Posted by: mykopop | Vrydag 11 Januarie 2008

Pofadder, vat my hand

Ons het op 16 Desember op Pofadder aangekom, eintlik net om daar oor te slaap vir ons besoek aan Pella. Pofadder (Wikipedia) is ‘n dorpie wat die skaapboerdery-gemeenskap in die Boesmanland (Noord-Kaap) bedien. Hier is die kaart.

L.W. – Kliek op enige van die foto’s om dit volresolusie op my Flickr bladsy te bekyk.

Pofadder se hoofstraat – lyk nie baie interessant nie.

‘Proe-i-Biekie’, ‘n kafee en wegneemetebesigheid in die hoofstraat.

Proe-i-Biekie se muur is mooi rooi en wit geverf. Lyk asof dit ‘n ou steenmuur is.

‘n Huis in Pofadder.

Die plaaslike supermark, Super Spaar.

Soos in Pella, kom daar ook dadelpalms in Pofadder voor.

‘n Ou geboutjie langs die hoofstraat.

By die Total Garage en kafee langs die N14 is ‘n klein museum. Hier is ‘n ossewa.

‘n Perdekar in die museum.

‘n Ou ploegie in die museum.

‘n ‘Koos’; in die museum.

7de Laan gastehuis, waar ons oorgeslaap het, van voor gesien.

Marietjie ontspan by die swembad en braai.

Ek poseer by vleis wat ek regtig braai.

Die swembad by die gastehuis. Die kinders het bietjie geswem, maar glo dit of nie, in Desember was dit te koud in Pofadder vir my om te swem.

Nog ‘n deel ontspanningsarea. by die swembad.

Die agterdeur.

Die nuwe NG-kerk op Pofadder.

Die nuwe kerk is verbind aan die ou klipkerkie, lyk asof dit die konsistorie tussenin kan wees.

Die ou klipkerkie, van voor gesien.

‘n Enkele kindergraffie in die hoek voor in die kerkerf.

Hier is die grafskrif duideliker sigbaar. Die spelling is so half tussen Afrikaans en Nederlands:

IN TEDERE GEDAGTENIS
AAN ONS DIERBARE DOCTERTJIE
ALETTA JOHANNA MARAIS,
GEB. 10 SEP. 1919,
GEST. 24 OKT. 1920.

En hij stak zijne hand uit
en nam haar in en bracht
tot zicht in de ark.

(Ds.) A.F. en P. Marais.

Regoor die kerk is ‘n parkie, ter ere aan ‘n beminde ‘Ou Dok’; O.T. van Schalkwyk.

Volgens die plaat het ‘Ou Dok’ hierdie gemeenskap gedien vanaf 1 April 1956 tot 24 Mei 1986. Hy het darem een ding met my in gemeen: ek het ook op 1 April 1988 begin by die werk waar ek nou is – hopelik het hy nie ook later soos ‘n Aprilgek gevoel nie.

‘n Tipiese huis in Pofadder, met ‘n veranda, ‘n windpomp in die agterplaas en twee dadelpalms langs die kant.

Die Rooms-katolieke sendingkerk in Pofadder.

Nog ‘n skoot van die R.K. sendingkerk.

‘n Valkie sit houtgerus op die lysie teen die muur van die kerk, sowat ‘n meter van die grond af.

Nog geboue van die R.K. sendingkerk op Pofadder, lyk soos ‘n skool.

Ons groet Pofadder. Hierdie uitstalling en borde is voor die Total-garage langs die N14. Half agter die bord wat sê ‘Sukkel vir ‘n Sent’ staan ‘n bord van Boesmanland Cafe. Ons het by hulle ontbyt geëet en kan hulle aanbeveel.

About these ads

Responses

  1. Pragtige foto’s! Dankie, nou weet ek ook, na al die jare! – hoe lyk Pofadder en sal ek my vriendin moet opspoor om die foto’s te sien! ;) Sy sal baie in haar skik wees! Jy moes nou net bietjie “skuinskoek” ook geblog het! ;)

  2. Nikita, in die minder as 24 uur wat ons in Pofadder was, kon ons nie ‘n enkele skuinskoek te koop kry nie, want aangesien die 16de op ‘n Sondag was, is die vakansiedag na die Maandag verskuif. Maar toevallig kom ons die Dinsdagnamiddag koffietyd terug by my ouers aan, en my ma haal toe skuinskoek uit i.p.v. die normale koekies of beskuit!

  3. Sjoe, daar’s nogal baie kerke vir so klein plekkie!

    Ek was ook nog nooit in Podadder nie – dankie vir die fotos! Nou weet ek ook hoe dit daar lyk. :-)

  4. Ek was sowaar ook nog nooit op Pofadder nie. Dankie dis vir hierdie kykie. Dis so EG Suid-Afrikaans plattelands, ek verlang sommer! Ek is gek na plekkies waar daar niks is nie – daarom ook so lief vir Nam.
    Ek moet se daardie kerk is darem bitter modern vir so ‘n plekkie!

  5. Ek was baie jare gelede op Pofadder toe ek en my ouers en my jonger broer net na ek matriek geskryf het, in 3 weke reg rondom ons land getoer het. Ek het toe net 18 geword en my bestuurderslisensie gekry. Ek moes toe natuurlik meeste van die tyd “chauffeur” speel!! Ons ken iemand wat van Pofadder kom en sy bynaam is natuurlik – “Slang”! Baie mooi foto’s – dankie dat jy dit met ons gedeel het! Wat is “skuinskoek”?

  6. Kaalvoetkind! Moenie vir my sê jy ken nie skuinskoek nie! Dis stukkies beskuitdeeg wat in diep olie gebraai word. Dit het seker bietjie van ‘n ooreenkoms met ‘n doughnut, maar dit word in bolletjies kleiner as ‘n frikkadel gebak en is heelwat harder as ‘n doughnut – maar baie lekkerder saam met koffie.

    As jy Google sal jy sien daar is ‘n resep, maar hulle maak sommer deeg met kitssuurdeeg, ek dink die regte deeg om te gebruik is die wat met ‘n suurdeegplantjie gemaak word. Wie kan my sê hoe om met ‘n suurdeegplantjie aan die gang te kom? Ek sien iewers op die internet is ‘n resep daarvoor, maar dan sê hulle nie hoe jy die suurdeeg moet gebruik om beskuit te bak nie.

  7. Gits, ek het regtig nog nooit daarvan gehoor nie, maar dit klink lekker!! My skoonma het altyd vir ons brood en vetkoek gemaak van ‘n aartappelsuurdeegplantjie en dit was heerlik. Daarmee saam het ons plaasbotter en donkerbruin taai perskekonfyt wat sy self gemaak het geëet. Sjoe man, ek kry sommer nou weer lus daarvoor!! Ek sal bietjie in haar ou resepteboeke gaan krap en kyk of ek die suurdeegplantjie se resep kry, dan sal ek dit vir jou epos.

  8. Mooi foto’s, dit lyk ‘n klein bietjie Arabiese.

  9. Toe ek lees van die plantjie weet ek toe dadelik ek het dit iewers raakgelees – Huisgenoot se Wenresepte (hoe dan nou anders) – hulle vertel ongelukkig net hoe om die plantjie te maak en dan daarmee koek te bak, niks van beskuit nie.

  10. Om een of ander rede het ons altyd toe ons op skool was Pofadder gebruik as voorbeeld van die verste, vereensaamste (miskien selfs agterlikste) plek. Duidelik was ons verkeerd, want kyk hoe pragtig, rustig en sielverkwikkend is dit – geen agterlikheid daar nie. Dankie vir die inskrywing en die pragtige fotos.

    In verband met die gisplantjie: My ma het al die jare vir ons brood gemaak met ‘n mieliemeelplantjie. Dit is nogal ‘n langsame proses, want elke keer as jy wil bak moet jy eers die plantjie aktiveer. Jy doen dit deur die plantjie (in ‘n liter glasbottel) te voed met 3 eetlepels mieliemeel, 3 eetlepels suiker en 2 eetlepels sout. Dan klits jy dit saam met genoeg lou water om die bottel vol te maak. Los dan op ‘n warmrige plek oornag om die gis kans te gee om te werk. Die volgende oggend gooi jy die vloeistof en ‘n groot deel van mieliemeel mengsel (jy moet net genoeg hou om nog plantjie oor te hê vir volgende keer se bak) by 2.5kg broodmeel en meng dit in. Voeg genoeg water by om ‘n deeg te vorm en knie goed. Draai goed toe om warm te hou en laat op ‘n warm plek rys. In die kouer maande moet mens altyd ‘n warmbottel ook bysit om met die reisproses te help. Gebruik deeg wanneer dit dubbel die groote gereis het – gewoonlik so teen laatmiddag. Dit is nou wel ‘n lang proses, maar dit gee regtig ‘n besonderse smaak en die brood bly ook langer vars as die brood wat ons met kitssuurdeeg maak en vir 5 minute in die mikrogolf laat rys. Vir beskuit doen ons presies dieselfde, maar gebruik 2.5kg koekmeel, 2 koppies suiker, 500g botter en ‘n groot handvol anyssade instede van net die broodmeel. Hierdie gee nogal ‘n digte beskuit. Meeste mense sal dit dalk ligter, soeter en met meer botter verkies. Hoop jy kom reg met jou suurdeeg en plantjie.

  11. Een van my groot vriendinne kom van Pofadder af en ek moes ook haar vertel hoe ons altyd Pofadder as voorbeeld gebruik het! Sy is ‘n DIERBARE mens en kan dinge op so ‘n snaakse manier se dat jy jou ‘n papie lag…bv. toe hulle afskeid geneem het van iemand by haar werk, se sy die dag vir my… “hulle het Piet afgeskeid”… (piet is sommer nou net ‘n voorbeeld-naam)… maar dit was snaaks! :) haar ma het altyd vir ons skuinskoek gestuur en haar hele familie het ek later leer ken, nog nooit meer dierbare mense ontmoet as hulle nie! en vir die wat NIE skuinskoek ken nie…jy MIS UIT!!! dis lekkerder as vetkoek/pannekoek whatever… en jy KAN NIE ophou eet nie..daardie anys in hom…yummy!!! phew… my lus hang nou behoorlik ver uit!

  12. Ek vrek oor die ou huise met die wye stoepe (veranda’s) wat amper reg rondom loop.

  13. Krista, ek sal baie makliker vandag op so’n stoep kan sit en koffie drink en skuinskoek eet as om hier te sit. Of mens kan selfs ‘n gasstofie uitbring stoep toe en nog skuinskoek bak.

  14. Mooi foto’s! Ek was self nog nie in Pofadder nie, sal dit graag eendag wou besoek.

    Kan nie sê dat ek baie hou van die nuwe NG kerk se vreemde ontwerp nie, en dit nog langs so ‘n mooi ou klipkerkie ook.

  15. Kostannie, ek dink die meeste kerkgeboue wat so lyk (miskien nie net NG nie, susters dalk ook) wat so lyk dateer uit die 60′s en 70′s van die vorige eeu (dit klink rof), toe ‘n kommissie afgevaardig is om ‘n argitek van die stad te kry, en ek dink meeste van hulle staan deesdae Sondae taamlik leeg. Ek hoop ek kan volgende keer genoeg tyd op Pofadder hê om ‘n diens by te woon en te kyk hoe dit lyk.

  16. Ek is ‘n boorling van Pofadder.Die beroemde Dr O.T van Schalkwyk,na wie die parkie vernoem is het my in die lewe gebring(gevang)1959 en ek is ook in hierdie Klipkerk gedoop.Na die bou van hierdie nuwe kerk word die “ou”kerk as kerksaal gebruik waar oa die jaarlikse basaar gehou word
    Bietjie meer oor skuinskoek-op sy lekkerste as jy dit deursny ‘n bietjie tuisgemaakte botter opsit met soet moerkoffie!!!!!Super Spaar was daardie jare een van net 2 algemene Handelaarsake(Von Willigh’s Handelshuis)op die dorp.
    Die Roomse Kerk se hoof daardie jare was Vader Trommelaar genoem Vader Trommeljtie en het ‘n melkery bedryf wat die hele Pofadder van melk voorsien het asook die skoolkoshuise.
    Ek probeer elke jaar gedurende my verlof net deur pofadder te gaan,net om weer MENS te word

    • Wat ‘n heerlike terugblik (Albert s’n in reaksie op die uitstekende foto-beeld). Ja, ek het ook op Pofadder mens geword, so 10 jaar voor Albert. Lieflike plek, kosbare herinneringe.

  17. Ek is nou 50 jaar oud en ek was seker 43jaar gelede in Pofadder gewees, lyk nie vir my as of baie verander het nie maar dit is n goeie plek vol goeie mense, my Ma (Mokkie Visser) was daar gebore en het daar groot geraak en ek kan onthou hoe lank dit as kind vir my geneem het om soontoe te ry van Ceres, dit was erg… maar die heerlike welkom by Oom Freddie en Tannie Borie het daai lang rit alles die moeite werd gemaak. Ek is seker hulle verkoop nog baie Sparletta, daai groene en Pinenut in die Cafe daar, dis al wat n kind nodig gehad met n handvol “Chappies” heeldag en sommer nog more ook gekou…Sies, se my Ma as ek so bubbles blaas en dan bars dit oor my gesig…
    Dankie vir herinneringe en oulike fotos, maar te koud in December om daar te swem, hoe dink jy voel ek hier in die UK?

    • Ag lekker Pieter van Zyl. Jou herinneringe is perfek, Dis ons Pofadder ja! seg Helena (Visser) Kolbe


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 48 other followers

%d bloggers like this: