Posted by: mykopop | Sondag 18 Mei 2008

Wat beteken “Ma” vir jou?

Ma deur Antjie Krog

01 Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
02 sonder fênsie leestekens
03 sonder woorde wat rym
04 sonder bywoorde
05 net sommer
06 ‘n kaalvoetgedig –

07 want jy maak my groot
08 in jou krom klein handjies
09 jy beitel my met jou swart oë
10 en spits woorde
11 jy draai jou leiklipkop
12 jy lag en breek my tente op
13 maar jy offer my elke aand
14 vir jou Here God.
15 jou moesie-oor is my enigste telefoon
16 jou huis my enigste bybel
17 jou naam my breekwater teen die lewe

18 ek is so jammer mamma
19 dat ek nie is
20 wat ek graag vir jou wil wees nie.”

So in die week voor moedersdag het ek op een of ander manier aan die gedig gedink, ek kan glad nie onthou hoe ek daarby uitgekom het nie. Toe ek vinnig met Google gesoek het vir die gedig, het ek dit o.a. hier aangetref. Ek het onlangs ‘n tweedehandse kopie van Dogter van Jefta waarin dit oorspronklik in 1970 verskyn het, bekom. Antjie Krog is in 1952 gebore, dus was sy waarskynlik jonger as 18 toe sy dit geskryf het.

Ek het die gedig toe op bl. 12 van Dogter van Jefta raakgeloop. ‘n Dag of twee later en ek verder in die bundel Poskaarte gelees en weer in die gedig vasgelees. Maar toe het ek alreeds besluit om die gedig te probeer sing. Ek kon dit nie klaarmaak voor moedersdag nie, maar kom nou al redelik reg daarmee.

Terwyl ek besig was om die woorde in ‘n wysie te probeer inpas het ek natuurlik baie nagedink oor die betekenis van die woorde. Ek het nou klaar neergeskryf wat dit alles vir my beteken, maar ek het besluit ek wil dit anders doen as laasjaar toe ek Rooiborsduif bespreek het. Ek wil eers hoor wat sê julle! Dan sal ek vir julle gee wat ek geskryf het. En ek soek nie “Dis vir my ‘n mooi gedig” nie! Asseblief, laat ek hoor, vir die doel het ek die reëltjies genommer, al wil jy net op een van hulle kommentaar lewer. As jy self ‘n blog het kan jy dit ook aanvaar as ‘n “tag” en op jou eie blog weergee wat dit vir jou beteken. Of as jy nie lus het vir die gedig nie, sê sommer net wat “Ma” vir jou beteken.

(Sien ook Wat “Ma” vir my beteken.)


Responses

  1. Ai, hierdie is en bly maar ‘n mooi gedig.

    Dis ‘n eenvoudige en informele gedig met min leestekens. Ek dink dis met opset so eenvoudig geskryf, want dis juis vir haar ma geskryf. Haar ma, wat haar beter ken as enige iemand anders en wie haar grootgemaak het. By jou ma hoef jy nie voor te gee nie, jy hoef nie ‘fênsie’ te probeer wees nie, sommer net jouself.

    Jou ma is die persoon wat jou grootmaak; Die een wie jou opvoed, leer en vorm (beitel) met opbouende kritiek (spits woorde) en soms kwaai wees (swart oë); Wie sag en opreg (leiklipkop) jou haar aandag gee wanneer jy dit nodig het; Wie vergeet van aardse goed en saam jou lag en speel en altyd agter jou opruim (breek my tente op); Wie jou elke aand in gebed opdra (offer) aan die Here op; Wie altyd gereed is om te luister en op wie jy kan vertrou wanneer iets pla of wanneer jy iemand nodig het (moesie-oor is my enigste telefoon); Wie se huis ‘n plek is van waarheid en waar jy veilig kan voel (enigste bybel); Wie haar kind altyd die seerkry sal wil spaar. Om ‘n ma (jou naam) te hê is om iemand te hê wat jou seerkry keer, jou val vir jou breek (my breekwater teen die lewe).

