Posted by: mykopop | Dinsdag 18 September 2007

Die Groot Avontuur – Leon Rousseau

Volgens die agterblad: Leon Rousseau bied in Die Groot Avontuur ‘n boeiende en komplekse onderwerp – die ontstaan en ontwikkeling van lewe op aarde.

Leon Rousseau is of 5 Maart 1931 in Kaapstad gebore.

As ek reg onthou, het hy so vier jaar aan die boek gewerk. Die bronnelys het ek so rofweg geskat, bevat omtrent ‘n 100 bronne.

Terwyl die boek eintlik oor ‘n erg akademiese onderwerp handel, skryf Rousseau in ‘n lekker ligte trant. Om dit te illustreer wil ek aanhaal uit Hoofstuk 1, waar hy en sy vriend Heini Kotze gaan soek na die versteende voetspore van ‘n jong meisie wat ongeveer 100 000 jaar gelede gelewe het, wat by Langebaan gevind is:

Heini onderbreek my gedagtegang. “Sal ons huis toe gaan?”
Tuis ontkurk ons ‘n bottel Chateau Libertas, ‘n heerlike drinkwyn.
“Op Namis;’ sê ek en lig my glas.
“Op Namis en op die boek:’
‘n Rukkie later gaan raadpleeg ons Claire oor die beste eetplek en verkas weldra met die oorblywende halfbottel rooiwyn na Froggies. Ons kry , n tafel naby die
restaurant se vlammende, losstaande Jetmaster en voel spoedig warm, tuis, geluksalig……

Volgens die spyskaart is die kerrie medium, hot en FH. “Wat sou FH in Afrikaans wees?” wonder ek hardop.

Intussen, om onbekende redes, het die Chat Lib opgeraak. Ons bestel twee glase huiswyn….
………….
Op Langebaan, in restaurant Froggies, drink Heini en ek nou ons laaste glas huis-
wyn. “Freeslik met ‘n f:” sê ek met wysheid. “FH staan vir freeslik heet. Heet is nog
‘n woord wat Nederlands het, maar ons in Afrikaans verloor het, behalwe in ‘n
samestelling soos snikheet.” (Die naam Namis is deur Dan Sleigh gemunt.)

Die boek begin met ‘n Avant Propos deur Prof. Phillip Tobias en daarna volg die voorwoord deur Gideon Joubert, skrywer van Die Groot Gedagte. Lees nog iets oor die boek by http://www.ais.up.ac.za/special/bookmonth/feb07/index.htm, die Engelse gedeelte daar is die Avant Propos van Prof. Tobias.

Daar is natuurlik mense wat die skeppingdae van die Bybel letterlik opneem, maar soos Gideon Joubert die voorwoord begin: Daar is evolusie. Die fosiele wys dit. As mens dus die Bybel letterlik wil opneem, moet jy ook maar vir jouself besluit wat jy met al die fosielgetuienis wil doen. Rousseau probeer die onderwerp so aanbied dat dit nie strydig met geloof hoef te wees nie.

Darwin het natuurlik die evolusie-teorie begin. Daar is ‘n interessante stukkie op bl. 223:

Lamarck: Die giraf rek sy nek om hoë takke by te kom. Die langer nek word dan voorgeplant.
Darwin: Die giraf met ‘n lang nek kry die meeste kos. Hy oorleef en plant sy lang nek voort.

Ek moet sê, ek vind dit nogal moeilik om te dink hoe Lamarck se teorie sou werk.

Op bl. 218 word beskryf hoe Richard Dawkins die ontwikkeling van die oog uit ‘n aanvanklike lappie foto-sensitiewe selle probeer teoretiseer. Evolusie is gebaseer op natuurlike seleksie, ‘n sekere eienskap is voordelig en word dus voortgeplant. Dis seker nie onmoontlik om te sien hoe ‘n lagie fotosensitiewe selle voordelig kan wees nie – onder die water kan dit minstens help om te weet waar is bo en waar is onder. Maar watter voordeel kon die tussenstadia hê voordat dit ‘n oog was? Daar is baie ander wat vir my moeilik is om in te sien, bv. ‘n vink wat sy nessie van gras weef. Watter voordeel kon dit inhou om eers een grassie aan ‘n takkie vas te knoop?

‘n Ander aspek wat vir my interessant is, is die ontwikkeling van taal, en die feit dat die larinks eers later afgesak het om die geluide te kan voortbring wat nou in ons tale is. Om die rede kan ‘n aap nie, al is hy intelligent genoeg, leer om te praat nie. Blykbaar was die eerste tale soos die San se kliek-klak taal, dis is glo ‘n baie goeie taal vir jagters, omdat dit meer soos die geluide van gras en takkies klink en die diere rustiger hou.

Rousseau bespreek die verskillende mensagtige spesies: Homo erectus, homo ergaster, homo habilis (Die Nutsman) die Neanderdalman ens. Ek het gedink ek sou dit graag op ‘n boomdiagram wou sien (ek dink nie daar is so iets in die boek nie), sodat mens bv. kan sien dat ons nie van die Neanderdalman afstam nie, omdat hy uitgesterf het. Ek het so ‘n diagram gekry by http://www.mnh.si.edu/anthro/humanorigins/ha/a_tree.html Dit mag miskien handig wees om die diagram uit te druk en byderhand te hou terwyl jy hierdie boek lees. Kyk ook na http://en.wikipedia.org/wiki/List_of_hominina_fossils.

Rousseau skryf ook heelwat oor katastrofes wat die aarde getref het bv. ystydperke en meteoriete. Daar is ook ‘n teorie dat evolusie nie altyd gelydelik plaasvind nie, genoem sprongevolusie.


Dit het my ‘n hele paar weke geneem om die boek te lees. Ek lees nie baie vinnig nie en het nie baie tyd per dag spandeer nie, maar dit kan ek jou sê: Dis nie heeltemal onspanningsleesstof nie. Ek hoop jy het teen die tyd ‘n idee of jy so ‘n boek wil lees of nie. Indien wel, daar is nie ‘n boek wat hierdie een se gelyke is in Afrikaans nie. Die boek is bekroon met die Recht Malan prys.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: