Ek beland Saterdagaand toevallig in ‘n boekwinkel in Clearwater-sentrum – nog nie einde van die maand en tyd vir rondkyk vir CD’s en boeke nie, maar ek kom toe op die boekietjie af in die eina-rakkie vir Afrikaans en besef as ek hom nie nou koop nie sal hy nie meer die einde van die maand daar wees nie. Die formaat van die boek is ‘n bietjie ongewoon, heelwat kleiner as gewone storieboeke of digbundels, ek sou sê omtrent die grootte van ‘n gesangboek en omtrent 1.5 cm dik. Die buiteblad is sagteband maar met ‘n effense tekstuur.
Weereens, hierdie is nie ‘n resensie nie. Ongelukkig kry ek ook geen resensie vir hierdie boekie op die www nie, behalwe wat die uitgewer daaroor te sê het. Ek was glad nie vertroud met die digter Barend J. Toerien nie, ja ek het die naam al gehoor en miskien een of meer van sy gedigte gelees (Komrij of so). Ek haal aan uit die stukkie van die uitgewer, Protea Boekhuis: Sy werk het van vroeg af “anders” geklink as dié van sy tydgenote, waarskynlik omdat hy reeds in 1947 op 26-jarige ouderdom die land verlaat het. Hy het dus die indoktrinasie van die Nasionale Party wat in 1948 aan bewind gekom het, vrygespring. Ja, ek stem saam dat dit die rede kan wees hoekom hy anders klink, die deel oor die Nasionale Party is natuurlike een opinie – hy het ook nie gebly om daarteen te stem en alles deur te maak nie, maar dit tersyde. Ek wil glad nie eintlik politiek praat op my blok nie, ek wonder net party dae waaroor sou skrywers in Afrikaans geskryf en gedig het as dit nie vir apartheid was nie – dit was darem ‘n te lekker inspirasiekoei. (As mens ‘n kontantkoei kan kry, kan jy seker enige soort koei kry wat jy wil hê.)
Dieselfde aand toe ek die boeke gekoop het, het ek ook gekyk na die bundel Nag Op ‘n Kaal Plein van Dolf van Niekerk. Nou sien ek Joan Hambidge skryf Kanttekening oor ‘n “duimnael-resensie” van Dolf van Niekerk se bundel en sê Verskoon my vir die wals, maar die resensie deur Barend J. Toerien, self ‘n digter, van Nag op ‘n Kaal Plein deur Dolf van Niekerk (“Dis ‘n Stil Boek dié en ‘n Mooie”, 5 Februarie) is skokkend oppervlakkig. Soos ek gesê het, ek het na van Niekerk se bundel gekyk, ek dink daar is omtrent 21 bladsye gedigte, teen R102. Hierdie boekie het 175 bladsye, toegegee, nie almal vol gedigte nie, maar teen R103. Dolf is darem te duur. Nie dat mens ‘n prys op gedigte kan plaas nie. Ek het nog nie alles gelees nie, maar as jy digbundels versamel soos ek, sal ek sê, koop hom. Ek moet darem ook bysê, voorin staan Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim subsidie van die I.W. Hiemstra Trust. Hoera vir die I.W. Hiemstra Trust!
Ek haal net so ietsie uit die boek aan om jou min of meer die gevoel van die man te gee:
Die kindermeid sing uit Gedigte (1960)
(net die laaste 2 strofes van 4)
Maar my kind, my klonkie
wat toulei, my jong
kêreltjie, wat kan ek hom gee,
‘n plaas, troppe vee?
Wat kan ek hom gee as hy vra,
voor hul hom buig en hy leer
om sy eer te sluk, en die clown
te speel soos sy pa?
Hoor jy die apartheidssweep slaan hier?
Vierreëlig uit 39 Gedigte (1963)
(net 2 wat vir my mooi is)
I.
Met die bloekomlaning langs
kom stowwerig die gerwewaens
en op die stampende vrag, gestrek,
strooi in die mond, lê ‘n kind, lê ek.
Laat my aan my kinderdae dink, in my geval was dit net vragte lusern.
VI
As hierdie staalstad om ons stort,
as hierdie soet aardbol uitbrand,
dan sal die sterre nog daar wees
soos gousblom wit teen Leeukop was.
Die bundel is ‘n verskeuse deur Louise Viljoen uit die volgende bundels:
39 Gedigte (1963)
Verliese en Aanklagte (1973)
Illusies, elegieë, ooroeë, transfusies (1975)
Aanvange:Verskeuse 1938-1962 (1983)
‘n Plek op die land: Catskillverse (1985)
Parte speel (1991)
Die huisapteek (2001)
Hier is Protea Boekhuis se beskrywing van die boek:
Om te onthou
Versamelbudel ter viering van die digter se 85ste verjaardag
Verskeuse deur Louise Viljoen
Barend J. Toerien
Barend J. Toerien (1921– ) se eerste bundel gedigte het in 1960 verskyn. Sy werk het van vroeg af “anders” geklink as dié van sy tydgenote, waarskynlik omdat hy reeds in 1947 op 26-jarige ouderdom die land verlaat het. Hy het dus die indoktrinasie van die Nasionale Party wat in 1948 aan bewind gekom het, vrygespring.
Toerien woon die grootste deel van sy lewe in die VSA. Benewens nostalgiese verse oor sy jeugwêreld – Porterville in die Swartland – skryf hy unieke natuurverse wat in Noord-Amerika gesitueer is. Die hoogtepunt van sy oeuvre is dan ook die bundel ’n Plek op die land. Catskillverse van 1985. (In ’n sekere sin sou ’n mens hom ’n Afrikaanse Robert Frost kon noem.) Verder val sy gedigte op deur ’n speels-satiriese toon en aweregse erotiek.
Toerien beoefen ’n groot verskeidenheid versvorme. Hy is ’n bedrewe beoefenaar van die vrye vers en die “praatvers”, maar hy skryf ook rymende formele versvorme soos die limerick en sonnet. In die bundel Illusies, elegieë, oorveë, transfusies van 1975 staan daar ’n indrukwekkende reeks sosiaal-kritiese “Shakesperiaanse sonnette”.
Toerien is in baie opsigte ’n “vreemde voël” in die Afrikaanse letterkunde, maar een waarvan die eiesoortige wysie talle poësieliefhebbers al die afgelope sestig jaar bekoor. Ongelukkig is hy ook ’n onderskatte digter. Die publikasie van ’n keur uit sy werk sal hom opnuut onder die aandag van die leserspubliek en die kritici bring.
2006 ISBN: 1-86919-096-3
PRYS: R100.00
176 pp. Sagteblad
Hier is ‘n aanlyn-bespreking van die gedig Met Phyllis Ingekooi.



dankie vir die bekendstelling
By: idiwidi on Friday 3 Augustus 2007
at 11:11
He he he!!!
Ek het so bietjie vooruitgeblaai in die boekietjie en lees bl. 172 amper aan die einde van die boek:
Uit: Clerihews
II
Ek hoor met konsternasie
van Dekonstruksie, Post-Modderasie
en weet dan dis maar net weer idge
van Hambidge
Is dit dalk hoekom Joan die arme oom so kap oor sy “duimnael-resensie”?
By: My Kop Op 'n Blok! on Saturday 4 Augustus 2007
at 7:30
ek moet tot my skaamte erken dat ek nie geweet het van Toerien nie, maar die aangehaalde strofes klink besonders, so ek sal bietjie kyk of ek ‘n digbundel kan raakloop..
By: dignet on Saturday 4 Augustus 2007
at 18:53
Ek sien nou eers hierdie. Pragtig!
Dankie vir die bekendstelling.
By: LabMuis on Sunday 26 Augustus 2007
at 22:21
[...] – Die Huisapteek, 2001, @ R24.00. ‘n Paar maande gelede het ek ‘n inskrywing gemaak: ‘n Oulike Boekietjie, oor Toerien se saamgestelde bundel “Om Te Onthou”, wat gedigte uit albei hierdie [...]
By: ‘n Lekker Digbundeloes « My Kop Op ‘n Blok! on Friday 28 December 2007
at 22:54
Wee jy dis baie mooi. Was hy nie Tannie hendrghirn Mybyrgh van Langebaan se brgrorg nie …Porgterville.. die Bolandse Boere wat brgy… het hy nie ook ‘n boek oor die Wskus geskryf ni…. maar ek kan verkeedr wees..vae herinneringe..
beauriful… hierie..
Met die bloekomlaning langs
kom stowwerig die gerwewaens
en op die stampende vrag, gestrek,
strooi in die mond, lê ‘n kind, lê ek.
Laat my aan my kinderdae dink, in my geval was dit net vragte lusern.
Baie interessant jy het omtrent ‘n kennis oor die digters . Ag en ou Joan is maar vol dinge lykit my. Ek dink syt nogal ‘n ego soms, anner kere weer nie. Maar skerp is sy defnislis en nie bang om haar mond groot oop te maakie lykit my.
By: dagbreekdans on Woensdag 8 Oktober 2008
at 21:51
Askies man , lyk my daars regtig iets fout met my, ek meen Hendrien Myburgh van Langebaan se broer.
My pa het hulle geken of iets.
Groete,
Annora
xxx
By: dagbreekdans on Woensdag 8 Oktober 2008
at 21:56