    Ek dink nie sy vra verskoning omdat sy haar ma dalk teleurgestel het nie. Sy is teleurgestel in haarself omdat sy nie altyd dankbaar genoeg was vir alles wat haar ma vir haar gedoen het nie.

  2. Pragtig.

  3. 18 ek is so jammer mamma
    19 dat ek nie is
    20 wat ek graag vir jou wil wees nie

    Maak nie saak watter paaie jou kind loop nie, ‘n ma bly altyd lief vir haar kind. Let wel, die kind sê nie sy was nie wat die ma graag wou hê sy moet wees nie, maar wel dat sy nie was wat SY graag vir die ma wou wees nie. ‘n Ma se liefde is onvoorwaardelik. Dit is wat hierdie laaste drie reëls vir my sê

  4. Hierdie is en bly vir my ‘n mooi gedig, dit was nou lekker om hom weer te lees..

  5. “n kaalvoetgedig” – Vat saam wat in reëls 1 tot 5 gesê word. By jou ma kan jy net jouself wees – sonder voorgee (sonder fênsie leestekens).

    Reëls 7 tot 17 sê vir my die volgende: jou ma vorm jou (ferm en streng), maar sy’s altyd daar vir jou (‘n oor om te luister)en sy bid vir jou.

    Reëls 18 tot 20 sê sy’s jammer dat sy nie altyd nie soort kind is wat sy graag vir haar ma wil wees nie.

  6. Baie mooi gedig. Ek dink dat sodra ons die liefde van ‘n Ma aan haar kind verstaan, verstaan ons so iets van God se liefde.

  7. He He He – ek voel of ek terug op skool in die Afrikaanse klas is. As ek terug dink aan skool, dink ek ons Afrikaanse letterkunde klasse het nooit regtig in diepte gegaan nie. Daar is nie genoeg gedoen om Afrikaans in ons vas te le nie. In Engels was van jou verwag om Shakespeare aan te haal – maar nie in Afrikaans nie. Maar in ieder geval, dit is ‘n blog op sy eie. Terug na die onderwerp.

    Ek dink wat Antje in kort probeer se het: Hier is ‘n eenvoudige gedig, ek is lief vir ma, ek waardeer ma se pogings, maar ek is nie wie ma wil he ek moet wees nie. Antje was seker ‘n liberale wese wat haar ma se konserwatiewe hart seker goed om gekrap het. Ek dink sy was dalk net ‘n bietjie te volksvreemd gewees vir stoere boere.

    07 want jy maak my groot
    08 in jou krom klein handjies
    09 jy beitel my met jou swart oë
    10 en spits woorde
    11 jy draai jou leiklipkop
    12 jy lag en breek my tente op
    13 maar jy offer my elke aand
    14 vir jou Here God.
    15 jou moesie-oor is my enigste telefoon
    16 jou huis my enigste bybel
    17 jou naam my breekwater teen die lewe

    7 – 12 kan daarop wys dat Antje se ma nie te gelukkig was met haar idees nie. Sy het betig en drome afgebreek / weggelag.
    13 – 17 Antje se ma het haar nooit verstoot nie. “Jou Here God”? Ek weet nie of Antje ‘n ateis is nie, maar dit lyk amper of sy op die stadium God se bestaan bevraagteken het. Dat sy in elk geval haar ma hoer as God geag het. Sulke gedagtes is vandag nog doodsonde in Afrikaner huise.

  8. Baie mooi, dankie!!

  9. Daar was groot probleme tussen Antjie en haar ma op daai stadium. Hierdie is ‘n HELSE verbitterde gedig. Antjie was ‘n progressiewe denker terwyl haar ma konserwatief was as ek dit reg het. Ek weet eintlik nie veel van die hele Antjie en haar ma dramas nie, maar wat ek uit die toneelstuk van “‘n Ander Tongval” waarin Antoinette Kellerman en Nina Swart gespeel het, afgelei het, is dat hulle ontsettend erg koppe gestamp het en altwee is baie seergemaak daardeur. Ek ken nie Dot Serfontein (Antjie se ma?) se werk nie. Het sy nie “Haai Selina, jok jy nie?” geskryf nie? Later het Riana Scheepers’ Haai Katriena, jok jy nie?” geskryf. Maar ek kan verkeerd wees. Help maar reg as ek die kat aan die stert hier beet het. Hierdie is sommer nou uit die vuis…. mar ek kan my kop op ‘n blik sit! Lag-lag…

    11 jy draai jou leiklipkop… baie harde beeld… vir my aaklig! Leiklip as dit val breek ook maklik in
    klomp stukke ek dink…

    14 vir jou Here God. Ek dink so baie van ons is so grootgemaak. ‘n Enkele beeld van ‘n NG kerk God.

    Nee, hoor dis ontstellend. Hopelik het altwee meer gebalanseerd en so geraak in later jare.

    Ekskuus, eks nou skoon naar.

    Alleraaklikge gedig.

    Sorrrryyyy !!! Jy WOU weet Krisjan.

    Hoop nie MY kop gan nou oppie blok gesit word nie.

    Cheers,
    Annie

    15 jou moesie-oor is my enigste telefoon… weereens nie ‘n mooi beeld nie… iets wat nie mooi is nie… ‘n eng begrip van die ma se kant dalk en wil haar idees en persepsies oor geloof en watookal so oordra aan die kind.

  10. Dit rym nie… maar dit dig :???:

  11. Ekskuus! ek wou nog nie ‘enter’ druk nie – soos ek vir Antjie Krog nou al gelees het, is sy beslis nie een vir ‘sweet-talk’ of dan soetsappigheid nie – sien die aanspreekvorm ook: “Ma” – nikse ge-”Mamma” nie.
    Ek is met jou oor hierdie een, Annora.

  12. Hi BB

    Ja dis ‘n goeie gedig want dit skok jou. Juis oor sy so krities op haar ma is. Tog is sy haar ma se kind… die skrywery. En dus ook sielsgenoot van haar ma. Maar ek weet werklik nie. Antjie lees nog altyd vir my moelik soms. Eks nou sommer lus om haar gedig oor geboorte hier neer te skryf. Mooi, maar ook beskrywend in detail amper. Dis hoe sy haarself uitdruk: Intens en sterk en ek hou meer van die sagte aard van poësie. Ek sal liewers mooi gedigte lees. Ek wonder nou werklik oor Antjie en haar ma. Dit gaan my nou heavy pla. Ek het nog nooit eers oor Antjie en haar ma te veel gedink nie. Ek het nog nooit eers hierdie gedig gelees nie. Net die eerste reël en dan gestop. En nou sing Chris dit, ja einste Chris van kop op ‘n blok en toe tref die hartseer en heim weë in die werkie my heavy erg.
    Maar tog dink ek Antjie se ma was sekerlik ‘n wonderlike vrou. Ek dink mens verwag te veel van mens se ma as mens verwag ‘n ma moet als verstaan..

    20 wat ek graag vir jou wil wees nie…

    Tog nou na al die jare is Antjie en haar ma seker close en verstaan mekaar? Mens wonder. Sy was soos Kop sê… bitter jonk.

    Ek besef nou net dat ek zilch van Antjie Krog weet. En nog minder van haar ma. Streng? Gelowig en al dit…

    Het hierdie gedig nie al “cult” status bereik nie?

  13. Hilda Smits het ook ‘n pragtige gedig gepubliseer gister (28 April 2009), dit begin so:

    Ma, ek dink vanaand aan hoe die Mooirivier ruik wanneer
    ‘n somers reentjie uitgesak het, en aan spaghetti & maalvleis
    op ‘n lee maag. Aan basterhonde in die stowwerige yard,
    en ‘n rooi proesende Anglia…

    Gaan soek dit maar op Hilda se blog, http://dignet.blogspot com. (Ongelukkig is dit ongetiteld en het dus ook nie ‘n direkte skakel nie.)

  14. Baie dankie vir die vreeslike kompliment, ek sien nou eers! Ek dink wel nie dat Krog en my gedig in dieselfde lig gestel kan word nie, maar reken dat my Ma vreeslik trots sou wees in elk geval :) Ek loer nou en dan hierso in, altyd iets interessants om na te loer..


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers

%d bloggers like this: