Posted by: mykopop | Maandag 3 September 2007

Adendorff 135-liter betonmenger


Saterdag het ek uitgegaan om ‘n kleinerige betonmenger te soek.

Trade Centre s’n was oor die R2600 en het vir my na gemors gelyk.

Builders Warehouse hou gewoonlik die oranje Hobbycraft aan, maar het nie voorraad gehad nie. Hulle het wel ‘n Ryobi wat maar iets soos 60 liter is en baie duur – snaaks as mens kyk hoe bekostigbaar die Ryobi hand-kraggereedskap is. Ek kyk toe weer na Makro se webwerf, hulle het die Hobbycraft vir R2699.

Ek kry toe uiteindelik Adendorff Machinery Mart se nommer in die hande. Ja, ons het een wat jy soos ‘n kruiwa kan stoot, sê hulle, 120 liter, R1995. Ek is nie so seker van die konsep nie, maar die prys verskil is darem aansienlik, so ek besluit toe om te gaan kyk (Hy sê toe nie vir my hulle het ander modelle ook nie.)

Daar gekom sien ek eers hierdie gele. Die kruiwastoot-ene lyk nie sleg nie en kan seker werk as mens die beton op die grond wil gooi, maar as jy dit hoër wil hê, het jy ‘n probleem. Die gele is 135 liter teen R2250. Ek vat toe een.

Hy kom natuurlik in ‘n karton – nou het jy die plesier om hom self te bou. Vroulief sit hand by hier en daar. Die twee helftes van die drom is binne mekaar gepak. Ek sien toe dir rand van die boonste een het ‘n effense knak. Die twee helftes sit so vas inmekaar dat ek ‘n plank moet gebruik om hulle te skei. Ek besluit toe dit tog ‘n rowwe stuk toerusting, buig maar die randjie bietjie reg met ‘n tang. Ek sukkel toe baie om die boutjies deur te kry om die twee helftes op mekaar te pas.

Volgende moet die twee lemme binne die drom gesit word. Die lemme lyk nie soos die op die prentjie in die boeke nie. Geen manier wat hulle pas nie, al is die twee helftes reg opgelyn met hulle pyltjies. Ek dink toe, mens kan wel ‘n ekstra gaatjie boor in die drom vir elkeen en die verkeerde gat met ‘n boutjie toemaak, maar ek kan nou mos nie sommer gate in die ding staan en boor nie. Dis toe die laaste strooi en ek haal die drom net so af van die staander af en laai hom in die boks. Ek sien ook die boks is onderin vol gate gestamp – hulle is natuurlik te veel opmekaar gepak in die skip van Sjina of waar ookal af.

Vandag is ek toe terug na hulle toe. Ek het hulle sommer duidelik laat verstaan ek is nie tevrede met die gebuigde drom nie, ek sal die een op die vloer vat, dankie. Ja, hulle het ook agtergekom die lemme pas nie en ekstra gaatjies geboor en die ekstra gaatjies met boutjies toegemaak. Ek dink sommer vir hulle ‘n nuwe meervoud uit: die Adendorwe – ek sal nou maar net nie ‘n rymende byvoeglike naamwoord vooraan sit nie. (Soos die Engelbrêe ‘n paar weke gelede toe ek ‘n sleepwa gekoop het.)

Namiddag het ek hom verder aanmekaar gesit. Die kas waarin die motor is, is van plastiek waar die van bv. die hobbycraft metaal is. Ek dink darem nie dit sal ‘n probleem wees nie. Om die kas vas te sit, het hulle vier ‘self-locking’ moertjies voersien. Ek het vleuelmoere (dis nou wingnuts, man) met gewone en gesplete wasters gaan koop om dit te vervang, want as die masjien langdurig gebere word sal ek verkies om die motor in ‘n veiliger plek te bêre.

Ek moet darem sê, vir die aanmekaarsitslag is die boutjies, moertjies ens. mooi in plastieksakkies met letters op verpak, as jy die handleiding volg, is dit nogal maklik om die regtes in die hande te kry. Daar is ook allerhande ander lekker gereedskap daar by die Adendorwe. Kyk gerus by http://www.tooltime.co.za.

Hoekom ek ‘n betonmenger nodig het? Dis ‘n ander lang storie.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: