tom Parker nie), The Young Messiah. Dit is Handel se Messiah wat bietjie van ‘n verjongingskuur ondergaan het. Die groep maak beurte om as solis te sing en ek wil amper sê hulle het sulke “alledaagse stemme”, soos wat mense praat. (Wel, miskien op van hulle ander CD’s waarvan ek ‘n ander keer kan vertel van die wat ek het.) Handel se Messiah is natuurlik nou nie eintlik heel Kersmusiek nie, maar daar is darem For Unto Us A Child Is Born en weereens die Hallelujakoor.


Ek moet darem een Afrikaanse CD aanbeveel wat jy nog in die hande behoort te kan kry: Somerkersfees van die Singkronies Kamerkoor. Die liedjie “Somerkersfees” self is natuurlik van Koos du Plessis. Dit is eintlik bekend gemaak deur Jannie du Toit op sy CD Liedjies van vroeër. Hy vertel in die omslag van daardie CD dat Koos dit geskryf het vir ‘n kersliedkompetisie maar natuurlik het ‘n lied oor klokkies of iets toe gewen. Jannie het ‘n derde versie daarvoor bygeskryf. In 1998 was ek deel van ‘n groep mense wat by die ATKV-hoofkantoor in Randburg ons eie kersaand gehou het en elkeen het sy musikale bydrae gemaak. Ek het toe ook Somerkersfees gesing. Daarna het die liedjie baie meer gewild begin raak!


Ek het nie vanaand genoeg tyd nie, dus het ek nie eens ‘n ou YouTube-videotjie of ‘n skakel na ‘n mooi mp3 nie – of wag! Die EuroChor tree mos hier op en ons beplan nog steeds om hulle optrede Maandag die 29ste Oktober 19:30 by die Mosaiek-kerk by te woon. Hier kan jy van hulle musiek aflaai. Ek sal dalk binnekort nog bietjie oor Kersmusiek gesels, want soos dit nou lyk dreig daar ‘n ding wat kan maak dat ek nie op 25 November tuis is nie – hy dreig nie baie kwaai nie, maar hy dreig!

[ Sien ook my inskrywing Kersfees 2007 Kom (1), en meer volg binnekort. ]



Responses

  1. Ek is mal oor die tyd van die jaar as die Kersmusiek oor die radio begin speel en die winkels vol kersversierings is. Gister loop ek weer deur die East Rand Mall en ek kan nie glò dis alweer sulke tyd nie. Hierdie jaar het net eenvoudig té vinnig verby gevlieg!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: