Posted by: mykopop | Vrydag 27 Julie 2007

My Lekker Waentjie!

Baie in my skik met myself! Ek het vir my ‘n 1-ton sleepwaentjie gekoop, 3 meter lank met remme. Ons het ‘n taamlik hoê reenval hier, die bome (en vuilgoed) groei met ‘n spoed, dus het ek gereëld baie takke ens. om weg te ry. Ek het ‘n 5-voet Venter bagasiewaentjie, die hoeveelheid wat hy vat is ‘n grappie teen wat nou hier lê op die oomblik, want ek is besig om ‘n boom wat amper 3 maal die huis se hoogte is te verwyder.

My keuse was tussen Venter en Engelbrecht. (My jongte dogter vra namiddag vir my: Pa het alle waentjies vanne en nie name nie?) Daar was ook handelaars wat gesê het hulle het fabrieke wat hulle eie waentjies vervaardig, maar ek wou darem iets met ‘n naam hê. Iemand het ook vir my gesê gaan kyk na die Thule (Sweedse maak) waentjies hier by Farm City in Ruimsig. Kom toe daar half nege die oggend, nog nie oop nie. (Watter tyd staan die boere dan op?) Ek moes terug kantoor toe, soek toe en kry Farm City se Pretoria-tak se nommer, kry met ‘n gesukkel Ruimsig se nommer uit hulle. Bel toe, ontvangsdame weet nie mooi wat om met my te maak nie, sit my later deur en die derde persoon wat ek by uitkom sê die regte persoon wat dit verkoop is nie daar nie, maar sy kan my help. Wag toe ‘n rukkie, die prys is R12500, heelwat goedkoper as die Engelbrecht. Ry weer soontoe – nee die prys wat sy my gegee het is op ‘n klein ou bagasiewaentjie. Ek is toe sommer so vies ek bel onmiddelik die Engelbrecth handelaar en sê ek vat hulle 1-tonner. Die Thule waarna ek gekyk het lyk vir my of dit gegalvaniseer is (nie besonder mooi nie) en dit het gelyk asof die bak dalk voor kan losmaak om agteroor te tip, maar hy was net 2.5 meter lank dink ek en die prys is toe R24500. Die Engelbrecht het my R14408 gekos plus R800 vir ‘n spaarwiel, total R15208. Venter het my ‘n sg. 3/4 ton waentjie met remme aangebied, 2.5 meter lank teen R16290, sonder die spaarwiel. Ironies, my 5-voet Ventertjie het 24 jaar gelede R600 gekos plus R50 vir die spaarwiel, hulle wou my nou R650 vra vir ‘n spaarwiel, ek dink dit was die 13″.

Ek het baie gewik en weeg tussen 1 ton of 3/4 ton, 2.5 meter of 3 meter. As ek nou die wet reg verstaan werk dit so: die oomblik wat ‘n sleepvoertuig tesame met sy vrag meer as 750kg weeg, moet dit remme hê. Dus, al koop jy ‘n 3/4 ton waentjie, kan jy maar sowat 470kg oplaai as die waentjie 280 kg weeg. Dit hang ook van jou bestuurders-lisensie af. Met die omskakeling na die kaartlisensies is ek en my vrou se kode 8 lisensies omgeskakel na kode EB, terwyl my kinders wat onlangs ligtevoertuiglisensies gekry het, net kode B gekry het. Kode B beteken jy mag nie meer as 750 kg sleep nie. Ek kan nie presies uitvind hoe swaar jy mag sleep met kode EB nie, net dat jy meer as 750kg mag sleep. Nou hoe gaan ek in elk geval weet hoe swaar is my vrag. Ek sal maar net probeer om nooit te oorlaai nie. Ek dink die 1-tonner kom net met 14″ wiele. Op die 3/4 ton het jy ook ‘n keuse van 13″, maar ek dink 14″ is ‘n veiliger keuse.

Van agter gesien lyk hy so: die klappie kan oopmaak en ook die tralietjie. ‘n Bietjie van ‘n nadeel is miskien dat die tralies voor en langs die kante glad nie kan afhaal nie, ek vermoed dat die plaatmetaal alleen te pap sal wees en dit dus so is vir stewigheid.

Danksy die nuwe verkeersinligtingstelse staan my nuwe waentjie nou al meer as ‘n week sonder dat ek hom kan gebruik. Ek het die papiere ingegee by een van die ‘we-queue-for-u’ besighede, en presies ‘n week en ‘n dag later eers my lisensie en nommerplaat gekry. Nou moes ek die nommerplaat aansit vandag – die swart plastiekhouer is met ‘pop-rivets’ teen die metaal vasgesit. Ek het al gesien hoe maklik ‘n nommerplaat uit daardie houer uitval, ek dink as jy ‘n grondpad gaan vat met hierdie waentjie verloor hy binne 1 kilometer. Ek het dit darem kon regkry om die plastiekhouer bo bietjie weg te buig en die nommerplaat met 2 van daardie plastiekboutjies vas te sit, sien die 2 boutjies in die foto hieronder.


Is ek heeltemaal tevrede? Moenie glo nie, ek is nooit heeltemaal tevrede nie! Die boute voor aan die sleepstang is effens geroes. Ek het hulle met roeskombineerder behandel en sal hulle nog verf, maar ek voel hulle moes gegalvaniseerde boute gebruik het. By die huis gekom het ek ook opgemerk links van die regterkantste ligte is die verf afgeskraap. Toe ek die eerste keer die klap oopmaak kom ek agter hy is skeef, ek sal hom nog moet bietjie bykom met ‘n hoekslyper. Ek het ‘n artikel gekry hier, waar hulle sê: En geen sleepwa verlaat die fabriek voordat hy onder Johan se skerp, streng oog deurgeloop het en as geskik verklaar is om die Engelbrecht-naam te dra nie. My Pa het altyd as meervoud vir Engelbrecht gebruik Engelbrêe. Nou ja, ek sal nog die Engelbrêe bel en sê, as julle om die waentjie loop, maak net die klap ook oop en kyk of hy kan!

Môre gaan ek hom inwy!


Responses

  1. Daai waentjie is omtrent so groot soos my woonstel hier in Taiwan.

  2. Ek het een keer in San Francisco saam met ‘n ou by sy vriendin in China Town gaan tee drink, so ek het ‘n idee gehad, maar nie dat dit so erg is nie!

    Wat ek nie gesê het in die possie nie is dat die waentjie deels gekoop is vir wanneer ek hopelik eendag oor ‘n paar jaar ‘n veldmens word. As dit dan ooit gebeur dat ek op die waentjie oornag, sal ek opkyk na die sterrehemel en sê, dankie ek is nie in ‘n woonstel in Taiwan nie

  3. Ek is te bang om met daai goed te bestuur. Bly jy is tevrede met jou waentjie en sterkte aan die Engelbree^ (ek sukkel nog met my laptop!).


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

%d bloggers like this: