Klavier
Vir Scott Joplin
Linkerhand
en regterhand
elkeen versoen
met wat die ander doen
Linkerhand en regterhand
loop twee paaie
deur dieselfde land
twee paaie
wat saam-saam kronkel
en tog na die dieselfde
bestemming lei
linkerhand
en regterhand
probeer die onmoontlike…
en kry dit reg!
© 2007 Chris van der Westhuizen
Solo gedoen! raai nou kon ek ook op jou blog inkom – ek leer elke dag ietsie nuuts – nou tokkel ek ook ‘n paar letterkies hier op jou instument!
lekker speel!! 😉
By: Annelie on Sondag 15 Julie 2007
at 11:41
Ek moes daardie instrument laat vaar toe ek nog skaars begin het, weens osteo-arthritis in my een pinkie, en intussen het die ander een ook begin. Die gediggie was maar net oor ander mense wat dit so gemaklik kon regkry. Ek het die idee gekry terwyl ek The Entertainer op die radio gehoor het.
By: My Kop Op 'n Blok! on Sondag 15 Julie 2007
at 14:16
iets van die gedig laat my dink aan wat die Bybel sê oor die linkerhand wat nie moet/hoef te weet wat die regterhand doen nie
is dit die onmoontlike?
By: Anonymous on Saterdag 21 Julie 2007
at 11:14
Anoniem, jy is half reg, ek het daardie woorde in die Bybel so effens my gedagtes gehad terwyl ek die gedig geskryf het, maar ek het nou nie bedoel dat dit wat die Bybel daar bedoel, dat jy nie moet goed doen om gesien te word of iets terug te kry, onmoonlik is nie.
Ek het op daardie stadium maar net gedink aan hoe moeilik dit vir my gelyk het om met die maklikste stukkies met die linkerhand iets anders te kan regkry as met die regterhand, ek het vir die onderwyseres gesê dis onmoontlik maar dit tog reggekry. En ek is verstom oor hoe die mense wat kan speel dit kan regkry met moeilike stukke musiek, terwyl die voet op die pedaal ook nog iets moet doen.
Ek dink een van die beroemde mense het ook gesê die onmoontlike is net onmoontlik tot iemand dit reggekry het of so iets, so vir my persoonlik sê my gediggie ook iets van ‘n persoonlike filosofie in die lewe. Dis wat vir my so lekker is van gedigte – dit kan vir elke leser iets anders beteken, wat die skrywer nooit in gedagte gehad het nie.
By: My Kop Op 'n Blok! on Saterdag 21 Julie 2007
at 16:28