Posted by: mykopop | Dinsdag 22 Januarie 2008

Deure met Geure

deure

Aan die einde van laasjaar se werkseisoen het ek gewys dat ons huis se hoofkombuis op die oomlik nie bestaan nie: Huis met ‘n abbahart!

Die volgende stap was om die deure met hulle rame te kry wat tussen die kombuis en die TV-kamer en tussen die kombuis en die gang moet kom. Na ‘n lang gewik-en-weeg en ‘n gesukkel het ek hulle gister van Rutherford Joinery af gekry, of liewer van ‘n handelaar wat hulle aangewys het. Ai, hulle ruik so lekker!

Maar alles is nie sonder probleme nie. Die gewone enkelkosyn wat by die gang moet kom het ek bestel met ‘n drumpel en dit het sonder een gekom. Die twee deure se hout, alhoewel alles veronderstel is om van merantihout gemaak te wees, is baie ligter as die rame. Ek is nie baie lus om vir ‘n gesukkel om hulle te kleur nie.

Op die foto staan die raam met twee kantvensters agter. Dit kom tussen dit kombuis en TV-kamer. Die twee deure wat voor hom staan kom een daarin, en die ander een by die gang. Het ek en Marietjie gisteraand sports gehad om daardie groot raam in die huis te kry! Ons het nooit daaraan gedink nie. Die enigste plek waar ons hom in die huis kon inkry was by my studeerkamer se glasskuifdeur, as ons hom skuins draai. Maar daar sit hy toe in die studeerkamer vas! Ek moes toe net die binnedeur van die studeerkamer eers uithaal om hom daar deur te kry. Toe, om hom van die abbahart-kombuis by die drie trappies op te kry! Dis net ‘n opening sonder deur en ek het amper later oorweeg om die sement bo ‘n bietjie weg te kap, maar met ‘n bietjie heen en weer draaiery het ons hom net-net deurgekry. Regtig net-net!

Ek sal nog probeer om die deure en ander kosyn om te ruil, maar nou kan ek ten minste begin om daardie groot raam in te bou.

Posted by: mykopop | Sondag 20 Januarie 2008

Opwenkrag (2)

pro-series-950Verwys asseblief terug na die eerste Opwenkrag vir die naam!

Lyk my Eskom het vir my en almal nou al goed opgewen. ‘n Paar dae voor nuwejaar het ek ‘n 2.5 kVA kragopwekker gekoop. Mens kan seker nou sê ek was versiende, maar kortsigtig oor waar ek dit gekoop het en die fabrikaat. Dit was ‘n Faraday, so ‘n gele, by Makro. Later meer daaroor, maar ek het hom terguggevat en my geld teruggevra

Gister was ek by ‘n handelaar in grassnyers om iets anders te gaan koop. Dis tipies die plek waar ek liewer my kragopwekker wil koop. Maar hulle verkoopsmanne was so besig met mense wat opwekkers wil koop dat ek omtrent nie met hulle kon praat nie. Van die eenhede op die vloer was ook reeds verkoop en dan het hulle nie nog voorraad van daardie modelle gehad nie. Hulle het ‘n baie oulike Briggs & Stratton, wat vir my van kleins af ‘n bekende naam is, vir R4600. (Alhoewel, ons ou buurman wat so ‘n waterpomp gehad het, gesê het B&S staan vir Breek-en-Staan.) Hy het nie ‘n elektriese aansitter nie en kan so 2000 Watt konstant lewer. Dis regtig vir my bietjie duur, dit lyk my die pryse loop so rondom ‘n R1000 vir 1000 Watt. Ek verwag om bietjie meer vir kwaliteit te betaal, maar darem nie meer as dubbel nie.

Gisternamiddag was ons by Builders Warehouse, waar 3 weke gelede baie opwekkers gestaan het. Daar was omtrent niks, net beskadigde eenhede wat teruggekom het. Al wat wel beskikbaar was, was ‘n klein draagbare Ryobi van omtrent 600 of 650 Watt, vir R1200. Ek wou hom nie graag koop nie omdat dit ‘n tweeslagenjin het, andersinds sou ek graag ‘n Ryobi koop omdat ek die kettingsaag, ook met ‘n tweeslagenjin het, wat darem al meer as ‘n jaar werk Daarna was ons weer by Makro, daar was geen enkele kragopwekker nie.

Vanmôre kom ons toe by Hyperama en ek besluit om weer te kyk, want ‘n paar weke gelede het hulle ‘n Pro Series gehad, waarvan die 2.5 kVA meganies omtrent presies dieselfde as die Faraday gelyk het, behalwe dat dit nie ‘n elektriese aansitter gehad het nie. Daar was niks meer van die 2.5 kVA of 5 kVA oor nie, maar van die meneertjie hier bo op die foto was daar baie op die rak. Dis nou die Pro Series LT950. Hy lewer so 800 Watt en is ook ‘n tweeslag. (Vir die wat nie weet nie, in so ‘n enjin gooi jy spesiale tweeslagolie by die petrol, hy het nie ‘n oliebak soos ‘n gewone enjin nie. Dis absoluut kritiek dat die olie in die petrol moet wees. Dit word in ‘n verhouding van 1:50 gemeng.) Ek besluit toe om maar een te koop vir die ergste kragnood, terwyl ek my soektog na ‘n ordentike opwekker voortsit.

By die huis gekom het ek gou die boekie uitgehaal om uit te vind watter petrol dit gebruik – hy gebruik loodvry, waarvan ek gelukkig nog in ‘n kan gehad het vir die Faraday. Tweeslagolie hou ek gelukkig aan vir die kettingsaag. Ek was onmiddelik meer beindruk met die masjientjie en die boekie as met die Faraday so ek voersien toe nie probleme nie, meng die olie en petrol en gooi in. Ek behoort nie probleme te hê om hom te ‘start nie – ek het mos met enjins grootgeword.

Ek doen toe alles soos wat hulle sê. Maak die kraantjie oop. (Veronderstel mos hy was toe vir die verskeping, en kan die nie onmiddelik in die boekie kry nie.) Sit die aan/af skakelaar op ‘1’ en ‘choke’ die ‘choke’. En trek die tou. En al wat opgewen raak is ek. Nou onthou ek in die ou dae het die ooms altyd gevra. Is daar vuur? Is daar petrol? Ek draai toe die vonkprop uit, koppel weer die draad aan hom en sit sy buitekant teen die metaal neer en trek die tou. Daar is vuur!

Intussen moet ek sê het ek darem ‘n mooi skaapribbetjie in die goedkoop kettelbraaitjie ook gehad. Om te verhoed dat hy brand, het ek hom eers op foelie gebraai, net voor hy heel klaar is haal ek die foelie uit dat hy darem nou meer na regte braaivlies lyk. So het hy gelyk terwyl hy nog op die foelie was:

rib-op-foelie

Met die laaste beentjies goed afgekou, is ek terug na die opwekkertjie. Hierdie keer kom ek darem in die boekie agter ek het die kraantjie verkeerd. Ek trek en trek, maar ek raak nog meer opgewen en hy sê nie eens poek-poek nie. Later lees ek weer die boekie en kom op bl. 2 af op die sinnetjie: Please check that there is petrol on (sic) the carburetor by opening the drain skrew. Daar is geen prentjie wat wys waar dit is nie. Ek kry hom toe hier, jammer die foto is baie dof:

drain-screw

Daar is so ‘n klein metaalkoppietjie, soos daardie glasie wat oupa se waterpomp se enjin gehad het. Ek draai hom toe uit, maar geen petrol nie. Onder aan die koppiejie is nog ‘n boutjie en ek haal hom ook uit. Die koppietjie kom uit met rubberring en al. Daar hang die vlotterkleppie toe, maar al werk ek hom op en af kom daar geen petrol uit nie. Toe sien ek die probleem. So lyk hy:

omhulsel

Dis ‘n gevlegte omhulsel om die rubber-petrolpypie. Natuurlik was hulle te suinig vir die, en vir die pypie so hy is te kort en die omhulsel veroorsaak dat die pypie knak. Ek verwyder toe die omhulsel, sit die pypie terug, en maak die kraantjie oop. Ja, petrol stroom by die vlotterklep uit! Sit die koppie inderhaas terug. Trek die tou, en met die tweede trek is die kragopwekkertjie opgewen! Ek vermoed ek sal nie weer gou probleme met hom hê nie, hy vat omtrent elke keer met die eerste trekke. Ek kan net die volgende wenke gee. As hy koud is ‘choke’ hom heeltemaal wanneer jy die tou heel uitgetrek het, hou hom eers daar want as jy hom onmiddelik los skop hy die enjin bietjie terug en hy vrek weer. Maar terselfdertyd moet jy die ‘choke’ onmiddelik reguleer om hom aan die gang te hou, dan stoot jy hom heel regs. Beter as julle twee is. En as hy warm geloop is, moenie choke nie.

Ek het hom getoets met ‘n elektriese boor van 450 Watt. Die brandstoptoevoer word outomaties gereguleer na gelang van die las en die spoed skommel so bietjie wanneer ek die boor aan of af sit.

Eskom! Wanneer sit julle nou weer ‘n slag my krag af man!

N.S. ====> Die handleiding is eintlik relatief goed, die meeste inligting is selfs in Afrikaans ook beskikbaar. Maar op bl. 12 het ek darem die volgende sinnetjie gekry: 1. Bdfor starting, shake the fukl tank. !!! (Seker om te hoor or daar iets in is of nie!)

****************

Oor die Faraday kragopwekker wat ek moes terugneem

Hy was ‘n 2.5 kVA, met elektriese aansitter en “AVR” nogal, dit alles vir R2499. Ongelukkig het hy net die eerste dag gevat en wou die volgende dag niks weet nie. Ek het vasgestel daar kom geen vonk by die vonkprop uit nie. Ongelukkig was die verskaffer op daardie oomblik toe.

Die mense by Makro kon niks vir my doen nie en ek het besluit ek sien nie kans vir hierdie tipe ondersteuning nie. Ek sal liewer bietjie meer betaal by ‘n kleiner handelaar wat probleempies vir my by sy winkel kan oplos.Na die vakansietyd het ek Faraday ook al geskakel en e-pos gestuur, maar kon hulle nog nie kontak nie. (http://www.faraday.co.za ) Ek was bereid om dieselfde eenheid weer by hulle te koop as hulle my kon sê wat fout was, en my verseker dat ek binne ‘n dag iewers hulp kan kry.

Posted by: mykopop | Saterdag 19 Januarie 2008

SKAAK! – Cor Nortjé en Martin Serfontein

VoorNikita (Chessaleeinlondon) het gisteraand berig dat Bobby Fisher, voormalige skaak-grootmeester en wêreld-skaakkampioen gister op die ouderdom van 64 (ook die aantal blokkies op ‘n skaakbord), te sterwe gekom het. Haar daaropvolgende skrywe is ‘n gedig wat sy oor hom geskryf het.

Sy noem reg aan die begin dat hierdie haar eerste skaakboek was. Dit was ook die eerste boek wat my aan die spel bekend gestel het – dieselfde geld seker vir menige Afrikaanssprekende. Bobby Fisher verskyn op die voorblad van die boek.

Die boek het die eerste keer in 1972 verkyn. Ek het op skool gereeld ‘n vroeë uitgawe van die boek uit die skoolbiblioteek geneem. ‘n Paar jaar na skool het ek die een gekoop wat ek nou gelukkig is om te besit, die vierde uitgawe, tweede druk (1980).

Die voorwoord sê heelwat oor Fisher en ek haal graag ‘n paar stukkies daaruit aan:

Die jaar 1972 sal seker in die driehonderd jaar oue geskiedenis van skaak bekend staan as die jaar van die grootste internasionale herlewing van die spel.

Die Amerikaner Bobby Fisher is grotendeels hiervoor verantwoordelik. Sy dinamiese persoonlikheid en veeleisende temperament het die verbeelding van miljoene oor die hele wêreld aangegryp.

Die naam van die seun uit Brooklyn wat die kultuurwêreld die rug toegekeer het deur op sestienjarige leeftyd die skool te verlaat, net om die hoogste sport te bereik in die spel wat een van die suiwerste dinge is wat die kultuur van die mens oor al die eeue heen nog opgelewer het, was op almal se lippe. Sy kanse om die titel te buit van die sjarmante, belese en verfynde Rus Boris Spasski te klop, is bespreek deur mense wat nog nooit van die verbasende prestasies van die twee spelers gehoor het nie…

In 1972 het hy teenoor die wêreldkampioen gaan aansit as die gunsteling om die wedstryd te wen. Genie teenoor gentleman, het die oorsese pers hulle karakteriseer.

Een ding wat vir my van belang is in hierdie boek, is die Afrikaanse terminologie wat hierin gevestig is:

Afrikaans Engels
Koning King
Dame Queen
Loper Bishop
Toring Rook
Ruiter Knight
Pion Pawn
Skaak! Check!
Skaakmat Check mate
Pat Stalemate
En passant ‘n Franse term wat in alle tale gebruik word

Hierdie boek is vir my een van daardie kleinnode wat mens maar net nooit sal laat gaan nie! Dis uitgegee deur Perskor-Uitgewery. Ek dink dit sou heel gepas wees om die boek nou te herdruk.

Agter

Posted by: mykopop | Vrydag 18 Januarie 2008

Opwenkrag

opwenflitsKyk, een ding kan jy lyk my van ons ou volkie sê: Ons is optimiste. Ek hou mos graag hierdie soekenjin-terme dop waarmee mense by my uitgekom het. ‘n Paar dae gelede het iemand die volgende twee woorde ingetik: “opwen krag”. Op hierdie stadium weet ons almal duidelik waar die ou vandaan kom!

Ongelukkig is die hoeveelheid elektrisiteit wat jy met die hand met ‘n slinger kan opwek maar min. Ek het eenkeer, dis seker nou so twee jaar terug, by iemand ‘n netjiese opwenflitsie gesien en toe self een begin soek. Op daardie stadium was hulle nog nie so volop nie, maar na ‘n paar maande het ek darem hierdie geletjie by ‘n handelaar in boumateriaal raakgeloop. Dis eintlik ‘n 4-in-een. Dis ‘n flits, ‘n paniek-alarm, ‘n radio en hy het ook ‘n plekkie waar jy ‘n kabel kan inprop om ‘n selfoon te laai. Hoeveel tyd en geld jy sal moet spandeer om daardie kabeltjie vir jou spesifieke selfoon te kry weet ek nie. Die radio begin hik en proes as jy ophou om die slinger te draai, en die alarm is ook maar sag en nie vir my juis ‘n pluspunt nie. Dus is dit maar net vir my ‘n flits, en daarvoor werk hy goed, jy moet maar net elke kort-kort opwen. Deesdae kry jy baie van hulle by handelaars in kampeertoerusting, en jy kry ook ander wat mens skud in plaas van opwen.

Ek het eintlik verwag dat hy ‘n veer sou in hê, wat stadig afloop en met ratte ‘n dinamo aandryf wat vir jou krag opwerk. Dis toe nie so nie. Die slinger wat jy draai dryf ‘n dinamo aan (met ratte neem ek aan), wat ‘n stelletjie herlaaibare battery in die flitsie laai. Dus moet jy maar verwag dat daardie batterye ook en of ander tyd gaan klaar raak. Dis nie die verwyderware batterye soos in ‘n kamera nie, hulle is vasgesoldeer.

Ons almal word deur die konsep van beurtkrag geraak. Of is dit ons almal? Iemand het vir my gesê hulle bediende sê in haar woongebied word die krag nooi afgesit nie. Ek sal nie weet nie – ons glo al jare nie meer in die konsep van bediendes nie.

Mens wil tog darem nog aanhou met jou dinge waarmee jy besig is. Solank die kragonderbrekings ‘n uur en ‘n half of twee ure is kan mens darem nog deurkom met jou yskas en vrieskas. Maar dan is daar darem dinge wat mens graag wil doen, soos TV kyk en op jou rekenaar werk.

Daarvoor het ek onlangs gegaan en ‘n 2.5 kVA kragopwekker gaan koop. Groot was die opgewondenheid, maar ek moes eers SAE 40 olie vir hom soek en ‘n kannetjie kry vir petrol, toe “start” ons hom. Tevrede dat hy werk, het ek hom afgesit. Die volgende dag wil ek darem net weer sien, maar nie, hy wil niks weet nie. Ek het die keuse gehad om my geld terug te kry of hom te laat herstel en ses weke te wag. Ek het my geld gekies en soek nou maar weer.

Intussen het ek darem hierdie outjie:

omsetter

Dis ‘n omsettertjie wat 12 Volt gelykstroom omskakel na 240 Volt wisselstroom. Hy kan so 300 Watt lewer. ‘n Gemiddelde TV-stel het minder as 100 Watt nodig en ek dink ‘n satelliet-dekodeerder ook. Die prop wat by ‘n sigaretaanstekersok inprop, het ek self aangesit, maar ek dink jy kan dalk omsetters kry wat dit reeds aan het.

Ons het vannaand twintig oor ses ‘n kragonderbreking gekry. Gelukkig was ons kos net mooi gaar. Ek het hom gou in die garage in die motor ingeprop en van daar af ‘n verlengkoord afgerol tot by die TV en dekodeerder. Ek het die garagedeur effens opgelig en die motor ‘n rukkie laat luier en by die eerste advertensie afgeskakel Ons het 7 de Laan gekyk en darem so die hoofnuus. Toe het ons die TV afgesit tot net voor die weer. Ek het toe weer ‘n paar minute die motor laat luier en weer afgesit. Mens moet maar pasop dat jy nie die motor se battery so pap maak dat jy nie môre kan ry ne. Ons het Noot-vir-Noot so gekyk tot die krag tien voor ag weer aangekom het. As jy so ‘n omsetter wil soek op die internet, dit word in Engels ‘n “inverter” genoem.

Onthou net, as jy die motor in die garage laat luier, maak die garagedeur oop, want die koolstofmonoksied in die uitlaatgas is giftig. As jy ‘n elektriese garagedeur het, is dit in elk geval tyd dat jy leer hoe om hom oop te maak as daar nie krag is nie.

garagedeur-hefboom

Hierdie foto wys hoe my garagedeur oopgemaak kan word. Die rooi pyltjie wys na ‘n hefboom wat jy na regs (op die foto) moet oordruk. Dan vat jy die pyp, waar die blou pyltjie wys, en lig die deur op. Jy moet natuurlik binne-in die garage wees, dus onthou om sleutels by jou te dra sodat jy kan inkom, nie net die afstandbeheer van die garagedeur nie.

Posted by: mykopop | Donderdag 17 Januarie 2008

Ons sien kans vir Onseepkans

Dit lyk vir my asof my vrou en twee dogters dalk sal kans sien om op ‘n plekkie soos Onseepkans te gaan woon! Om jouself te kan oriënteer t.o.v. Upington en Namibië, hier is ‘n kaart. Die een rede hoekom ek graag Onseepkans wou sien, is omdat ek gehoor het dat nadat George Weideman se pa, wat vir my skool gehou het, daarna op Onseepkans gaan woon het. Ek lees nou dat hy al vroëer ‘n erf daar gehad het, dus was dit seker maar heel tyd in sy besit. George gebruik ook die naam Onseepkans in sy gedigte. Die ander rede is dat my pa, toe ek in die hoërskool was, belang gestel het in ‘n plaas by Onseepkans wat vir my lekker wild geklink het – net wat ‘n seun van 15 of 16 se hart begeer.

Van Pofadder af loop ‘n grondpad van so 60 km reguit Onseepkans toe. Die pad is maar sleg, as jy dit wil vermy, daar is ‘n beter pad, waarmee ons terug is Kakamas toe, dit kan jou so 60 km ekstra kos. Die omgewing is vir my pragtig.

Vir die kinders wat al gehoor het van ‘n motorhek, maar hom nog nooit gesien het nie, dis hy daardie in die pad. Aan die linkerkant is ‘n gewone hek wat oopgemaak kan word om vee deur te jaag. Aan die regterkant tussen twee sementpilare, is ‘n rooster van ysterstawe met ‘n gat daaronder – die vee sal nie daaroor loop nie. Dus hoef mens nie stil te hou om hekke oop te maak nie, en elke boer se vee bly in sy eie kamp. As daar twee motors van weerskante aankom, moet die een wat laaste nader aan die hek kom natuurlik eers stilhou en wag.

Hier is nog ‘n motorhek, amper so ‘n halwe skelm een. Ai, ek wens ek kon net daar bly!

Iewers langs die pad het ons ‘n afdraai na Skuitklip gekry. George Weideman skryf ook in sy bundel ‘n gedig ‘Uit my bladsak’, wat so begin:

Ek draf my draf by Skuitklip verby
en skeer my skaap in die Boesmanland
en voor jy weer vir my kom kry
pluk ek die mooiste blom in Namakwaland

Plek-plek lyk dit of die pad eindeloos voor jou uitstrek.

…maar as jy nou nie te veel stop om jou aan die landskap te verwonder en foto’s te neem nie, kom jy een of ander tyd by Onseepkans aan. Ons het regoor die polisiekantoor (regs buite die foto) gestop. Voor kan die grenspos na Namibië gesien word. Jy sal dalk op die foto moet kliek om dit in detail te kan sien.

Onseepkans se polisiestasie.

Toe het ons die pad gevat wat regs draai by die polisiestasie, om bietjie die besproeiingskema ta bekyk.

‘n Entjie verder het ons by hierdie plek gekom wat lyk of hulle bootritte op die rivier aanbied. Eintlik het ek hierdie foto met die terugkom spesiaal vir Skoorbek geneem. Skoorbek, dit lyk darem nie of die Toyota die Landrover gestoot het tot waar hy lê nie! Net regs van die hek, agter die heining lê nog een.

Op die bord staan: Gravity Adventures – Red Rock Camp, 021 683 3693.

Toe ons die eerste keer by Red Rock Camp verby kom, was die hek oop, die huis se deure oop, maar nie ‘n mens in sig nie. By die deur van ‘n klein buitegeboutjie het ons die versameling diere aangetref: ‘n hoenderhaan, ‘n stuk of drie katte en ‘n werpsel klein hondjies, almal in harmonie met mekaar.

Een van die hondjies kon sy vaak nie meer uithou in die hitte nie.

Landerye, waar ‘n paar stuks bees wei. Die bome anderkant die lande is op die walle van die Oranjerivier, en anderkant die rivier kan die koppies van Namibië gesien word.

‘n Sluis in die kanaal.

Ek lees dat Mnr. Japie Lutz die kanaal gebou het. Die naam lui beslis ‘n klokkie, ek dink hy was dalk ook betrokke by die aanlê van die besproeiingskema waar ek grootgeword het, ‘n goeie 200 km rivier op.

Op hierdie plek, waar die pad om die koppie gaan, is die kanaal aan die een kant, en die rivier aan die ander kant.

Dis vir my pragtig waar die rivier oor rotse loop. Namibiê wink daar anderkant…

Terwyl ons iewers na die landerye staan en kyk het, hiet hierdie voël hom op die paal kom tuismaak. Ek dink dis ‘n slanghalsvoël.

Daar is groot wingerde onder haelnette.

Op pad terug, net ‘n entjie uit Onseepkans, draai ‘n ander pad links om weer by die N14 na Kakamas aan te sluit. Dis ‘n baie beter pad, dis ook so 60 km (waarvan net die helfte grond) en sluit so 60 km van Pofadder by die N14 aan. Die N14 en die twee paaie na Onseepkans vorm dus so ‘n driehoek met sye van ongeveer 60 km.

Die regering kom ‘ienspek’ seker nooit hierdie deel van hulle land nie – hulle het hierdie bord bietjie vergeet – hy sê nog: Suidwes-Afrika!

Langs hierdie pad het ons ‘n groot kokerboomwoud gekry. Kenhardt se kokerboomwoud steek bietjie af teen hierdie een. Die bome in die verte is ongelukkig nie so mooi sigbaar op die foto nie.

Een van die kokerbome van naderby.

>

Ongelukkig, die laaste herinnering aan hierdie ervaring was om te sien hoe die aarde oopgeskeur word – vir graniet.

Lucas Maree: My kiekies is bewyse, van die feit dat ek ook daar was…

« Newer Posts - Older Posts »

Kategorieë

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers