Posted by: mykopop | Woensdag 24 Oktober 2007

Tossie Lochner – mama mia! ITALIЁ

Toe ek die boekie raakloop moes ek dit eenvoudig onmiddelik koop. Ek hoor al jare vir Tossie met haar interessante beriggies uit Italië op RSG, om die waarheid te sê, sy was seker al daar lank voor RSG nog RSG was. Volgens die voorwoord is sy al vir 26 jaar van die bestaan van die program Monitor deel daarvan.

Daar is so 70 plus storietjies in 128 bladsye, dis ‘n hardeband met die prentjie op die hardeband, ook so ‘n lekker klein-formaat boekietjie. Ek wil net so ‘n paar van die storietjies waarvan ek gehou het, uitlig:

Die lewe en tye van Nicolo Paganini
Sy vertel dat die beroemde violis op vierjarige ouderdom masels gekry het. Hulle het gedink hy is dood en hy was reeds in ‘n laken toegedraai en in ‘n doodskis geplaas, toe skielike rukkerige bewegings van sy arms sy ma se aandag getrek het. Sy vertel ook dat sy Stradivarius-viool in Genoa bewaar word en elke ses maande deur ‘n kenner uitgehaal en bespeel word, sodat die instrument nie sy klank moet verloor nie.

Funiculì, Funiculà
Sy skryf “n Outydse kloutreintjie, ‘n funicolare genoem, gaan na die berg Vesevius net buite Napels terugkeer.” Ek kon die volgende beskrywing van “kloutreintjie” kry: “a train equipped with a gear which engaged a toothed track for climbing steep mountainsides” Die Napolitaners was glo nie baie beindruk met die treintjie nie, toe kry die owerheid die blink idee om ‘n lied daaroor te laat skryf.

Pavarotti in die hemel
“Hoog bokant ons in die buitenste ruimte draai Pavarotti rond. O nee, wees gerus, Big Luciano is nie die ewigheid in nie. Pavarotti is die naam waarmee ‘n klein, pasondekte planeetjie gedoop is.” Hierdie boekie het al in 2004 verskyn – ironies dat ek dit in die hande gekry het so ‘n maand na Pavarotti se dood.

Caruso
Sy skryf dat Caruso die eerste was om operamusiek op plaat op te neem, in 1902, in ‘n hotelkamer in Milaan het hy tien plate in twee uur opgeneem. Die platemaatskappy Grammophon Londen het geweier om hom te betaal, maar die twee technici het hom met £100 vergoed. Ses maande daarna het die plate £15000 sterling verdien.

Titanic
Dit gaan oor Tony Martinelli (Zio Tony, of oom Tony) wat op twee-jarige ouderdom op die gedoemde droomskip was en dus die storie kon oorvertel soos hy dit van sy ma gehoor het, o.a. van sy pa wat op die skip agtergebly en verdrink het, se laaste groet.

Ek het soveel van die volgende verhaaltjie gehou, dat ek besluit het om dit heel te plaas:

‘n Italiaanse wonderwerkie

Giorgio is net so oud, dus 5 jaar, soos die klein akteurtjie wat Giosné in die film Life is beautiful vertolk het. ‘n Jaar gelede is Giorgio deur ‘n motor omgery.ln die hospitaal word breinbeserings gediagnoseer. Die afgelope jaar het hy in ‘n koma gebly en is hy kunsmatig gevoed, en deur sy ouers en vrywilligers fisies gestimuleer, sonder enige sukses.

Toe onthou sy pa van die film van Roberto Benigni, Life is beautiful, waarvan die seuntjie so baie gehou het en nooit wou ophou om na te kyk nie. Sy pa besluit om die video van Life is beautiful vir sv seuntjie wat in ‘n koma is, te vertoon. En ‘n wonderwerk gebeur.

Gedurende die vertoning maak Giorgio ná ‘n jaar sy oë oop en sê weer sy eerste woorde – die bekende woorde uit die film wat ‘n kultus sou word: “Ciao, Principessa”.

Nou vorder Giorgio vinnig, en kyk steeds twee keer per dag na Life is beautiful. Die gebeure verskaf ook baie vreugde aan die regisseur Roberto Benigni wat drie Oscars vir die film verower het. Benigni sal binnekort bv Giorgio besoek aflê.

Die gebeure, so voel almal, bevestig die film se boodskap: “Life is really beautiful!”

Ek het die boekie werklik geniet. (Daar is blykbaar ook ‘n vroeër een, ek weet nie of dit beskikbaar is nie.) Ek dink ek moet hom in my boekrak daar langs my boeke van Oom Fanus loop sta’maak.

Ek hoop nie Lapa Uitgewers wil my bykom oor ek te veel aangehaal het nie! Ek beskou hierdie as advertensie vir die boek. Ek het R77 by Exclusive Books betaal vir hom, toe sê my vrou gister ons het ‘n pamflet van Lapa ontvang, ek kan hom nou kry vir R40. Ek dink dit bly ‘n winskoop. Ek het dit al voorheen gesê en ek se dit weer: Tossie is tops!


Responses

  1. Hi Chris…weet jy wat dalk aangaan?? Dit is die 2de keer by Zamatomu dat my blog net verdwyn!! Nou se hulle WEER ek het nie ‘n blog by hulle geregistreer nie…ek het email gestuur en geen antwoord gekry nie, WEER geregistreer en nou weer dieselfde ding!! Jy het nie dalk ‘n foonnommer daar vanuit SA vir my nie asseblief! Dis darem nou ‘n frustrasie!! Dankie!!

  2. Ek het nog altyd my ore gespits as ek die naam Tossie Lochner hoor. Die vrou kan darem vir jou interessante stories vertel. Ek is bly jy’t hierdie inskrywing oor haar gedoen, nou weet ek ook darem dat daar ‘n boek/e van haar op die rakke is.

  3. Interessante inskrywing! Nou eers gelees na my “opgewondenheid” gister oor my blog! Dankie vir jou hulp! ek het meer gese op my blog waar jou boodskap is…Lekker dag vir jou en nogmaals dankie vir die moeite!!

  4. Zamatomu se dat my “feed” nie reg is nie…ek het hom oor en oor nagegaan en selfs ‘n ander een geskep…so sal nou sien wat hulle doen, maar ek is nou regtig nie verlee om die blok by hulle te hou nie…dankie weereens…


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: