Posted by: mykopop | Woensdag 4 Januarie 2012

Die VVV-Hondebakkies

Ek kon nie by die troeteldierwinkel papbakkies kry wat net reg is vir die 9 klein hondjies nie.  Toe loop ek by ‘n supermark raak:  plastiekglasies en… frisbee’s! Die glasie is met ‘n enkele ‘chipboard’-skroefie aan die bak, uhum frisbee vas, om te verhoed dat die hondjies heel in die bak klim.  Die plastiekpootjies is die hoekies waarmee mens gewoonlik rakke vassit. Dit sukkel maar om elkeen te laat verstaan waar hy moet eet!  Miskien sal dit beter gaan as ek die derde VVV klaarmaak sodat daar net drie hondjies per bak is.

Posted by: mykopop | Sunday 1 Januarie 2012

Die suur en die soet van 2011

Ja, ek weet, die eerste dag van 2012 is al daarmee heen, maar ek het nog nie behoorlik tyd gekry om oor 2011 te besin nie.

Ek sal 2011 onthou as ‘n jaar waarin dit maar swaar by die werk gegaan het. Vroeg in die jaar het die Minister van Kommunikasie aangekondig dat Suid-Afrika die nuwe DVB-T2 standaard vir digitale TV gaan gebruik, nie die DVB-T standaard wat ons al so 3 jaar of meer besig is om te implementeer nie. ‘n Klomp werk moet nou oorgedoen word, met ‘n tegniese standaard wat baie meer gevorderd en dus ook baie ingewikkelder is.

By die huis het ek ‘n paar dinge aangepak, o.a. het ek ‘n songeiser laat installeer, wat toe op die ou end ‘n klomp werk van my kant geverg het om dit redelik te laat werk. Daarna het ek die volgende ding aangepak – ek het ‘n ouerige karavaan gekoop. Maar so maak mens weer werk vir jouself. Ek moes toe ‘n skadunet-afdak verskuif om die karavaan darem uit die aanslae die hael en son te kry. Darem een projek wat wel baie tyd en gesukkel gevat het, maar suksesvol afgehandel is. Maar van die werk aan die karavaan het nog bitter min gekom.

Ek het ook besluit om my ou voertuig te laat aftree en iets nuwer te kry. Dit het ook bietjie fyn voetwerk gekos, want ek kry toe my “nuwe” kar voordat ek die ou een verkoop het. Aangesien my ou ryding 14 jaar oud was, wou die handelaars my nie veel aanbied op ‘n inruiling nie. Ek moes toe elke bietjie krediet waarop ek my hande kon lê trek om die 2008-model kontant myne te maak. Na ‘n bietjie herstelwerk aan die ou kar het ek toe redelik gou ‘n koper gekry. Dit was nogal senutergend om die voertuig en registrasiesertifikaat aan ‘n wildvreemde te moet oorhandig, maar die oplossing was om hom die kontant voor my oë by my eie bank op my rekening te laat inbetaal. Toe kon ek die kredietkaart en alles weer aflos. Ek het my “nuwe” tweedehandse kar nou so amper 2 maande en nog geen probleme daarmee gehad nie. Teen helfte van die prys van ‘n nuwe, en vir die ou een het ek amper dubbel die bedrag gekry wat een van die handelaars my wou aanbied. Nie sleg nie!

Tog voel ek nie so positief oor 2011 nie. Dis net asof al die dinge wat ek moet doen, al die instandhouding aan die huis ens. besig is om minder en minder georganiseer te raak. Maar nou ja, dis waarvoor 2012 daar is.

Die laaste ding wat ek in 2011 begin het was darem baie positief. Ons het lewe tot stand sien kom! In September 2009 is ons hond, Sebastian skielik dood. Ons het toe besluit om twee Rhodesiese Rifrue te kry. Reeds twee keer het ons die twee op kritieke tye vir ‘n paar weke op ‘n keer weg van mekaar gehou. Toe sien ons vroeg in Oktober, hier kom nou weer ‘n ding, en die tefie (Maxi) was nou oud genoeg.  Ons het toe die besluit geneem: Ons gaan nie in Desember 2011 met vakansie nie, ons gaan hondjies grootmaak! Hier is die resultaat, daar is 9 van die oorspronklike 12 oor, en hulle is môre 3 weke oud!

Dit was vandag die 9-tjies se eerste uitstappie uit hulle beskutte ‘den’ in die Wendy-huisie.  Ook die eerste keer wat hulle van ‘n afstand vir hulle pa Dexter gewys is. En toe ontaard dit sommer in ‘n piekniek vir hulle! Gelukkig het Mamma Maxi iets te drinke saamgebring. 

Dit, dink ek was beslis die beste ding van 2011!  Jammer daar gaan oor so 5 weke van nou af lang trane gehuil word!

Ek het vanmôre my vriende op Facebook ‘n voorspoedige jaar toegewens en my Nuwejaarsvoornemens bekend gemaak. Dieselfde aan julle:

Mag jy in 2012 alles insit wat jy kan, en baie meer uitkry as wat jy insit. Mag dinge eenvoudig wees eerder as ingewikkeld. Mag die vrae maklik wees en die antwoorde voor die hand liggend, selfs so dat dit jou verveel!

Wat Nuwejaarsvoornemens aanbetref het ek besluit om dit maklik te hou. Die belangrikste ding is om 12 salaristjeks huis toe te bring, as ek enigiets meer kan doen om my passies uit te leef is dit ‘n bonus!  

Posted by: mykopop | Tuesday 25 Oktober 2011

Ryk en Lekker!

Ek het gou in etenstyd weggeglip Hyperama toe.  Die hoofrede was om kaartjies te kry vir Coenie de Villiers en Amanda Strydom se vertoning, so middel November in die Atterbury-teater.  Die dametjie agter die toonbank het gesukkel om te verstaan as ek sê soek vir Coenie.  Tot ek agtergekom het hoe sy dit probeer spel!  Nou het ek amptelik quartjies vir Qunie!

Die ander rede vir my uittog was gemaalde koffie, vir my filtermasjien in my kantoor en vir die keteltjie by die huis.  Terwyl ek staan en koffie uitsoek was daar ‘n ongewone paar in dieselfde gangetjie.  As daar nou nog rasseklassifikasie was sou ek sê hy was blank en sy kleurling.  Maar gelukkig is daar darem mos nie, of hoe, volgens wet 114 van 1991?

Nietemin, albei is middeljarig of ouer, hy kom agteraan met die trollie, sy loop voor, soek en gee orders.  Te oordeel aan die inhoud van die trollie dink ek hulle bedryf ‘n klein winkeltjie iewers waarvoor hulle voorraad aan’t koop was.  Daar is mos nie regtig groothandel-kruidenierswinkels nie, vir plekke soos Makro en Trade Centre wat sê ons kan nog die die ou kaart gebruik want hulle is nog “Trading as Trade Centre” het ons mos almal kaarte, maar die pryse is net soos in die hipermarkte.

Hy het begin pakke Cremora inlaai en vir haar gevra hoeveel.  “Twintig”, antwoord sy.  “Twenty?”, vra hy. “Ja twintig”, bevestig sy,  “ek loop solank om te gaan kyk na…”

Sjoe.  Twintig pakke Cremora!  Dis nou wat ek noem koffiekapitaal!

Posted by: mykopop | Maandag 24 Oktober 2011

Webb Ellis mis ‘n tikkie romantiek

Die van julle wat my al beter ken sal weet ek is nie juis ‘n wafferse sport-entoesias nie, maar ek herken darem ‘n groot oomblik in die geskiedenis as ek hom sien verbykom.

Hierdie jaar het my geesdrif maar gou verdamp toe die Bokke se geluk opgeraak het, terwyl mense wat iets van rugby weet my vertel het ons het teen ‘n skeidsregter verloor.  Dit terwyl my eie common sense my darem ook vertel het die Bokke sou dit in elk geval nie veel verder gemaak het nie.

Heeltemal anders as met die vorige wêreldbeker in 2007, ook die jaar wat ek hierdie blog begin het,  toe ek die Springbokke wedstryd vir wedstryd gevolg het tot die einde.  Toe die groot oomblik aanbreek en die beker ons s’n was, het ek iets spesiaals raakgesien en gelukkig was ek op daardie oomblik besig om ‘n video van die wedstryd op te neem.  Uit daardie video het ek ‘n paar foto’s gesny wat wys hoe die Web Ellis-beker deur ‘n vakman met die hand gegraveer word, en ‘n spesiale blog-inskrywing daarvan gemaak – “Suid-Afrika” gegraveer in rugbygeskiedenis.

Gister het dit egter vir my gelyk of die beker sommer met ‘n soort van elektroniese pen gegraveer is.  Mens weet natuurlik nie wat die protokol en praktiese oorwegings was nie, bv. is die plek op die beker besig om op te raak, was daar niemand in die land wat dit behoorlik kon doen nie en dalk te duur om iemand uit Europa in te vlieg?  Maar as tradisie so maklik oorboord gegooi word, wie wil so ‘n beker nog wen?

Posted by: mykopop | Thursday 29 September 2011

1 + 1 = ?

Vanoggend terwyl ek ontbyt gehad het, was daar twee dinge in die nuus:

  • Julius Malema se gewildheid in die stede het glo gedaal.
  • Volgens Generaal Bheki Cele het misdaad verskuif van die stede na die platteland.

Het ek reg gehoor, of hoe het ek dit nou?

Older Posts »

Kategorië

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 31 other followers