Posted by: mykopop | Maandag 13 Augustus 2007

Mathys Roets – Live Vrydag die 13de DVD

Dis miskien nou ‘n bietjie laat om iets oor hierdie DVD te skryf, dit lyk my dis op 13 Junie 2003 opgeneem. Ek glo dan sou dit seker voor Desember 2003 op die rakke gewees het. Ek kan dit amper nie glo nie, maar die tyd gaan so gou verby. Volgens die voorblad en onderhoude op die DVD is dit die “Eerste Afrikaanse Lewendige DVD-opname”. Mathys reken dat iets wat op videoband opgeneem was en later omgeskakel is na DVD nie dieselfde is nie. Ek gee hom gelyk. Hulle spog ook baie met die feit dat dit Dolby 5.1 rondomklank het, sodat dit klink asof jy in die middel van die orkes is. Ek het ongelukkig nie die geleentheid gehad om dit met ‘n rondomklankstelsel te beluister nie, maar vir my gaan dit meer oor die musiek en die visuele aspek van die produksie.

Ek het om een of ander rede visueel meer verwag, en ek glo ek is reg om dit te doen, anders kan mens mos maar na die CD luister en so nou en dan na Mathys se foto op die omslag staar? Onlangs het Kruidjie-Roer-My-Nie ‘n YouTube video van Leonard Cohen op haar blog geplaas. Ongelukkig kon ek net ‘n stukkie daarvan gekyk kry, maar aangesien Mathys so lief is om Leonard Cohen se liedjies te sing, moet ek ongelukkig vergelyk en voel Mathys (of sy DVD-makers) kom ‘n bietjie kort. Om regverdig te wees moet ek darem sê dit lyk soos ‘n musiekvideo van Leonard, nie ‘n lewendige opname nie. Miskien kon Mathys net twee dansers vir een liedjie laat inkom het. Ek dink ook hy kon maar vir een of twee liedjies sy eie kitaar gebruik het, al het hy net gemaak of hy speel, aangesien hy die beste kitaarspeler in Suid-Afrika agter hom gehad het. Ek wil darem nie die DVD se visuele aspek heeltemaal afskiet nie – hulle wys gereeld skote van die musikante, die klawerbordspeler se vingers op die klawers ens. wat vir my belangrik is, en dan is daar nog die mooie Anna Davel wat agtergrondmusiek doen. Meer oor Anna later. Nog iets wat ek moet noem is dat mens nou en dan die gehoor hoor aplous lewer, maar jy sien dit nie. Agter op die omslag staan “‘n Intieme vertoning…”, maar ek mis daardie intimiteit tussen Mathys en die gehoor – ek is seker dit is seker daar, maar ek wil dit sien!


Wat die liedjie-keuse betref, daar is 8 van die 16 liedjies op die CD “Die Tyd Sal Leer”, hulle is almal baie mooi. Daar is 23 snitte op die DVD, waarvan so vier Leonard Cohen-liedjies is. Dan is daar ‘n paar ander mooi liedjies soos Lisa Se Klavier en Droomvrou. In die hele konsert is daar een liedjie wat ek dink nie heeltemaal werk vir Mathys nie: I Am…I Said van Neil Diamond. Miskien is dit te ‘n persoonlike liedjie. Miskien moet Mathys maar aanhou met Leonard Cohen en Neil Diamond vir Steve Hofmeyr los. (Moet sê, ek het dit nog nooit nodig gevind om Steve se Neil Diamond-konsert aan te skaf nie, maar ek glo hy gaan dit beter doen. ‘n Liedjie wat my bietjie verras het is Anniversary Song wat deur Al Jolson van die eerste Jazz Singer fliek geskryf is Sien ook Die Jazz Waarvan Ek Hou. Die konsert eindig met ‘n keurspel wat o.a. insluit I Don’t Believe In If Anymore van Roger Whittaker. In laasjaar het ons Mathys, Rina Hugo en Jannie Moolman se vertoning As Time Goes By gaan kyk en die liedjie het toe vir my vir een van die grootste hoendervleiservarings ooit in ‘n teater gesorg – maar weereens was dit nie dieselfde nie, want toe het hy dit net met sy kitaar gedoen. Of miskien het hy net in drie jaar se tyd geleer om dit beter te doen.

Dan is daar twee liedjies wat nie deur Mathys gedoen word nie – Anna Davel wat vir die res van die tyd agtergrondsang doen, kry ‘n kans om self twee liedjies te doen. Die eerste een, Te Lank Al, is ‘n mooi rustige liedjie deur Anna self geskryf. Dan kom, vir my, die liedjie van die konsert: Die Gypsy In Jou Oë, met woorde deur Koos Kombuis en musiek deur Anna Davel self. Sy lei die liedjie in deur te vertel hoe sy op ‘n gedwonge “blind date” was en die ou haar later voorgestel het aan die gedig van Koos Kombuis. Ek wil nie die storietjie vir jou bederf nie – luister self. Mauritz Lotz se kitaar begin skielik sigeunertaal te praat en raak weer bietjie stiller, dan begin Anna eers stadig sing, maar heeltyd is daar die gelaaide ritme-atmosfeer in die lug. Dan kom sy by “Ek’s crazy, crazy…” en die hele verhoog kry lewe. Ek is crazy oor daardie liedjie. Ek het al gewonder. Koos Kombuis kan tog die mooiste melodieë (steel ek nou sy woorde) skryf, dink maar aan Lisa Se Klavier en Bicycle Sonder ‘n Slot, hoekom het hy nie self van hierdie gedig ‘n liedjie gemaak nie? Ek’s so bly hy het nie!

Die musikante wat saam met Mathys optree is van die beste in die land:

Mauritz Lotz op kitaar. (Ek het ‘n paar jaar gelede gehoor hy’s die beste kitaarspeler in Suid-Afrika. Is dit so?)

Denny Lalouette op baskitaar.
(Onthou, Véronique van Idols, se pa)

Dawid Klassen op dromme. (Ook van Noot-vir-noot Musiekfabriek)

Matthys Maree op klawers (twee t’s)

Matthys vat ook die akkordeon vir Anniversary Song.

Brendon Ross op Saksofoon.

Anneke de Villiers op viool.
Sy is met Jannie Moolman getroud.
(Twee van die liedjies wat Mathys sing is deur Annecke Rhedelinghuys geskryf – moenie deurmekaar raak nie.)

Anna Davel: Agtergrondsang

Toe ons die DVD gekoop het was daar die een wat ons gekoop het met die Gratis CD Ingesluit plakkertjie voorop en een daarsonder, teen dieselfde prys. Hulle was natuurlik geseël, dus weet ek nie of die ander een in ruil ‘n boekie het nie, iets wat by die een ontbreek. (Ek sal bly wees as iemand my laat weet, net vir volledigheid) Die twee liedjies van Anna Davel is ook nie op die CD nie – sy moet darem seker haar CD ook verkoop kry!

Oor die algemeen hou ek die meeste van liedjieskrywer-sangers. Mathys Roets is ‘n uitsondering op die reël, ek hou van hom vir sy sang, hy doen dit goed. Hy gee homself nie uit as ‘n liedjieskrywer nie, maar ek dink hy lewer sy insette in hoe hy die musiek uitgevoer wil hê. Die paar dingetjies wat ek uitgesonder het is nie bedoel as negatiewe kritiek nie. Dis ‘n uitstekende DVD.


Responses

  1. Ek hou van jou passie vir gedigte, literatuur en musiek en geniet jou inskrywings (en so terloops, dit was beslis nie jy nie😉 )

  2. […] mal is oor die liedjie “Die Gypsy In Jou Oë”, wat ek leer ken het op Mathys Roets se DVD Vrydag die 13de. Verskeie van die mense van daardie konsert werk weer saam met Anna: Matthys Maree, Mauritz Lotz en […]

  3. […] dis nou al die hoeveelste keer dat ek terugverwys na my skrywe oor Mathys Roets se DVD Vrydag die 13de. Ek glo daaraan om die ekstra minuut of twee te vat om skakels na relevante geskrifte van my in te […]

  4. […] Maree, die man agter die projek.  As ek reg onthou, het ek hom die eerste keer leer ken op Mathys Roets se Vrydag die 13de DVD.  Matthys beplan om soortelyke projekte vir die ander groot tale van die wêreld aan te […]

  5. […] ryk stem wat mens laat besef daar is mense wat net sanger hoef te wees. In my kommentaar op sy Vrydag die 13de DVD, het ek gekla dat hy darem so nou en dan die kitaar self kon opneem, al het hy die beste […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: