Posted by: mykopop | Saterdag 11 Augustus 2007

‘n Groot Boom Val Neer

iewers klink die eggo
nog ‘n skoot uit ‘n geweer
iewers vlug daar diere
en ‘n groot boom val neer

Op die foto is ek besig om met die petrolsaag die boom se arms af te saag.

In Januarie 1997 het ons ‘n huis in die Wesrand gekoop. Agter in die erf het die vorige eienaar twee bome van dieselfde soort geplant, wat al groot bome was toe ons die huis gekoop het. Ek is nie seker watter soort boom dit is nie, iemand het my verseker dis nie inheems nie. As mens dit saag, ruik dit soos die terpentyn wat my dogter vir haar skilderwerk gebruik. Die probleem is dat ons huis suid front, dus is die groot vensters van die slaapkamers, woonkamer en sitkamer aan die agterkant (noord) om soveel moontlik son in die winter in te laat. Ongelukkig is die bome nie-bladwisselend.

Vir tien winters bibber ons nou al en wik en weeg om die bome of te verwyder of kleiner te maak. Uiteindelik het ons hierdie jaar besluit die grootste een, wat regoor die huis staan en die meeste skaduwee op die huis maak moet waai, dit gaan nie help hom hom kleiner te maak nie. Hy het ook al die betonheining gebreek met sy reuse wortels. (Die vorige einenaar het dit ook goed gedink om hom ‘n meter van die heining af te plant.) Die een in die hoek van die erf sal voorlopig kleiner gemaak word, hy staan ook bietjie verder van die heining af.

Ek is baie lief vir bome en sal dit sover moontlik vermy om ‘n boom dood te maak. Partykeer dink ek ek wil ook graag soos Dalene Matthee se Karoliena Kapp in Toorbos voel hoe dit voel om ‘n boom in die woud te wees. Nou is ek besig om stadigaan ‘n groot boom te vermoor.

Ek is al weke besig om takke te verwyder. Gelukkig is my broer se seun op die oomblik tydelik by ons en help my Saterdae. Tot dusver het die boom nog net bietjie anders begin lyk, maar vandag het ons regtig begin om hom baas te raak. Die boom het drie stamme wat wat so 80 cm bo die grond uitmekaar loop. (Natuurlik ook weer nie gesnoei toe dit ‘n klein boompie was sodat dit net een stam het nie.) Die probleem is dat een van die stamme kwaai na die bure agter ons oorgeleun het, en op die koop toe is daar ‘n telefoonkabel. Ons het vandag eers daardie stam laat val deur die met ‘n ketting (10 mm staal) heel bo aan die ander stam vas te maak. Daarby het ons ‘n 5 mm staalkabel gekry en dit agter aan ‘n voertuig se sleepstang vasgemaak om die stam in die regte rigting te trek.

Ek het die stam net bo die heining eers van voor ‘n keep ingesaag met die kettingsaag. Daarna van agter gesaag en spanning op die kabel begin sit met die voertuig. Op die ou end kon ons dit regkry om dit met die voertuig om te trek, ek wou nie graag daar op die leer wees met ‘n kettingsaag as die stam val nie, al was die kans skraal dat dit kon terugskop.

Nou het die reusestam aan die ander een gehang, daar was geen manier om dit af te kry nie. Ons wou toe eers net die tak waaraan dit met die ketting hang, afsaag, maar daar sou te veel gevaar wees dat dit teen die leer kon val. Toe besluit ons, dan moet die hele stam waaraan dit hang ook maar val. Aangesien die staalkabel nog aan die ketting was het ons dit net korter gemaak by die voertuig en dieselfde metode gevolg. Weereens was ons nie naby toe die stam geval het nie.

Hier is ‘n bietjie meer van die woorde van die liedjie Sy’s Al Wat Ons Het wat Laurika Rauch op haar CD “Die Gang” sing. Dis deur Nataniël geskryf.

iewers klink die eggo
nog ‘n skoot uit ‘n geweer
iewers vlug daar diere
en ‘n groot boom val neer
iewers in die verte
word nog ‘n stad gebou
iewers vaar ‘n vragskip
oor die see se laaste blou

en iewers onder alles
sug moeder aarde swaar

sy kyk oor haar skouer
sy tel nog ‘n jaar
sy dink aan toe sy jonk was
en mooi en sonder pyn
maar nou is dinge anders
sy voel die lewe verdwyn

sy vryf haar moeë bene
sy’t ‘n lang pad geloop
sy wonder oor haar kinders
dis haar heel laaste hoop
sy vou haar hande saam
soos ‘n eensaam gebed
o, wanneer gaan ons leer
sy’s al wat ons het

Ek het bietjie rondgesoek en een antwoord gekry hier. ‘n Mens gebruik omtrent 175 kg suurstof per jaar. ‘n Boom lewer sowat 118 kg suurstof per jaar en verwyder in die proses ook koolsuurgas uit die lug. Ons het dus omtrent twee bome per persoon nodig. Ek is besig om een boom te vermoor.

Ek is jammer.


Responses

  1. eina!
    jy het vergeet van al die suurstofdiewe, my berekenings is so 4 bome per persoon!

  2. Laurika se lirieke. Ai, hoe laat verlang jy my nou.

  3. […] To Each Season” op 1 September. Die arme boompie het ook baie skeef gegroei weens die groot boom wat ek hierdie winter verwyder het. Hopelik sal ek hom hierdie winter kan begin regsnoei, noudat hy […]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: