Posted by: mykopop | Woensdag 20 Junie 2007

Huis met ‘n Hartomleiding

Uitvoerende Bestuursopsomming

Ja, dis nou die “executive summary”. ‘n Waterpyp in my tuin het gebars gedurende die koue nagte en begin lek. Ek leer alles van loodgieterswerk met gegalvaniseerde pype.

Een of ander tyd, 1997 of 1998

Die pyp onder die buitekraan het toe al begin lek. Ek maak dit toe reg met Pratley Putty (stuur kommissie asb.), die regte tipe wat saam met Neil Armstrong maan toe was. Ek vergeet daarvan.

Begin Junie 2007

Die pyp begin taamlik kwaai te lek, nadat ons snags temperature onder vriespunt gehad het.

Saterdag 16 Junie 2007

Ek besluit die lek moet nou reggemaak word en gaan koop ‘n paar waterskoene (“gumboots”) om mee te begin.

Ek begin grawe die pyp oop, rondom die staanpypie van die buitekraan. Die kraan staan teen ‘n muur van die vierkant om die wasgoeddraad. Dit vat my die hele dag om ver genoeg oop te grawe om te sien waar dit lek. Ek moet boomwortels so dik soos my voorarms wegkap en saag. Die staanpypie van die kraan gaan teen die muur af en onder is ‘n elmboog. Die pyp wat horisontaal daar uitkom se skroefdraad is beskadig en lek. Hy lek nou eers lekker, om die waarheid te sê, hy spuit. Ek gooi hom weer bietjie toe met grond om die lek te verminder.

Sondag 17 Junie 2007

Ek soek na die gereedskap om draad aan ‘n pyp te sny. Gelukkig kry ek nie so iets nie, want dit sal duur wees.

Maandag 18 Junie 2007

‘n Kollega vertel my van ‘n ding wat hulle noem ‘n Johnson Clamp waarmee jy pype kan las sonder om draad te sny. Intussen vind my vrou uit van ‘n loodgieter wat dit sal regmaak vir so R450, maar dis ook maar nie definitief nie. Aangesien ek reeds die meeste werk gedoen het en dit nou maklik lyk, gaan koop en etenstyd ‘n Johnson Clamp.

Na werk skep ek die gat leeg en grawe weer ‘n bietjie oop. Ek sny die pyp met ‘n hoekslyper (dis nou ‘n “angle grinder”) af, ‘n entjie van die elmboog. Intussen sit die staanpyp en elmboog nog vas tussen die boomwortels. Die staanpypie dien mos nou as ‘n lekker hefboom, so ek sal dit sommer losbreek, wat ek gou doen… Oeps. Dit was toe nie ‘n elmboog nie, maar ‘n T-las. Die pyp was nie ‘n aftak van die hoofvoer nie, maar wel die hoofvoer na die huis!

Dis amper toemaaktyd en ek stuur gou my vrou na die naaste hardewarewinkel om nog ‘n Johnson Clamp, ‘n “socket” en ‘n stukkie gegalvaniseerde pyp met skroefdraad te kry. Dis egter nie dieselfde as die een wat ek reeds het nie. Die wat ek reeds het, werk met rubberringe wat elkeen deur ‘n moer saamgepers word, die ander is ‘n gesplete tipe. Ek kan dus nie die twee gebruik om dinge weer bymekaar te kry nie. Dit word donker, ons moet ‘n verlengkoord met ‘n lig aanlê.

Ek maak ‘n houtprop van ‘n besemstok en slaan dit in die pyp wat van die huis af kom, want hy is onder die muur, ek kan nog nie regtig by hom uitkom nie. Ek las die kort gegalvaniseerde pype met ‘n elmboog aan die kraan en las dit met die goeie Johnson Clamp aan die toevoer. Ek kan nou die stopkraan oopdraai en my buitekraan werk.

Maar hoe kry ons water in die huis vir die nag? Nou vir die hartomleiding. Ek het twee tuinslange. Ek haal die koppeling van die een af en sit dit aan die punt van die ander een. Ek koppel met die tuinslang hierdie buitekraan aan ‘n ander een teen die huis en draai albei oop. Verassing – geen water in die huis nie. Na ‘n rukkie se kopkrap besef ek die water druk die kraan by die huis se waster af en druk hom dus toe. Maak hom oop, haal die waster uit, maak hom toe sonder waster en probeer weer. Hoera, daar is water!


Krom en skeef, maar die skets wys hoe ek die inkomende pyp met ‘n tuinslang aan die huis gekoppel het.

Dinsdag 19 Junie 2007

Ek meet presies die afstand tussen die twee pype. Ek koop nog een van die goeie Johnson Clamps, die slegte een het ons later teruggevat. Ek koop ook ‘n T-las en ‘n stukkie pyp met skroefdraad, net ‘n bietjie korter as die afstand tussen die twee pype.

Ek skep weer die gat leeg, probeer nou onder die pyp langs skoon grawe en die pyp onder die muur se punt minstens oopkry. Die donker vang my en ek los alles weer so, met die hartomleiding. In die garage saag ek die stukkie pyp wat ek gekoop het solank middeldeur en maak die punte mooi glad. Ek skroef die twee stukkies, met verseëlband, in die twee punte van die T-Las. Alles is reg vir die finale installasie.

Woensdag 20 Junie 2007

Ek was van plan om 16:00 van die werk af te ry, maar ‘n vergadering hou langer aan. Ek kom darem net na 5 aan die werk. Skep water uit en grawe nou mooi skoon om die pype. Ek kan duidelik sien dat die pype nie eens meer mooi in lyn is nie, soos wat die boomwortels die een opgelig het.

Ek het nie regtig iets om die moere van die Johnson Clamps mee te draai nie, my bobbejaanspanner is te ongemaklik, veral by die pyp onder die muur. Gelukkig het en van die smeermiddel vir die rubbers van die 110 mm dreinpype. Ek druk die moer en plat waster oor die pyp onder die muur en toe die rubber toe skroef ek die Johnson Clamp se pyp in die moer in terwyl ek die moer met ‘n beitel vasdruk. Ek gebruik later ‘n waterpomptang. Daarna sit ek die hele kontrepsie aanmekaar, met die T-Las in die middel en die ander Johnson Clamp aan die toevoerkant. Tenspyte van die feit dat die pype bietjie uit lyn is, kry ek dinge darem bymekaar. Nou nog net die staanpyp met kraan aanskroef met ‘n kort pypie en elmboog. Net ook die waster van die ander buitekraan weer terugsit.

Siedaar, alles werk – net R91 later. Met die boom wat feitlik op die pyp geplant is, sien ek dit as ‘n tydelike oplossing. Ek gaan nie die boom uithaal nie, maar liewer ‘n nuwe toevoerpype insit huistoe, al kos dit ‘n paar rand. Ek oorweeg reeds lankal om ‘n ekstra voer in te sit vir ons “nuwe” badkamer. Dit sou ek in elk geval moes doen, al het ‘n loodgieter vir ‘n klomp geld dieselfde gedoen as wat ek nou gedoen het. Intussen gee dit my tyd om eers met verlof te gaan.

About these ads

Responses

  1. o my hart, hou ek vas vannie lekker lag hier, lol ‘n stadsboer wat planne maak darem, dis kosbaar gekrywe ook.
    enige huis met ‘n hart kan sekerlik ‘n omleiding handle ;) – hoop die vakansie was lekker!

  2. Dit is kostelik geskryf. Wys jou net: ‘n Boer maak ‘n plan.

  3. Hehe!!!! ‘n Plan is ‘n plan??!!!!!

    Well written!!!!

  4. [...] 5:47 ‘n Maand of vyf terug bars ‘n waterpyp in my tuin en ek skryf toe die inskrywing Huis met ‘n Hartomleiding, nadat my DDS-poging ietwat skeefgeloop het. Ek kry toe die volgende kommentaar van Annelie: [...]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Kategorieë

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 47 other followers

%d bloggers like this: