Posted by: mykopop | Dinsdag 21 Augustus 2007

Ek Probeer

So twee en ‘n half jaar gelede het ek ‘n boek The Complete Idiot’s Guide To Songwriting “bestel” as ‘n kersgeskenk en dit gekry. Ek het nie veel met die boek gedoen nie, maar terselfdertyd amper ‘n nuwejaarsvoorneme gemaak om hard te probeer om weer ‘n paar gedigte te toonset. Ek besluit toe eintlik: toonset so 100, miskien is een van hulle goed.

Nou hier is die eerste een van die 100!

mp3


Hier is Boerneef se woorde:

ek probeer met my oë
want my woorde wil nie kom nie
maar al wat sien is jy
ek probeer met ‘n daad
want my woorde wil nie kom nie
maar wat blind bly is jy
jy sien maar maak of jy niks sien nie
jy weet maar maak of jy niks weet nie
vermaledyde Eva jy

My woord slaan sommer net hier neer
en niemand hoor dit nie
hoe ver trek hy ‘n tree of vier
en niemand hoor dit nie
julle wat die wêreld se wysheid beet het
wat die Groot Woorde so vreeslik liefhet
vir jul staan ek maar liewerster opsy
my woord slaan sommer net hier neer
geeneen die hoor dit nie

Ek loop seker al die beste deel van die 2 jaar met Ek Probeer Met My Oë rond, nou onlangs het ek ‘n naweek gevat om een uit te soek om daarby te pas. Ek het net besluit om die woord vermaledyde uit te gooi. Ek het eintlik altyd gedink dis sommer een van Boerneef se maaksels, maar ek sien dit staan in die HAT en in Van Dale, dit beteken vervloekte. Ons kan darem nie die Evas so sê nie.

Ek het al voorheen verwys na Louis van Rensburg se Voshaarnooi, wat uit drie Boerneefgedigte bestaan. Die vraat! Eerstens het ek sy idee gekoop om Boerneef se gedigte te probeer toonset. Iewers in die tagtigerjare het ek Elke Aand As Die Skemer Kom getoonset. Tweedens het ek Louis se idee gekoop om meer as een van die gediggies saam te kombineer. Party van hulle is ‘n bietjie kort, en as mens hulle kombineer kry die liedjie darem bietjie meer fasette. Toe het ek, ek dink omtrent in 1993, gedoen Plankperske Vir Jou En Vir My, met net twee reëltjies van Perskegeel en Perskerooi, asook ‘n Slopie Droë Vrugte, wat eintlik ‘n ander wysie het, maar die twee pas bymekaar en sing vir my lekker saam.

Ek sal julle op ‘n ander dag alles vertel wat ek weet van Boerneef en ook watter van sy gedigte ek van weet wat deur ander mense getoonset is. Ek dink die dag kom vinnig dat dit dalk almal gaan wees!

Nou die onaangename kwessie van kopiereg. Die kopiereg op die gedigte behoort aan Tafelberg Uitgewers, ek neem maar die vrymoedigheid en vat ‘n kans om dit hier te plaas, siende dat ek nie so ‘n verskriklike leserstal het nie. Die kopiereg op die musiek behoort aan my. Ek het besluit om tog een van my liedjies beskikbaar te stel. Om te verhoed dat dit te veel versprei sal ek dit na ‘n tyd met net ‘n sample vervang. Hier is die liedjie – laai gou die mp3 af voor hy verdwyn!

Ek wil net bysê: Ek is ‘n baie swak kitaarspeler. My stem klink ook nie vir my baie reg nie. Dus soek ek eintlik iemand anders om my te begelei, en as ons goed regkom, iemand om in my plek te sing. Waag jou ore op eie risiko, luister met oorpluisies in jou ore!


Responses

  1. Ek kan eerlikwaar se^ ek hou van die wysie. Welgedaan.

  2. Ek hou ook baie daarvan!!

  3. Soos jy gevra het, het ek kom luister. Ek dink dis baie oulik. Die leker ding van gedigte is dat die gedig reeds sy eie gevoel en ritme het en dit gee mens nogal vryheid om weg te beweeg van die “formule-skryfstyl” van vers, koor vers, koor, brug, koor en werklik iets te skryf wat by die atmosfeer van die gedig pas.
    Maar dan wil ek graag ook ‘n stukkie opbouende kritiek gee. (Ek het mos gesê ek moes ‘n juffrou geword het!) Belê in kitaarlesse en ook ‘n kitaarstemmer. As jy wil skryf, is dit baie belangrik om jou kennis van akkoorde en speelstyle uit te brei, want dit lei weer op sy beurt tot inspirasie. Anders gaan jy agterkom dat meeste van jou goed dieselfde gaan klink. Ek weet jy soek iemand om die goed vir jou te speel, maar jy gaan nie maklik iemand kry wat inisieel tyd en energie daarin gaan investeer nie en om iemand nou eers te verduidelik wat jy wil hê, is ook ‘n schlep. Sorg dat jou idees so goed moontlik is en as jy ‘n hele klomp bymekaar gemaak het, dan kan jy ‘n verwerker nader om sy inset te lewer.
    Sterkte
    Amanda Luyt

  4. Hi Chris

    Dis baie mooi en ou Boerneef sou mal gewees het hieroor. Lekker on om ‘n vuurtjie te sit en Boerneef songs te luister. Cool! Doen so voort.

    Annie Patat
    *****


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: