Posted by: mykopop | Tuesday 3 November 2009

Die ongeloopte paadjie

Jakarandablomme op paadjie

Oor ‘n uur of twee sal die paadjie na die kafeteria by my werk seker “skoon” gevee wees…

Posted by: mykopop | Sunday 18 Oktober 2009

Mathys is nog Mathys!

Mathys Roets se konsert wat ons gisteraand bygewoon het, het ‘n bietjie rampspoedig begin.  Dit was veronderstel om om 19:00 te begin.  Omtrent 10 oor 7 het die dominee van die kerk waar dit aangebied is (NG Constantia Kruin) op die verhoog gegaan en aangekondig dat Mathys se vlug van Kimberley af vertraag is.   Soos julle weet is die paaie van die lughawe af in Gauteng ook ‘n gemors op die oomblik.  Weens ‘n donderstorm hier in Gauteng kon die vliegtuig nie betyds hier opstyg vir die vlug soontoe nie, gevolglik is die vlug van daar af ook vertraag.

Die konsert het dus omtrent ‘n uur later begin, maar die wag was die moeite werd!  Ek is nou jammer dat ek al weer nie ‘n kamera saamgevat het nie,  ek is al so gewoond aan teaters waar kamera’s streng verbode is, ek moes gedink het in ‘n kerksaal sou ek darem ‘n paar foto’s kon neem, ‘n paar ander mense het.  Die foto’s van Mathys en Mauritz hierbo is uit die Vrydag die 13de DVD.

Mathys het die konsert begin met Hello Again van Neil Diamond.  Daarna het hy een ander liedjie gesing, ek dink van Stef Kruger en toe Droomvrou van Lucas Maree.  Voor hy Droomvrou gesing het, het hy eers vertel hoe Lucas elke dag in die hospitaal vir hom kom kuier het.  Hy sê hy het gedink Lucas is darem verskriklik gaaf om elke dat van Bloemfontein af Pretoria toe te ry om vir hom te kom kuier.  Eers na omtrent ‘n week het hy agtergekom hy is in die hospitaal in Bloemfontein!

Saam met Mathys op die verhoog was Matthys Maree op klawers, Mauritz Lotz op kitaar en Rozelle Blackie (Cut Glass) het die agtergrondsang gedoen.  In die meer as ‘n uur wat ons vir die konsert gewag het, het die Afrifrans CD waarby Matthys Maree betrokke was omtrent een en ‘n half keer deurgespeel.  Dit bly puik, so as jy dit nog nie het nie en van die klank van die Franse taal hou, kry dit!

Met Mathys Roets se stem is daar gelukkig niks verkeerd nie.  Soos ek al baie gesê het, ek hou meer van liedjieskrywersangers, maar Mathys het so ‘n diep, ryk stem wat mens laat besef daar is mense wat net sanger hoef te wees. In my kommentaar op sy Vrydag die 13de DVD, het ek gekla dat hy darem so nou en dan die kitaar self kon opneem, al het hy die beste kitaarspeler in die wêreld agter hom.  Dit het hy inderdaad gisteraand gedoen, en ek moet sê, gelykstaande aan Mathys se heerlike sang is hy en Mauritz se kitaarspel saam nog ‘n ander groot lekkerte.

Hy het ‘n goeie mengsel gesing van liedjies van Leonard Cohen, Cat Stevens en Afrikaanse liedjies van sy vorige CD’s.  Hy beplan om volgende jaar ‘n CD vry te stel met damesname, soos hy gesê het, Lisa, Lisa, Suzanne, Mary, Mary en Mary!  Hy het ons dan ook ‘n voorsmakie gegeen met Sad Lisa (Cat Stevens), Lisa se Klavier,  Suzanne (Leonard Cohen) en Oh Mary van Neil Diamond se 12 Songs album.  In laasgenoemde het Rozelle Blackie nogal lekker die geleentheid gekry om ‘n duet te sing, nie net agtergrond nie – wat ‘n lieflike stem het sy nie!

Na die eerste ‘vals’ afsluiting, is die konsert in die kerk heel gepas afgesluit met Gebed van Koos du Plessis.

As jy kans kry, gaan kyk vir Mathys – jy sal nie spyt wees nie.

Posted by: mykopop | Thursday 15 Oktober 2009

Hot August Night/NYC

Net vir Neil Diamond aanhangers!  Een resensent, Stephen Thomas Erlewine, beskryf die oorspronklike Hot August Night konsert wat in 1972 in die Greet Theatre in Los Angeles hou is as “capturing all the kitsch and glitz of Neil Diamond, the showman”   Hyself is egter eers ‘n jaar later gebore en kan dus sy stelling net baseer op ander konserte wat hy op video gesien het en die klankbaan, want sover ek weet bestaan daar geen videomateriaal van daardie konsert nie.

Hot August Night - New and Old

Wat die nuwe konsert betref, ek beskou dit nie as perfek nie.  Volgens die titel probeer dit ‘n herdenking van die oorspronklike “landmark” konsert wees, maar in die eerste plek is die materiaal en die teater nie dieselfde nie.  Dan maak Diamond ook die fout wat kunstenaars dikwels maak – om ‘n konsert te gebruik om sy nuutste album bekend te stel.  Daar is ‘n hele paar liedjies van sy nuutste album, Home Before Dark, terwyl daar net een is (ook nie die beste een nie) van die vorige een, 12 Songs, wat ‘n baie groter sukses was.  Al is sy “band” vergroot van 8 destyds tot 14, kan dit net nooit dieselfde klink as met Lee Holdridge se 36 strykers destyds nie.  Ongelukkig ook, Neil Diamond was 67 to die konsert laasjaar opgeneem is, sy stem klink op party liedjies vir my net nie meer heeltemal soos ek daarvan gehou het nie.  Die energie van ‘n man van sy ouderdom is egter verstommend.

Nietemin is dit heel plesierig om te kyk, daar is heelwat wat visueel baie stimulerend is, o.a. die skuiftrompet en ander “brass” instrumente, die hemelbesem King Errison (perkussie en konga’s) en mense in die gehoor wat saam dans.  Dit is in wyedoek (16:9) formaat, dus heel lekker om te kyk op een van die nuwe platskerm TV’s of selfs ‘n rekenaarskerm op ‘n kort afstand.  Die oorspronklike konsert begin met Crunchy Granola Suite opgevolg deur Done Too Soon.  Hier word die twee eers bietjie later in die aand uitgevoer, ook net na mekaar en klink besonder baie soos die “oorspronklike”.

vlcsnap-14982954

‘n Grepie uit die DVD – Neil gee die “beat” met sy regterhand aan, die begin van Crunchy Granola.

Op die laaste liedjie Brother Love’s Traveling Salvation Show kom daar tog dalk so ietsie van Erlewine se “kitsch and glitz” deur –  terwyl Diamond wild en wakker preek, word hy so belig dat sy gryswordende hare omtrent ‘n halo vorm!

New York is natuurlik Neil Diamond se tuisstad waar hy in Brooklyn grootgeword het.  Dus is dit vir hom ‘n tuiskomskonsert en hy kry heel dikwels ‘n traan in die oog, veral met die outobiografiese Brooklyn Roads.  Die konsert word op die DVD aangevul met ‘n dokumentêr waar hy ‘n besoek aflê by die woonstel waarvan hy in die liedjie sing.  Ironies weet die meeste van die mense wat nou in die woonbuurt bly nie eens wie hy is nie.

Ek self luister al van kort na 1972 af na die oorspronklike Hot August Night en het nog altyd die begeerte gehad om daar te kon gewees het, of ten minste ‘n video van daardie konsert te sien.  Aangesien dit blykbaar nie bestaan nie, geniet ek maar hierdie een.

‘n Paar interessanthede:

  • Die woorde “Hot August Night” is die eerste woorde van die lied “Brother Love’s Traveling Salvation Show”, maar in daardie konsert het hy ‘n medley gemaak van Soolaimon en Brother Love, en direk by die “preek” van Brother Love ingespring, die woorde het dus nêrens in die konsert voorgekom nie.
  • Die “preek” sluit oorspronklik die volgende woorde in: “Brothers and Sisters / and little bitty children black and white / and rich and poor and great and small/ god’s children all god’s children sing halleluja”. In die nuwe konsert voeg hy “gay and straight” by die lysie.
  • Op die oorspronklike Hot August Night het Neil Diamond se eie orkes (“band”) uit 8 lede bestaan.  Net 2 van hulle het in hierdie herdenkingskonsert opgetree – Alan Lindgren en Reinie Press   In die nuwe konsert het hy nie minder nie as 14 musikante.  Op die oorspronklike is daar egter geen agtergrondsangers gelys nie, maar ek is seker ek hoor hulle (dames). Ek wonder of Linda Press toe al by was?.
  • Neil se orkes is tydens die oorspronklike konsert bygestaan deur 36 strykers onder leiding van Lee Holdridge.  By die nuwe orkes is net ‘n handjievol strykers.  Is dit ‘n geval dat dit te duur geword het?  (Neil sal seker nooit ryker wees as wat hy nou is nie).. Of net ‘n geval van hulle maak hulle nie meer so nie?
  • Een van daardie 36 strykers wat gelys word was Sydney Sharp.  Op een van Neil se latere albums, I’m Glad You’re Here With Me Tonight, tree The Sid Sharp Strings saam met hom op….
  • Net omtrent 11 van die oorspronklike liedjies het dit gemaak tot in die nuwe konsert.
  • Die liedjies in die oorspronklike konsert is almal deur Neil Diamond self geskryf, op die nuwe een is Love On The Rocks saam met Gilbert Becaud geskryf, Forever In Blue Jeans saam met Richard Bennett en You Don’t Bring Me Flowers saam met Alan en Marilyn Bergman.

Bestel by Kalahari.net

Posted by: mykopop | Maandag 28 September 2009

Verbrande Paradys – Hans du Plessis

verbrande-paradys-voor“Maar daar is nie ‘n storie nie!”  So het  P.G. du Plessis vir Hans gesê nadat hy al omtrent 3 jaar met die boek besig was.  Ek het gisteraand weer geluister hoe hy dit in April al op RSG se Leeskring vertel het.  Hy sê hy was so behep met die tema van die bewaring van die Vredefortkoepel dat hy nie werklik by die maak van ‘n storie uitgekom het nie.  Alhoewel hy al 5 vorige romans geskryf het, het hyself gevoel dat hy nie baie goed is met die uitdink van ‘n storie nie.  (Sy belangrikste werk tot op datum natuulik sy Griekwapsalms.)  Alhoewel hy homself aanvanklik vir P.G. vererg het, het hy tog sy raad gevolg en die boek eers vir ‘n jaar gelos, totdat hy ‘n ware storie met karakters gekry het .

In die algemeen is die boek ‘n lekker leeservaring. Tog is daar ‘n paar dingetjies wat pla.  Nou sal ek dit waag om so ‘n groot skrywer en  literator wat skryfskole aanbied aan te vat? Ja wat, dis mos hoekom ek die blok het om my kop op te sit!

My eerste klagte het niks met die skryfwerk te doen nie, maar gaan oor die kwaliteit, of liewer gebrek daaraan van die fisiese boek.  Dis absoluut ‘n slapbandboek, die papier die effense geel tipe, amper na koerantpapier se kant toe.  Ja, ek weet die dinge is duur en die bedryf sukkel om aan die gang te bly, maar as ek dit net vergelyk met ‘n ander onlangse nuwe boeke wat ook slapband is, maar met flappe wat invou en ‘n bietjie beter kwaliteit papier is daar net geen vergelyking nie.  Ek dink vir ‘n boek waaraan die skrywer 3 of 4 jaar gewerk het, sal die leser bereid wees om bietjie meer te betaal.  Hou die egte slapbandformaat maar vir die boekies wat in 6 maande geskryf word.

Wat die storie self en die karakters aanbetref is dit heel oortuigend.  Lesers moet daarop voorbereid wees dat kru taal voorkom, die karakters praat soos wat regte mense in regte situasies praat.  Dan moet ek ook waarsku dat dinge nogal grusaam raak, en dis my een klagte, daar behoort dalk ‘n waarskuwing vir sensitiewe lesers te wees.  Dis darem egter net tot dele van die boek beperk.

Soos ek gesê het, die karakters is heel oortuigend, maar hier en daar is daar tog vir my ‘n glipsie.  Ek het nie almal opgeteken nie, maar bv. op bl. 32 sê Emma: “Haar pa het gister vir haar ‘n motor gekoop.”  Nee, jammer, “motor” gaan nie vir my af by ‘n matriekdogter nie.  Dit was ‘n Citi Golf.  Sy sou gesê het “kar” of “Golf.”

Nog iets wat vir my nie realisties is nie, is die nuwe bakkie wat die skelm eiendomsagent vir die outjie gee wat maar die vorige jaar in graad 10 was en waarmee hy dan sommer gereeld dorp toe ry.  Daar is tog nie ‘n manier waarop hy al ‘n rybewys kon hê nie.  Of laat ek sê, al word daar gesê dat hy ‘n lae sosiale IK het, daar nêrens genoem word dat hy standerds moes herhaal nie.

Dan dink ek iewers het ek iets misgelees.  (Ek sal dit nou so probeer stel dat as jy nog nie die boek gelees het nie, dit nie eintlik iets sal weggee nie.)  Naby die einde van die boek, bl. 395, lees ek: “Julle weet nie hoe dit daardie jare tussen bruin en wit was nie.”  Iewers het dit my verbygegaan dat die bywoners bruin was.  Ek moes seker gedink het dat die dae van blanke bywoners soort van verby is, en die van moes seker ook ‘n klokkie gelui het.

As laaste klagte moet ek sê dat ek glad nie van die einde gehou het nie!

Iets waarvan ek wel hou, wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, is 7 besprekingsvrae vir leeskringe agter in die boek.  Dit dink ek was ‘n blink idee.

Ek het ‘n resensie of twee gelees oor die boek en dit lyk asof die resensente met my saamstem oor van die gebreke wat ek noem, maar ook daaroor dat daar heelwat leesplesier tussen die bladsye opgesluit is. Ek dink ook daar kan gerus meer in boeke ten gunste van omgewingsbewaring geskryf word, soos Prof. Hans op die Radio gesê het, dit moet net met die storie geïntegreer wees, die twee moenie langs mekaar staan nie.

Bestel Verbrande Paradys van Kalahari.net
Posted by: mykopop | Sunday 20 September 2009

Chameleon ‘n Classic!

Jammer, geen foto’s, geen lysie van liedjies gesing, nie eens ‘n handtekening op ‘n CD-omslag nie – ek het net gegaan om die konsert te geniet!  Dis nou die Klassieke Chameleon-toer waarvan ons gisteraand die laaste vertoning  in die Mosaiek Teater bygewoon het.

Kan die man sing!  Hy het nie soveel klassieke musiek gesing nie, maar wel gedemonstreer dat hy note van bas tot sopraan kan bykom.  Daar was natuurlik ‘n paar van sy Ingrid Jonker-toonsettings en ook van die ander liedjies uit 7de Laan.  ‘n Liedjie van hom wat ek onlangs op die radio leer ken het, Eiland, was ook daar.  Ek wil so go moontlik die CD met die liedjie op in die hande kry.

Hy is ook ‘n grapjas, ek het opgemerk dat die musikante in die orkes, wat die hele toer met hom meegemaak het, steeds omtrent gelê het soos hulle lag.  Van die grappies oor die sogenaamde Nederlandse “valse vriende” was dalk ‘n bietjie voorspelbaar.  Een ander dingetjie wat dalk bietjie hinderlik was, was dat hy ‘n paar keer aan die klankman geneul het om hom meer van homself en minder van die orkes te gee.

Ek het op RSG gehoor een vertoning was saam met die dolfyne in Durban, ek sou dit natuurlik graagter wou sien as die een in Roodepoort.  Daar is ‘n ander mooi storie op RSG vertel, die vorige Saterdag was daar ‘n gesprek met ‘n dame wat blind is, ek dink amper sy het kaartjies vir die vertoning gewen.  Iemand het iets gesê oor Chris Chameleon se nekare wat bult as hy sing en sy wou graag aan hom raak.  Gisteroggend het sy toe weer kans gekry om te praat en vertel dat sy toe die kans gekry het om hom te ontmoet.  Sy het haar hande op sy skouers sit, maar wou nie aan sy gesig raak nie, sy voel dis iemand se persoonlike ruimte.

Die orkes het uit 7 lede bestaan waarvan net een vir my bekend was, ek kan ook nie almal se name onthou nie, maar dit het min of mees so daaruit gesien:  Dromme en perkussie (Riaan van Rensburg), Bas (‘n ou van die orkes Joos Tonteldoos & die dwarstrekkers uit die 90’s, Tjello, Viool (Adrie), Kitaar, Fluit (Kellerman of so iets), Keyboard en Trekklavier (Melissa).

Behalwe dat Chris kan sing en grappies maak, preek hy ook sommer ‘n bietjie.  Hy het iets gesê van as mens 3 uur in die môre wakker word en nie kan slaap nie, en van ‘n apie in mens se kop wat nie wil stil word nie, die dink ek kom van die Boeddhiste.  Hy het ook gesê mens moenie bang wees om ‘n aap van jouself te maak nie.  Ek dink dis dalk deel van sy sleutel tot sukses:  as die liedjie wat jy skryf net nie reg wil klink nie, sing hom harder!

Older Posts »

Kategorië